Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is tye wanneer stilte die hardste praat – maak jou mond oop net as jy seker is dit wat jy gaan sê het meer waarde as die stilte.
KINDERS IN DIE BYBEL (4)
JAKOB
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
JAKOB moes seker ’n slim kind gewees het, ’n intelligente seun.
Hy was natuurlik ’n doodgewone, alledaagse mens. Stil en ingetoë. Hy het nie daardie ontembare energie en lewenslus van sy broer Esau gehad nie. Hy was nie die een wat daar in die veld koes-koes ’n wildsbok kon bekruip, of vir ure loop op die spoor van ’n gewonde bok of ’n swaar gewonde bok van agter inhardloop nie.
Esau was die atletiese tipe, die gespierde kind, die man van die veld.
Jakob was die kind in die huis, rustig, stil en bedaard. Tog het daar agter daardie stilheid en bedaardheid ’n goeie verstand geskuil. Hy kon vooruit dink. Hy kon dinge vooruit beplan en bereken.
Hy wou graag die eerste wees, maar dan deur sy verstand en nie deur sy spiere en brute krag soos Esau nie. Ons sien dit ook al by die geboorte van die twee kinders. Jakob se naam beteken eintlik hakskeenhouer. By hulle geboorte hou Jakob Esau se hakskeen met sy klein handjie vas. Hy wil Esau terughou.
So groei die kinders op. Met Esau was daar seker nie huis te hou nie. Altyd vol energie en lewenslus daar buite in die veld.
Maar Jakob is hier in die huis by Rebekka. Hierdie kind het sy baie lief want sy het seker steeds in gedagte gehou wat die Here aan haar gesê het voor die geboorte van die twee kinders. Die oudste sal die jongste dien.
Hier by ma in die tent bring Jakob sy jeugjare deur. Hier leer hy van God en sy beloftes. Hier hoor hy seker ook van die feit dat die oudste die jongste sal dien en dat hy eendag die eersgeboortereg sal kry. Stil en rustig verloop die lewe daar in die tente.
Totdat daar op ’n dag iets gebeur.
Jakob maak ’n kooksel rooi lensies klaar. Esau kom vermoeid en honger terug van die jag. Hy is moeg en honger en daardie lensies lyk so aanloklik en begeerlik.
"Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg.”
Jakob sien meteens die geleentheid soos ’n groot gaping voor hom lê. Hy kan Esau se eersgeboortereg nou in die hande kry. Hy is ’n man wat vooruit kan dink en beplan. As hy hierdie eersgeboortereg van Esau in die hande kan kry, kry hy ’n dubbele erfporsie van sy vader Isak. Dit kan aan hom ’n stewige stoot vorentoe gee.
Die Jakob is ’n regte sakeman. Hy bereken sy winste vooruit. Hier kan hy meer as honderd persent wins maak.
Rebekka het aan hom vertel van die eersgeboortereg. Dit is tog syne en dit kom hom tog toe. Eendag sal hy dit kry. Maar hoekom moet hy so lank daarvoor wag? Buitendien het vader Isak vir Esau baie ief, en as hy nie nou sorg dat hy dit in die hande kry nie, gaan Esau dit tog kry.
Jakob het skoon van die Here en sy belofte vergeet. Hy het heeltemal vergeet wat die Here aan Rebekka gesê het. Hy het nie met die Here rekening gehou en met die feit dat die Here sy beloftes sal nakom nie. Hy het net aan sy eie belange gedink.
Dit kan natuurlik so maklik gebeur.
In die beplanning van ons toekoms kan ons die Here heeltemal vergeet. Ons kan sulke mooi en sulke pragtige planne hê. Maar ons kan vergeet om aan die Here te vra om aan ons lig en leiding te gee. Ons kan dan ook net aan ons eie belange dink.
Daarom sien Jakob hier ’n pragtige geleentheid. As Jakob wel die Here in gedagte gehou het, het hy miskien gedink dat hy nie kan wag totdat die Here eendag sy beloftes wil nakom nie. God is te langsaam. Hy wil daardie eersgeboortereg nou hê.
Oorhaastigheid kan ook ’n sonde wees. Later in sy lewe het hierdie karaktertrek van Jakob teruggekom toe hy nie langer by Laban wou bly nie.
Haastigheid en ongeduldigheid is natuurlik ook een van die karaktertrekke van die jeug en van jonk wees. Die bloed pols deur die are. Alles wat gedoen moet word, moet nou gedoen word. Die proses van grootmenswording moet nou daar wees. Daarom mag daar nie gesag wees nie. Alles moet nou en haastig geskied. Die jeug dons soms in ’n ding in sonder om twee keer daaroor na te dink.
Jakob het ook nie gedink aan wat hy doen nie. Met bedrog het hy van die swakheid van sy broer Esau gebruik gemaak om sy eie belange te bevorder.
Eeue later gee Christus ’n ander gebod. Nie jou eie belange nie, maar die belange van jou naaste.
"Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.” Want as ek net my eie belange bevorder en nie vir my naaste omgee nie, ontbreek daar by my die liefde. Daarom moet ek soveel as moontlik op die voordeel van my naaste bedag wees. By my moet nie geld wat ek uit my naaste kan kry nie. Dit is selfsug. Maar wat moet geld, is: Hoe kan ek my naaste tot diens wees?
Die suiwerste maatstaf van my doen en handel teenoor my naaste moet wees: Hoe sal ek graag wil hê dat hy of sy my moet behandel?
Ek moet my naaste liefhê soos ek myself liefhet.