Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kry jou kop reg as jou liggaam uitmekaar wil val. Al is ons aan uiterlike aftakeling onderworpe, kan ons innerlik sterk bly. Jy kan nie die veroudering van jou liggaam keer nie, slegs die veroudering van jou gees.
VERTROU OP HOM MET ‘N VOLKOME HART
Hannes Ollewagen
2 Kron. 16:
“...want die Here — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees.”
Ons sien hier in die lewe van koning Asa ’n verskynsel wat in ons lewens seker ook dikwels sy verskyning maak. Hy word koning en met ’n opregte en ootmoedige hart soek Asa na God, vra na sy insettinge en streef dit na. Hy stel ook sy vertroue op God en in hierdie toestand van afhanklikheid teenoor en diensbaarheid aan God is hy ’n kragtige instrument in God se Hand waardeur God se Naam verheerlik word.
Ons lees in 2 Kron. 14 waar Serag, die Kusiet, met ’n leërmag van ’n miljoen teen koning Asa optrek. “En Serag, die Kusiet, het teen hulle uitgetrek met 'n leër van 'n miljoen met driehonderd strydwaens; en hy het gekom tot by Marésa.” (2 Kron. 14:9). Dit moes inderdaad ’n groot bedreiging en benoudheid gewees het. En hoe hanteer Asa hierdie bedreiging? Hy stel sy vertroue volkome op God:
“En Asa het die Here sy God aangeroep en gesê: Here, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, Here onse God, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie menigte gekom; Here, U is onse God; laat geen sterfling naas U magtig wees nie.” (2 Kron. 14:11). Maar dan kruip hierdie oorwinnings en voorspoed wat Asa behaal onder sy vel in en broei dit ’n verkeerde trotsheid en selfversekerdheid uit. Asa tree dan nie meer in diensbaarheid teenoor God op nie, maar met vertroue in homself, sy eie en ander mense se ondersteuning en vermoë. “En in dié tyd het die siener Hanáni, na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die Here u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak.Was die Kusiete en die Líbiërs nie 'n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die Here gesteun het;” (2 Kron. 14:7&8).
Wanneer die siener vir Asa hieroor aanspreek, verootmoedig en bekeer hy hom nie van sy verkeerde handeling nie. Hierdie sonde van trotsheid en eiewaan het sy hart verhard en hy vererg hom eerder vir die siener wat hom hieroor durf aanspreek. “Maar Asa het hom vererg vir die siener en hom in die gevangenis gesit, want hy was hieroor woedend op hom; ook het Asa in dieselfde tyd sommige uit die volk verdruk.” En hoe hartseer is dit nie dat dieselfde koning wat met soveel ootmoed en vertroue op God die roemryke oorwinning oor ’n leër van ’n miljoen met God as sy Aanvoerder behaal het, dan eindelik op sy sterfbed nie die vrymoedigheid het om God om hulp te vra nie. En dit omdat hy in sy eie trotsheid verstrengel is. “En in die nege-en-dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die Here nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere.” (2 Kron. 16:12).
Ons moet versigtig wees om nie met ’n selfvoldane houding oor Asa te spreek en te wonder hoe dit is dat hierdie man só kon struikel nie. Hierdie toestand kry myns insiens in baie van ons se lewens vandag nog ’n stewige vastrapplek. Ons verstaan om in tye van beproewing en swaarkry ons voor God te verootmoedig en ons tot Hom te wend om hulp, redding en leiding. Maar hoe maklik wil ons nie in tye van beterskap, voorspoed en sukses die leisels uit sy Hand neem om self in beheer van ons lewe te wees nie. Hoe maklik vergeet ons nie in hierdie toestand dan van diensbaarheid aan Hom nie omdat ons fokus van die Redder en Oorwinnaar verskuif na die suksesse en oorwinnings wat behaal is. En daar waar ons maar eintlik net die instrumente in sy Hand was waarmee Hy gewerk het, oortuig die Satan ons dat ons uit onsself hierdie wonderlike hoogtes bereik het. En mettertyd oortuig die Satan ons dat ons deur ons eie kundigheid, verstand, vaardigheid, rykdom of welke gawe ookal ons eie heil kan bewerk en God nie meer nodig het nie. Ons kan nou self regkom, want ons het nou genoeg ervaring, genoeg geld, die beste medies en versekering en kan met ons geld die beste kundiges se raad en hulp bekostig. En wat ’n bedreiging is dit vir ons sieleheil, want as ons Hom nie vir hierdie lewe vertrou nie – hoe sal ons ons vertroue op Hom vir ons ewige saligheid stel?
Dit is vir my opvallend uit ons gelese gedeelte dat die Woord stel dat God se oë die hele aarde deurloop om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is. Let wel, nie wie se hart op Hom gerig is nie, maar wie se hart onverdeeld op Hom gerig is. Hy vra van ons volkome vertroue. Die beklemtoning hiervan is ook vir ons uit Spreuke 3:5 duidelik. “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” Hy is nie die hulpmiddel wat ons kan nadertrek om die klein bietjie aan te vul waar ons eie krag ontbreek nie. Hy is nie die alternatief wat ons kan nadertrek nadat ons eie pogings misluk het nie. Hy is nie die rugsteun om te gebruik wanneer my vertroue op ander mense teleurgestel het nie. Nee, Hy is die enigste Almagtige God op wie ons vir ons hele lewensbestaan volkome moet vertrou. Hy het nie ons of ander se hulp of bystand nodig om sy beloftes gestand te doen of om sy beloftes van hulp en redding te vervul nie. Hy is volkome in staat om uit Homself oor enige situasie te triomfeer. En alhoewel Hy tot ons hulp, bystand en redding gereedstaan, eis Hy van ons die nodige dank en eer wat Hom toekom. “Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie;want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende. Ek ken al die voëls van die berge, en wat roer op die veld, is van My. As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. Sou Ek vleis van stiere eet of bloed van bokke drink? Offer dank aan God, en betaal jou geloftes aan die Allerhoogste; en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Ps. 50:9-15).
Hierdie volkome vertroue van mense in God word vir ons in die lewe van al die geloofshelde openbaar. Dink maar aan Dawid wat die reus Góliat verslaan het. Hierdie man wat geen ondervinding van oorlogvoering het nie sê ’n ervare baasvegter die stryd aan. En dit boonop met geen behoorlike wapenrusting of beskermende kleredrag nie! Maar hy gaan hierdie stryd tegemoet met ’n hart wat volkome op God vertrou en daarom verslaan God hierdie reus voor Dawid. “Verder sê Dawid: Die Here wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die Here met jou wees!” (1 Sam. 17:37). En omdat hierdie man met so ’n gesindheid van ootmoed en afhanklikheid van God geleef en regeer het, het hy tot aan die einde van sy lewe staande gebly – sy foute en sondigheid ten spyt. En hoe volkome was die vertroue van Daniël se drie vriende nie in God terwyl die koning gedreig het om hulle in die brandende vuuroond te gooi nie. Hierdie manne probeer die koning nie van hul onskuld oortuig of op enige wyse om hul eie lewe te red of hul heil te bewerk nie, maar stel hul vertroue volkome op God. “Sadrag, Mesag en Abednégo het geantwoord en aan koning Nebukadnésar gesê: Ons ag dit nie nodig om u hierop 'n antwoord te gee nie. As onse God wat ons dien, in staat is om ons te verlos, dan sal Hy ons uit die brandende vuuroond en uit u hand, o koning, verlos; maar so nie, laat dit u dan bekend wees, o koning, dat ons u gode nie sal dien nie en die goue beeld wat u opgerig het, nie sal aanbid nie.” (Dan. 3:16-18). En is die woorde van onse Here Jesus Christus in sy uur van nood nie ’n luidkeelse getuienis van ’n hart wat volkome op die volkmaaktheid van sy wil vertrou nie? “...Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Luk. 22:42).
Mag hierdie woorde ons vandag ook tot besinning roep om ons eie hart en gesindheid weer te ondersoek sodat ons opnuut daarna sal streef om God nie maar net uit gewoonte of tradisie, vrees of in nastrewing van ons eie behoeftes of eer te dien nie, maar dat ons Hom sal liefhê en dien met ’n volkome hart. Dit is wanneer ons Hom op hierdie wyse dien dat sy Naam deur ons lewens verheerlik word.
“En hy het hulle bevel gegee en gesê: So moet julle handel in die vrees van die HERE, met getrouheid en met 'n volkome hart.” (2 Kron. 19:9).