Hannes Ollewagen
Jes. 41:8-20
“Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie, want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun Ek jou met my reddende regterhand. Want Ek, die HERE jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou. Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ék help jou, spreek die HERE, en jou Losser is die Heilige van Israel.” (:10, 13 & 14).
Hierdie gedeelte uit die Woord van God bring nie alleen vir ons berusting deur die troosvolle boodskap nie. Dit herinner ons ook waar ons fokus in die lewe behoort te wees. Ons kan maklik die mens die hoosaak in hierdie gedeelte probeer maak. Dit sou egter die diepe en ryke betekenis hierin laat verlore raak.
Die belangrikheid van die mens is beslis nie veronderstel om die sentrale punt van hierdie gedeelte te wees nie. Dit is veral uit verse 13 & 14 duidelik waar die klem gedurig op die hulp van God geplaas word. Sy volk kan gerus wees in hul nood – nie omdat hulle geen teëspoed of gevaar ooit sal teëkom nie en ook nie omdat hulle oor genoegsame vermoë en krag beskik om hul probleme self te bowe te kom nie. Nee, die volk van God kan in hul nood gerus wees omdat God hul helper is. Hierin lê hulle troos en berusting – hul Helper is die barmhartige, genadige, getroue en Almagtige God.
God se kinders is nie van teëspoed, gevaar en probleme gevrywaar nie. Die teologiese gedagtes dat God se kinders net op voorspoed en seën geregtig is, is vals. Dink maar aan die vele probleme waarmee Moses, die man van God, moes worstel. En dink gerus aan Dawid wat ’n man na aan God se hart was, maar tog vir ’n baie lang tyd vir die behoud van sy lewe moes vlug. Ons praat dan nie eens van Job, Jeremia, Elía, Daniël en sy drie vriende asook Paulus en soveel ander nie. Die lewe van Christus was ook in hierdie verband vir ons ’n duidelike voorbeeld – selfs die geliefde Seun van God moes beproewing, swaarkry en leed verduur.
Die belangrike is wel dat ’n gelowige in tye van nood en beproewing berusting kan vind dat hulle nie op hulself in hul nood aangewese is nie. Daarbenewens is daar géén situasie wat totaal verlore is nie aangesien daar géén situasie bestaan wat God nie kan verander nie. En dit is juis waarop Hy ook in Jesaja 41 weer opnuut ons aandag vestig – onthou Wie jou God is! Jou God is die Heilige van Israel. Hy is die Almagtige – daar is by Hom géén ding onmoontlik nie. Daar is geen situasie waarvan daar gesê kan word dat Hy beheer daaroor verloor het nie. Daar is geen situasie waarvan daar gesê kan word dat Hy dit nie kan verander nie. Dink maar aan Lasarus wat nie alleen dood nie,maar alreeds begrawe was. En God bewys hierdeur juis dat géén situasie vir Hom onomkeerbaar of onmoontlik is nie. “En toe sê Jesus vir hulle ronduit: Lasarus is dood. En Ek is bly om julle ontwil dat Ek nie daar was nie, sodat julle kan glo. Maar laat ons na hom toe gaan.” (Joh. 11:14&15). En ook Christus wat self in die graf neergelê was na sy dood aan die vloekhout, deur God die Vader opgewek is.
Het God Homself nie ook al op besondere wyse in hierdie verband aan ons volk betoon nie? Dink aan die baie bekende wonder van Bloedrivier waar ’n klein groepe weerbare mans van 464 nie alleen die barbaarse horde van ongeveer 16 000 krygers verslaan het nie, maar nie ’n enkele lewensverlies gely het nie. En die wonder van Vegkop waar ’n klein groepie van ongeveer 33 weerbare manne ook die bloeddorstige menigte afgeweer het. As hierdie mense se oë en harte nie in vaste geloofsvertroue op God gerig was nie, was hulle ongetwyfeld in hierdie krisistye oorweldig. Maar met die oog van geloof op Hom gerig, het hulle die verlossing aanskou wat die HERE alleen kon bewerk. Hulle kon ook soos Moses die uitkoms sien waar die menigte net ’n hopelose situasie kon sien. “Toe Farao naby kom, slaan die kinders van Israel hulle oë op, en kyk, daar trek die Egiptenaars agter hulle aan: en hulle het baie bang geword. Daarop het die kinders van Israel tot die HERE geroep. En hulle het vir Moses gesê: Het u, omdat daar in Egipte glad geen grafte is nie, ons saamgeneem om in die woestyn te sterwe? Wat het u ons nou aangedoen, dat u ons uit Egipteland uitgelei het? Is dít nie die woord wat ons aan u in Egipte gesê het nie: Laat ons met rus, dat ons die Egiptenaars kan dien? Want dit is beter vir ons om die Egiptenaars te dien as om in die woestyn te sterwe. Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” (Ex. 14:10-14). Vestig Moses nie hier ook sy volk se oë op wie hulle God is eerder as die omstandighede en bedreiging wat hulle in die gesig staar nie?
Hoe nodig is dit nie ook vir ons volk om vandag weer hierdie waarheid te onthou van wie ons God is nie? Dit is nie die eerste maal dat ons voor groot probleme en teëspoed in ons volksbestaan te staan kom nie. Dit is ook nie nodig om nuwe, ander meer innoverende oplossings vir ons probleme te vind nie. Tewens, dit is hierdie oënskynlike “slim oplossings” en valse vertroue op menslike hulp wat ons huidige situasie vererger eerder as dat dit vir ons enige uitkoms bring. Ons het nie “nuwe oplossings” nodig nie, ons moet eenvoudig na die ou gebaande weë en waarheid terugkeer. Ons moet opnuut onthou wie ons God is. En ons moet, eerder as na ons eie oplossings, in opregtheid na Hóm soek.
“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” (Spr. 3:5).