Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus moes as volkome mens hier op aarde leef. Nie net is Hy as 'n mensebaba gebore nie, maar het Hy ook die emosies van 'n mens gehad. Johannes 11 beskryf vir ons hoe geweldig bewoë en in sy Gees ontsteld Jesus was toe Hy sien hoe hartseer die mense oor Lasarus se dood was; Hy het selfs saam met hulle gehuil voordat Hy Lasarus uit die dood opgewek het. Hoe goed begryp Hy nie ook jou pyn en hartseer vandag nie!
OOTMOED TEENOOR GOD
Hannes Ollewagen
Joh. 18:1-11
“En Simon Petrus wat ’n swaard gehad het, het dit uitgetrek en die dienskneg van die hoëpriester geslaan en sy regteroor afgekap. En die naam van die dienskneg was Malchus. Toe sê Jesus vir Petrus: Steek jou swaard in die skede. Die beker wat die Vader My gegee het, sal Ek dit dan nie drink nie?” (:10&11).
Ons sien uit hierdie gebeure ’n eienskap in Christus waarin God ’n groot welbehae het. Hierdie gesindheid van ootmoed is vir Hom baie kosbaar. En soos wat liefde en selfsug teenoorgestelde pole is, is ootmoed en trots dit ook van mekaar. ’n Gees van ootmoedigheid is een van nederige onderdanigheid – onderworpenheid. En ons moet as ootmoedige kinders van God ook daarna streef om God met hierdie gesindheid te dien.
“Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ’n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ’n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.” (Fil. 2:5-8).
Wanneer Petrus sy hand na sy swaard uitsteek om die lewe van Christus te probeer verdedig, lyk dit nie asof hy enigiets verkeerd doen nie, nie waar nie? Hy verdedig die lewe van sy naaste – meer nog – die lewe van die Seun van God. Is dit nie ’n eerbare ding om te doen nie? Dit blyk dalk met die eerste oogopslag so te wees, maar wanneer ons ’n paar ander faktore in aanmerking neem, verstaan ons waarom hierdie optrede nie reg was nie – hoe edel ookal die bedoeling daarvan. Die vertrekpunt is seker om te verstaan dat enige optrede van ’n mens wat God se Wil weerstaan, verkeerd is. Wanneer ons in ag neem dat hierdie gebeure volg nadat Christus in Getsémané tot God gepleit het om hierdie beker van Hom weg te neem, verstaan ons alreeds die gebeure beter. “Weer het Hy vir die tweede maal gaan bid en gesê: My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied.” (Matt. 26:42). En vir ’n derde maal het Hy dan ook hierdie gebed tot die Vader herhaal. Maar nie alleen het Christus gevra dat die beker Hom sou verbygaan nie, maar ook dat die Wil van God die Vader eindelik sal geskied. En daarom het Christus geweet dat dit binne die Wil van God is dat Hy gevange geneem word en daarom het Hy nie hierdie wil van God weerstaan nie, maar Hom eerder in ootmoed hieraan onderwerp.
Wanneer ons dan ook sien dat Christus na sy sterwe weer deur God uit die dood opgewek word, verstaan ons waarom Petrus nie in Getsémané sy lewe moes verdedig nie. Die lewe van Christus het nie van Petrus afgehang nie, maar van God. Petrus se optrede in daardie stadium was in stryd met God se Raadsplan en Wil. Dit sou die openbaring van God se krag en almag ondermyn en daarom wys Christus hom daarop om daarvan af te sien. Christus aanvaar dat die beker wat God vir Hom bestem het om te drink, Hom nie sal verbygaan nie. En Hy weier dan ook nie om hierdie beker op te neem en dit te drink nie, maar neem dit met ootmoed en gehoorsaamheid op.
Ek hoop dat ons opnuut uit hierdie gebeure besef hoe maklik ons verkeerd kan optree wanneer ons nie met ’n gesindheid van ootmoed voor God leef nie. Sake wat vir ons ooglopend reg of verkeerd lyk, kan verkeerd hanteer word wanneer ons in eie krag wil optree en sodoende die openbaarmaking van God se krag soms ondermyn. Benewens Christus was die lewe van Moses ook ’n getuienis van hoe ’n lewe van ootmoed instrumenteel is in die openbaring van God se krag. “Maar die man Moses was baie sagmoedig, meer as al die mense op die aardbodem.” (Núm. 12:3). En ’n openbaring van sy krag gee aanleiding tot sy verheerliking wat ons as gelowige kinders van God se strewe behoort te wees.
Dit is nodig dat ons aan hierdie waarheid herinner word – veral in ’n samelewing waarin elkeen fokus op ’n lewe waar elke mens se eie gemak, versorging en welstand menigmaal voorkeur geniet eerder as diensbaarheid aan en verheerliking van God. Die Woord stel dit ook vir ons duidelik dat ons in diensbaarheid aan Hom tot opoffering bereid moet wees. “TOE sê Jesus vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matt. 16:24).
Mag ons dit opnuut vir ons voor oë stel om ons lewe nie daaraan te wy om ons eie doelwitte te bereik en ons eie begeertes te bevredig nie, maar om ons lewe in ootmoed aan Hom te wy.
“EK vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ’n lewende, heilige en aan God welgevallige offer – dit is julle redelike godsdiens. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:1&2).