Hannes Ollewagen
2 Kron. 27:1-9
“En Jotam het magtig geword, want hy het sy weë gerig voor die aangesig van die HERE sy God.” (:6).
Dit is vir ons uit hierdie en vele ander gedeeltes uit God se Woord duidelik dat dit in God se oë goed is dat die mens sy weë voor Hom rig. Ons lees in Psalm 25 waar Dawid verskeie kere vir die HERE vra om hom die regte lewensweg te wys. “He. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.” (Ps. 25:5). Dit is ook uit hierdie Psalm duidelik dat God die mens wat met ootmoed na sy leiding vra, daarin onderrig. “Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer. Mem. Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.” (Ps. 25:9&12).
En in Psalm 32 word die mens ook daarteen gewaarsku om hom nie in eiesinnigheid teen God se leiding in die lewe te versit nie, maar om sy leiding in ootmoed met vertroue te volg. “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees. Wees nie soos ’n perd, soos ’n muilesel wat geen verstand het nie, wat ’n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” (Ps. 32:8&9).
’n Ander belangrike saak wat vir my uit voormelde Skrifgedeeltes duidelik word, is die feit dat die mens steeds vir sy besluite verantwoordelik is. Dit is in al hierdie gedeeltes duidelik dat God die mens volgens sy onbegryplike wysheid en onmeetbare liefde in die regte rigting wil stuur, maar Hy laat die mens eindelik steeds met ’n besluit om sy leiding te volg, al dan nie. Hy dwing nie sy volmaakte raad en leiding op ons af nie. Laasgenoemde beteken nie dat ons lot in ons eie hande is soos wat die humanisme ons graag wil leer nie. Ons het nie die mag om ons eie lot en toekoms te bepaal nie. Maar ons het nie geen verantwoordelikheid wat ons toekoms betref nie. Ons het die volle verantwoordelikheid om die besluite in ons lewe te rig volgens die raad en leiding van God in volle vertroue dat Hy ons langs die regte weg die toekoms in lei.
Luister na die woorde uit Jer. 10:23 wat vir ons bevestig dat ons as mense nie na hartelus kan handel asof ons lewe ons eie is en ons besluite alleen kan maak wat op korttermyn blyk vir ons die grootste voordeel sou inhou nie. Maar eerder dat ons ons besluite moet maak in die wete dat ons lewe en toekoms nie in ons eie hande is nie en dat ons besluite in ooreenstemming met God se wil moet wees. “Ek weet, o HERE, dat aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie.”
Ek glo dat die meeste van ons bekend is met die woorde uit Spreuke 3:5&6. “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.” Ken Hom in al jou weë. Het ons hierdie woorde al behoorlik oordink? Ek dink dat menige mens hierdie woorde as ’n gerusstellende gedeelte wil interpreteer eerder as om die verantwoordelikheid wat in hierdie woorde opgesluit is raak te sien. Hierdie woorde wat nie vir ons leer dat ons terloops iewers vir God van ons eie planne in kennis moet stel en dan kan verwag dat Hy ons weg voorspoedig sal maak nie. Hierdie woorde wat vir ons leer dat ons God in ons planne moet ken en m.a.w. nie besluite moet neem waarin ons Hom nie geken het om vas te stel of ons besluite in ooreenstemming met sy wil is nie. Die mens wat sy besluite in ooreenstemming met God se wil neem en derhalwe in ootmoed sy leiding vertrou kan verseker wees dat Hy hul weë gelyk sal maak aangesien Hy met hulle en voor hulle uit langs daardie weg sal wandel.
Mag ons vandag opnuut tot die besef gebring word van die belangrikheid daarvan om God in ons lewe en besluite te ken en sodoende ons weë voor Hom te rig. Ons vergeet so maklik hiervan en begin dan besluite neem asof ons lewe en toekoms van onsself afhang en doen Hom in die proses oneer aan deur te handel asof ons sonder Hom in die lewe kan klaarkom. Laat ons Hom eerder as gehoorsame kinders eer deur Hom in ons lewe en besluite te ken, want sodoende kan ons uitsien na ons ewige eindbestemming waarheen Hy ons lei om ewig met Hom te wees.
“Nogtans is ek altyddeur by U; U het my regterhand gevat. U sal my lei deur u raad en my daarna in heerlikheid opneem.” (Ps. 73:23&24).