DIE "GOD IS DOOD!" -SLAGSPREUK

Dr JP Botha

In die jare sestig het hierdie slagspreuk deur die wêreld geklink, aangehef deur teoloë, “godgeleerdes”!  Hierdie teoloë sê die moderne lewensgevoel staan lynreg teenoor die tradisionele Christendom.  Die beweging is meer filosofie as teologie.  Dit staan krities en negatief teenoor die gangbare gestalte van die Christendom.  Dit wil in elke opsig “radikaal” wees, maar is as geheel dikwels inkonsekwent, verward, fragmentaries, eksperimenteel en onsistematies.

Die voorstanders van hierdie beweging aanvaar dat slegs dit wat bewys kan word, ter sake en sinvol is. Dit lei tot verset teen enige buitewêreldse werklikheid, soos God en die hemel, en ook teen die dinge wat tot die verlede of geskiedenis behoort, soos die Bybel, belydenisskrifte, ens.

Hulle hooftema is dan dat God dood is.  Watter God?  Eerstens die gode wat ons self gemaak het, soos dié van die filosofie, dié wat ons slegs in tye van nood aanroep, gode wat ons goed ken en kan hanteer omdat hulle ons eie maaksels is.  Hiermee kan ons nog saamstem, maar gladnie verder met hulle bewering dat God dood is nie.  Hulle sê in ons tyd het God oorbodig geword en godsdiens ‘n onnodige luukse.  Die persoonlike lewende God is glo ‘n fiksie.

  Dit gaan nie hier om ‘n afwesigheid van die ervaring van God nie, maar om ‘n ervaring van die afwesigheid van God.  Hulle beweer dat oor God geen uitspraak gedoen kan word nie, want God val nie binne ons ervaringsveld nie en kan dus nie wetenskaplik bewys word nie.  Ons kan so ’n God, as Hy bestaan het, sê hulle, nie ken nie en daarom ook nie liefhê, aanbid of in Hom glo nie.  Dit het alles ook te make met die menslike vryheid, wat na bewering slegs ware vryheid is wanneer die mens ook vry is van elke God bo, onder en in homself.

Die grap is dat hierdie teoloë hulself  “Christene” noem.  Omdat God dan dood sou wees, verwerp hulle Hom, maar hulle wil vir Jesus behou!  Dit is dus ‘n  “Christus-gesentreerde ateïsme”.  Die Jesus van wie hulle praat kan nie dieselfde wees as die Christus van die Skrif wat één met die Vader is nie.  Hulle Jesus is vir ons onbekend.  Jesus van die Skrif is vir hierdie mense nie radikaal genoeg nie en daarom moet ons self Jesus word vir ons naaste.  God ontledig Homself volkome in Christus, maar hierdie ontlediging het die karakter van ‘n selfontkenning:  In Christus betree God die wêreld maar sterf dan finaal in Hom.  So bewys die dood van Christus dan die kragteloosheid van God. God is nie, maar gebeur in Christus.  Dit beteken nou ook dat die gebeure in die evangelie nie langer onmisbaar is nie.  Die opstanding is bv. nie ‘n werklike gebeurtenis nie, maar is vir ons ‘n onbekende (!) gebeure, waardeur die dissipels op een of ander wyse vry word, nuwe mense word en ook vir ons ‘n nuwe vryheid open.  Hulle sê Jesus is ‘n blote mens en is dus vervangbaar. As Hy absoluut was, dan was Hy  God, maar dis tog onmoontlik, want God is dood.

Hulle sê dus Jesus en die Skrif kan nie vir ons finale antwoorde gee nie.  Die Bybel behoort glo tot ‘n ouderwetse en onsinnige tyd en voorstellingswêreld.  Daar is nie soiets as ‘n direkte en afgehandelde openbaring van God nie. Daarom het die Skrif geen finale antwoorde nie.  Die Skrif kan slegs suggesties gee, soos bv. om jou naaste lief te hê.  Sake soos die wederkoms en die oordeel moet nie letterlik verstaan word nie sê hulle, maar is net bedoel om ons aan te spoor tot naasteliefde.

Hulle staan ook krities teenoor die kerk.  Hulle sê die moderne teoloog moenie kerk toe gaan nie. Hy moet buite die kerk staan, want dit het vir hom onmoontlik geword om die Bybel te lees, die Woord te verkondig of Sakramente te gebruik.  Die enigste doel van die sending is nie om mense Christene te maak nie, maar slegs om naasteliefde te beoefen.  Oor die Heilige Gees word nooit gepraat nie.

So ver kan die Satan met ‘n “teologie” gaan, wanneer God en sy openbaring nie meer biddend en gelowig aanvaar word nie.