DIEN DIE HERE MET BLYDSKAP

Hannes Ollewagen

Ps. 100:1-5

“Dien die HERE met blydskap; kom voor sy aangesig met gejubel.” (:2).

Dien die HERE met blydskap. Hierdie voorskrif behels veel meer as net ’n bietjie vrolikheid. Wanneer ons hierdie saak in die Woord van die HERE ondersoek, vind ons dat hierdie blydskap waarmee ons die HERE moet dien ons toewyding vra. Dit vereis dat die HERE vir ons werklik ’n prioriteit moet wees en dat ’n gesonde verhouding met Hom en opregte liefde vir Hom tot gevolg sal hê dat ons vreugde uit ons diensbaarheid aan Hom put. Ons diens aan Hom behoort vir ons nie ’n moeite te wees nie, maar ’n voorreg en ’n vreugde.

Luister na die woorde uit Matt. 11:44. “VERDER is die koninkryk van die hemele soos ’n skat wat verborge is in die saailand, wat ’n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. “Die man wat hierdie kosbare skat vind, is nie vir ’n wyle hieroor opgeruimd en gaan dan maar voort met sy lewe soos vantevore nie. Die blydskap van die man wat hierdie besondere en kosbare skat vind is só groot dat hy bereid is om alles wat hy anders het te verkoop om hierdie skat te bekom en te behou.  Hierdie opoffering van sy besittings wat hy moet verkoop maak hom nie bedroef nie omdat die blydskap oor die kosbare skat wat hy gevind het soveel groter is as dit wat hy prysgee. Dit laat ons dink aan Saggéüs. Hy het Christus ook met blydskap in sy huis (en lewe) ontvang. “En toe Jesus by die plek kom, kyk Hy op en sien hom en sê vir hom: Saggéüs, maak gou en klim af, want Ek moet vandag in jou huis bly. Hy maak toe gou en klim af en het Hom met blydskap ontvang.” (Luk. 19:5&6). En die kosbare geskenk van God se vergifnis het hom só diep geraak dat hy met toewyding en blydskap tot opoffering bereid was. “Maar Saggéüs het gaan staan en aan die Here gesê: Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug.” (Luk. 19:8).

En teenoor Saggéüs dink ons aan die ryk jongman waarvan ons in Matt. 19 lees. Hierdie man het God nie met blydskap gedien nie en die gedagte van opoffering van sy stoflike besittings was vir hom so erg dat hy eerder met droefheid sy rug op Hom gedraai het. “Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My. Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.” (Matt. 19:21&22). Hierdie ryk jongman sou eerder sy blydskap in sy aardse besittings probeer vind en het as gevolg daarvan sy blydskap in die HERE waarskynlik nooit gevind nie.

Waar ons in Lukas 19 van Jesus se intog in Jerusalem lees, sien ons ook ’n interessante verskynsel. Die skare wat al sy wonderdade aanskou het en Hom met toewyding gevolg het, het hul blydskap met sy koms duidelik te kenne gegee. “En toe Hy al naby die afdraand van die Olyfberg kom, begin die hele menigte dissipels God met blydskap te prys met ’n groot stem oor al die kragtige dade wat hulle gesien het, terwyl hulle sê: Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here, vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele! En sommige van die Fariseërs uit die skare sê vir Hom: Meester, bestraf u dissipels!  En Hy antwoord en sê vir hulle: Ek sê vir julle, as hulle swyg, sal die klippe uitroep.” (Luk. 19:37-40). Maar die Fariseërs was hiermee nie tevrede nie. Hulle verwag dat Christus hierdie blydskap en toewyding van sy volgelinge moet demp. Hierdie manier van handel sou nie strook met die gewoonte en gebruike van die Fariseërs nie. En ons verstaan ook waarom hulle hierdie versoek aan Christus gerig het – hulle wat self Hom nie met blydskap kon dien nie. En die rede vir laasgenoemde is omdat hulle nie werklik in Hom geglo het nie. Daar was in hul harte geen ware liefde vir Hom en toewyding aan Hom nie. Hulle het daarom nie deel in hierdie blydskap in Hom gehad nie.

Dit behoort vir ons duidelik te wees dat hierdie veel meer as net ’n voorskrif van God is waaraan ons iewers moet probeer aandag gee.  Ons blydskap in die HERE is ook vir ons ’n aanduiding van ons gesonde verhouding met Hom.  As ek nie my blydskap in Hom vind nie, waarin soek of vind ek dit dan?  As daar vir my geen blydskap in my diensbaarheid aan Hom is nie en my diens aan Hom ’n moeite is, is dit Hom welgevallig? “Julle daarenteen ontheilig dit as julle sê: Die tafel van die HERE is verontreinig, en wat sy opbrings betref – sy spys is veragtelik. En julle sê: Kyk, wat ’n moeite! En julle verag dit, sê die HERE van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere – so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê die HERE.” (Mal. 1:12&13).

Maar wanneer Hy werklik vir my ’n prioriteit in my lewe is, wanneer ek Hom opreg liefhet en met Hom wandel, sal die Heilige Gees ook in my lewe teenwoordig wees. En die inwonende Heilige Gees van die HERE sal hierdie blydskap in Hom in my hart wek. “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22).

Mag die werklikheid van ons deel in God se koninkryk ook in my en u lewe daardie onuitspreeklike, oorweldigende en heerlike blydskap in ons harte wek en mag ons Hom met opregte liefde en blydskap dien.  “Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag.” (Rom. 14:17&18).