Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Meeste mense sit en wag dat iets goed met hulle moet gebeur sodat hulle die vreugde daaruit kan punt. Opregte vreugde is nie dinge wat met jou gebeur nie. Dit is die lig wat jý laat val op die dinge wat met jou gebeur. Jy kan alle dinge in 'n misrabele lig sien, maar jy kan aan alle gebeure 'n positiewe rigting gee. As jy 'n blymoedige mens is, laat val jy 'n vrolike vreugdevolle lig op jou lewensomstandighede. En dan vind jy vreugde waar ander mense nog maar net smart ervaar – dan kan jy lag terwyl ander huil. En die vertrekpunt vir ware blydskap is om met die Here in as te kom.
KINDERS IN DIE BYBEL (2)
ISMAEL
Ds. Tjaart Kruger
Lees reeks by Kinders in die Bybel
DIE naam Ismael beteken: "Die Here hoor.” Toe Hagar van Sara weggevlug het, verskyn die Here in die woestyn aan haar. Daar sê Hy aan haar dat sy haar seun Ismael moet noem. Terselfdertyd sê die Here ook aan haar watter soort mens Ismael sal wees. Hy sal ’n wilde esel van ’n mens wees. Sy hand sal teen almal wees en almal se hand sal teen hom wees. Hy sal woon waar elkeen hom sal kan sien. Hy sal ’n vrye en ongebonde swerwerslewe lei net soos die wilde esel wat deur die vlaktes swerf en nie getem kan word nie en hom ook nie laat tem nie.
Toe Ismael gebore is, was Abraham ongeveer 86 jaar oud. Ismael was ongeveer veertien of vyftien jaar oud toe Isak gebore is. Hy was dus al ’n redelike groot seun.
Op die dag toe Isak gespeen is, het Abraham ’n feesmaaltyd gehou. Isak was toe ongeveer twee of drie jaar oud terwyl Ismael so sewentien was. Ismael neem ook deel aan die maaltyd en daar bespot hy die kleine Isak. Hoe hy dit presies gedoen het, word nie aan ons vertel nie, maar dit kos seker nie baie verbeeldingskrag om vir jouself in te dink hoe hy dit gedoen het nie. Heelwaarskynlik het hy vir Isak geterg soos alleen ’n sewentienjarige seun dit maar kon doen. Miskien het hy hom allerhande bespotlike name toegevoeg of ’n bynaam aan hom gegee wat hom bespotlik gemaak het.
Ismael het Isak natuurlik nie sommer net bespot omdat hy graag ’n bietjie "sports” wou maak nie. Ismael het ’n definitiewe rede gehad met sy bespotting van Isak. Hy het Isak gespot uit afguns en jaloesie. Hy was jaloers op Isak want Isak was die seun van die belofte. Voor Isak se geboorte was hy die enigste kind in die huis. Maar na Isak se geboorte moes hy tweede viool speel want alhoewel hy Abraham se eie kind was, was sy ma ’n slavin. Toe het hy ook nog die geleentheid gehad om Abraham se enigste erfgenaam te word. Toe Isak gebore is, het die posisie heeltemal verander. Hagar het hom heelwaarskynlik vertel dat Isak alles gaan erf die dag as Abraham nie meer daar is nie en dat hy baie min of niks sal kry nie. Toe hy dit besef het, kon hy Isak nie verdra nie. Daarom bring hy sy haat en teleurstelling ook tot uiting deur te spot.
Spot is seker een van die sterkste wapens wat die mens kan gebruik om ander te verkleineer. Veral kinders kan spot soms tot ’n fyn kuns ontwikkel. Hulle kan aan ander en hulle onderwysers byname gee en daarin hulle minagting tot uiting bring. Hulle kan soms lelik en gruwelik spot met die gebreke van ander.
In die spot van Ismael sien ons dat hy hom verset teen God se belofte. Hy is nie tevrede met die plek wat die Here aan hom in die huis van Abraham gegee het nie. Hy is nie bereid om die tweede plek naas Isak in te neem nie. Hy wil Isak uit sy plek dwing en hy wil self Isak se plek inneem.
Wanneer Sara sien dat Ismael vir Isak bespot, kan sy dit nie verdra nie. Abraham word versoek om Hagar en Ismael weg te stuur. In die spot sien sy ’n teken van die houding van Ismael. Hy sal Isak vervolg omdat Isak die seun van die belofte is. Juis daarteen wil sy vir Isak beskerm.
Aanvanklik wou Abraham nie vir Ismael wegstuur nie omdat Ismael ook sy seun is en hy hom ook liefhet. Maar dan sê die Here aan Abraham dat hy vir Ismael en Hagar moet wegstuur. Vir Abraham is dit ook weer ’n sware beproewing want hy doen dit nie graag nie. Die Here gee egter aan hom die belofte dat ook Ismael ’n groot volk sal word. Daarop gee Abraham aan Hagar en Ismael ’n brood en ’n sak met water en stuur hulle die woestyn in.
Hagar gaan nie soos die eerste keer toe sy gevlug het na Egipte nie, maar hulle swerf in die woestyn rond. Na ’n tydjie raak die brood en water gedaan. Dan wil hulle omkom van die dors. Maar die Here open Hagar se oë sodat sy ’n put raaksien. In die woestyn is waterputte dikwels met ’n plat klip bedek en dan is daar sand oor gestrooi. Daarom is dit verstaanbaar dat Hagar nie dadelik die put raakgesien het nie.
Ismael het hom daar in die woestyn gevestig waar hy ’n boogskutter geword het. Hy was dus ’n man wat geleef het van stryd en van roof. Sy nageslag was die Arabiere wat die Islamitiese geloof aanvaar het en dit ’n tyd lank met die swaard oor die wêreld probeer verbrei het.
Wat is die verband tussen Isak en Ismael? Hoekom twee seuns?
As ons dit wil weet, moet ons Galasiers 4 : 20 - 31 lees. Hier stel Paulus vir Isak en Ismael naas mekaar. Ismael is uit ’n slavin gebore. Hy is die bewys van die feit dat Abraham en Sara nie God se beloftes wou glo nie. Hy is dus uit die vlees gebore. Isak aan die anderkant is uit die gees gebore. Hy is die bewys dat God wel sy beloftes nakom. Maar Ismael vervolg vir Isak. So staan vlees en gees, kerk en wêreld, wet en genade naas mekaar en worstel met mekaar. Want in Christus se tyd sou die Fariseërs kom en sê dat jy deur die onderhouding van die wet voor God geregverdig word terwyl alles van God se kant tog net genade is. Nie die wet nie maar die bloed van Jesus Christus alleen red.
Ismael is die beeld van hulle wat meen dat hulle deur die vervulling van die wet die saligheid kan verkry. As jy alles wat die Here in sy wet beveel nakom, is God verplig om aan jou die ewige lewe te gee. Ismael is ook die beeld van hulle wat die gelowiges vervolg. Isak is die beeld van die kinders van God wat weet dat hulle alleen uit genade salig kan word. Daarom moet die gelowiges hulleself vrymaak van die wet en slegs uit genade leef. Die vrymaking van die wet word ook afgebeeld deur die verdrywing van Hagar en Ismael uit Sara se tent.
Hierdie teenstelling vind ons vandag nog tussen die Mohammedanisme en die Christendom. Die Mohammedanisme is ’n wettiese godsdiens. Soveel keer per dag moet jy bid met jou gesig na Mekka. Verder is daar allerhande voorskrifte wat getrou nagekom moet word. By die Mohammedanisme word jy salig deur dit wat jy doen. By die Christendom word ’n mens salig deur die geloof alleen, die geloof in die soenbloed van Jesus Christus.