Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Dit is vreemd dat mense lank wil leef, maar niemand wil oud word nie.
DIE GESINDHEID IN ONS GODSDIENS
Hannes Ollewagen
Matt. 9:9-13
“Maar gaan leer wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie; want Ek het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering.” (:13).
Hy wat die grootste offer van alle tye gebring het deur Homself aan God te offer maak hierdie stelling – “...Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie;...”. Is hierdie dan nie teenstrydig met Christus wat die offer van die arm weduwee eer nie? “EN toe Hy opkyk, sien Hy die rykes wat hulle gawes in die skatkis gooi. En Hy het ook ’n arm weduwe daar twee geldstukkies sien ingooi. En Hy sê: Waarlik, Ek sê vir julle dat hierdie arm weduwee meer as almal ingegooi het. Want hulle almal het uit hul oorvloed by die gawes van God ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi alles wat sy gehad het om van te lewe.” (Luk. 21:1-4).
As Hy dan nie offerande vra nie – waarom nie die weduwee verhinder en dit aan haar stel dat sy eerder haar kosbare geldstukkies moet hou aangesien God geen behae daarin het nie? Dit is tog duidelik nie die geval nie. Dit is uit Christus se onderstreping van hierdie weduwee se optrede dat Hy ’n groot behae in die weduwee se offer en optrede het. En soos wat ons vandag deur die Woord van God werk sal ons verstaan waarom.
Wanneer ons Romeine 12 lees kan ons weer vra of Romeine 12:1 nie hierdie woorde van God in Matt. 9:13 weerspreek nie. “EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens.” Hoe dan nou? Die een gedeelte stel dat God barmhartigheid vra en nie offerande nie terwyl die volgende gedeelte stel dat God van ons vra om ons julle lewe as offerande aan Hom te bied. En tog is die antwoord hierop vir ons nie te diep verberg nie, maar openbaar God dit regdeur sy Woord duidelik aan ons. Ons kan begin deur weer na die gawe van die arm weduwee te kyk. Dit was nie twee of vyftig of honderd of duisend geldstukke wat God beïndruk het nie. Hy kan nie deur die aard of omvang van die gawe beïndruk word nie. Hoe onindrukwekkend moet ’n gawe van tienduisend geldstukke lyk in die oë van die Een wat die heelal geskape het? Hy het nie ’n enkele van daardie geldstukke of enige offer van enige mens nodig nie. Maar die gesindheid van die mens word met hierdie dinge deur God op die proef gestel. Hoe duidelik openbaar God dit nie aan ons in Ps. 50 nie. “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer. Die een wat dank offer, eer My; en die een wat op sy weg ag gee, hom sal Ek die heil van God laat geniet.” (Ps. 50:9-15, 23).
Dit is vir ons duidelik dat God van die mens offerande vra om daardeur ons gesindheid op die proef te stel en nie omdat Hy van ons afhanklik is van enigiets nie. As ons mooi daaroor dink, is ’n gesindheid van ’n gedwonge of wettiese gawe aan God eintlik baie verwaand omdat dit impliseer dat Hy van ons of ons offer afhanklik is. En wanneer ons die offer van die arm weduwee stel teenoor die gawe wat Ananías en Saffíra gebring het, raak die saak vir ons nog meer helder. Die arm weduwee se twee geldstukkies het God beïndruk en daarenteen was Ananías en Saffíra se offer vir Hom nie net onindrukwekkend nie, maar verwerplik. Ja, hierdie offer wat hierdie man en vrou gebring het, het God so vertoorn dat dit hulle hul lewe gekos het. En hul offer was seker ’n paar duisend maal groter as die offer van die arm weduwee, maar dit is gebring met ’n gesindheid van oneerlikheid en daarop gemik om die goedkeuring en eer van mense te verkry eerder as wat dit in dankbaarheid en eerbied aan God gebring is. Daarenteen het die offer van die arm weduwee nie alleen van haar diepe dankbaarheid en liefde vir God getuig nie, maar ook van haar vertroue in Hom om weer vir haar te voorsien in dit wat sy sou benodig.
Wanneer ons na die lewe van Abraham kyk, sien ons ook hierdie gesindheid. God rig aan Abraham die vreemde versoek om sy seun te offer – daardie seun waarvoor hy soveel jare gewag het. Waarom sou God so iets doen? Hy doen dit om die gesindheid van Abraham op die proef te stel. Só opreg en getrou was Abraham se hart teenoor God dat Hy dit beskou het asof Abraham die offer wel voltrek het alhoewel Hy hom op die nippertjie daarvan terug gehou het. “Deur die geloof het Abrham, toe hy op die proef gestel is, Isak geoffer, ja, hy wat die beloftes ontvang het, het sy eniggeborene geoffer, aan wie gesê is: In Isak sal jou nageslag genoem word – want hy het gereken dat God mag het om selfs uit die dode op te wek; daaruit het hy hom ook, om so te spreek, terug ontvang.” (Heb. 12:17-19).
En die lewens van koning Saul en Dawid dien ook vir ons as goeie voorbeeld. Ons lees in 1 Sam. 15 waar Saul God se opdrag om Ámalek te verslaan gedeeltelik uitvoer. En God verwerp vir Saul as koning wat in eiesinnigheid optree omdat sy gesindheid teenoor God nie opreg was nie. Alhoewel hy die opdrag van God tot ’n baie groot mate uitgevoer het, was sy gesindheid daarop gerig om sy eie eer te soek eerder as om aan God gehoorsaam te wees en God se eer eerste te stel. Hy wou deur hierdie groot offer van die bangoed wat hy weggevoer het op indrukwekkende wyse ’n offer aan God bring om die bewondering van die volk hiermee op hom te rig eerder as om in liefde en met getrouheid God se opdrag uit te voer. En hierdie optrede is verwaand en voor God verwerplik. “...Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.” (1 Sam. 15:22&23). En as opvolger stel God ’n man aan wat Hom met liefde en ’n opregte hart sou dien. “Maar nou sal jou koningskap nie bestaan nie. Die HERE het vir Hom ’n man na sy hart gesoek; en die HERE het hom as vors oor sy volk aangestel, omdat jy nie gehou het wat die HERE jou beveel het nie.” (1 Sam. 13:14). God het Saul nie net as koning verwerp omdat hy ongehoorsaam was nie, maar omdat die oorsaak van sy ongehoorsaamheid die verkeerde gesindheid in sy hart teenoor God was. Luister na die woorde van God aan Samuel in 1 Sam. 16:7. “Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.”
As laaste voorbeeld wil ek vandag vir u die gelykenis van Christus uit Lukas 18 voorhou. Die tollenaar het op homself vertrou dat hy uit eie krag voor God regverdig is en daarenteen het die tollenaar homself in nederigheid tot God gewend om hom barmhartig te wees en sy vertroue op God eerder as homself gestel. “EN Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel. Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ’n Fariseër en die ander ’n tollenaar. En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie – rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry. En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig! Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een;...” (Luk. 18:9-14).
Mag ons vandag opnuut tot die besef gebring word dat ’n slaafse en wettiese onderhouding van God se gebooie vir ons geen heil inhou nie. Tewens, ons moet versigtig wees om God nie hierdeur te vertoorn deurdat ons in verwaandheid optree asof ons in onsself by vermoë is om ons voor Hom te regverdig nie. Mag ons opnuut ons afhanklikheid van Christus vir ons regverdiging en heiligmaking besef en mag hierdie besef die liefde, afhanklikheid en vertroue in Hom laat toeneem sodat ons God nie alleen sal gehoorsaam nie, maar dat dit ook uit die regte gesindheid van liefde sal spruit.
“Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.” (Rom. 7:6).