Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wat is die rede vir triomf? En wat is die rede vir nederlae wat ons ly. Meestal is dit die wil om te volhard, die soort moed wat 'n mens keer om tou op te gooi, met wat jy ookal besig is. Dit is 'n fundamentele eienskap by mense wat voortdurend presteer.
OPREGTE GODSDIENS
Hannes Ollewagen
Jes. 29:1-24
“En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.” (:13&14).
Ons het die afgelope paar dekades baie dinge in die wêreld en ook in ons eie land sien verander. Een van hierdie dinge wat ingrypend verander het, is die rol van die kerk in ons volkslewe. Kerke loop leeg. In klein gemeenskappe en dorpies sien jy die een na die ander kerkgebou wat in onbruik verval het. ’n Dekade of wat gelede het weinig van hierdie geboue al voltooid gestaan, hierna het ’n tyd aangebreek waarin die een na die ander kerk begin verrys het en mense het met ywer gewerk aan die fisiese bou asook die uitbouing van hierdie gemeentes. Maar waar het die fout dan in gekom? Vandag sal die restaurant in die omgewing seker meer besoekers as die kerk op die Sabbat kry. Waar het die bal geval?
Daar is sekerlik baie oor hierdie aangeleentheid te sê. Die een persoon sal van mening wees dat die kerk mense mislei het en omdat mense tot die waarheid gekom het, het hulle die kerk verlaat. Daar was sekerlik ’n klomp valse leraars oor die afgelope paar dekades in ons volk se midde, maar so was dit al in die tyd van die eerste dissipels ook en die kerk het in daardie dae ten spyte van hierdie uitdaging gegroei en nie ten gronde gegaan nie. Luister na die woorde uit 2 Petrus 2:1. “MAAR daar was ook valse profete onder die volk, net soos daar onder julle valse leraars sal wees wat verderflike ketterye heimlik sal invoer, en ook die Here wat hulle gekoop het, verloën en 'n vinnige verderf oor hulleself bring;”.
Daar sal ander mense wees wat van mening is dat mense se lewenstyl te besig geraak het en dat hulle nie meer tyd het om kerk toe te gaan nie.
’n Ander sal seker weer van mening wees dat die charismatiese beweging mense so op loop geneem het met ‘n “opwindende godsdiens” dat die kerk van ouds iets geraak het waarin mense nie meer belangstel nie.
’n Ander sal weer van mening wees dat die kerk sy plig begin versuim het in ’n poging om by ’n veranderde samelewing aan te pas en op die wyse “irrelevant” geraak het juis omdat die kerk sy verantwoordelikheid t.o.v. lering, vermaning en teregwysing versaak het.
Daar is sekerlik waarheid in al hierdie argumente wat ek aangeraak het. En daar is sekerlik nog ’n hele klomp wat ek nie vermeld het nie. Myns insiens is al hierdie egter simptome eerder as een van die onderliggende gevolge van hierdie probleem. Ek sien in die spieël van God se Woord wat voor ons volk se gesig gehou word die oorsaak hiervan in o.a. Jesaja 29:13 raak. ’n Duidelike berisping van God teenoor sy volk oor sy ontevredenheid met hulle dat hul godsdiensoefening een van gewoonte geraak het. Dit het ’n godsdiens geraak vol van gebruike, gewoontes en tradisies terwyl daar in die volk se hart geen liefde vir God te vinde was nie. Die volk het langs die pad sy opregtheid met God verloor. En so ’n godsdiens is tevergeefs. God stel duidelik in Matt. 15:8&9. “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is.”
Hierdie skoen pas ons volk ongelukkig ook te goed. As ons volk se godsdiens nie in een van gewoonte en gebruike verval het nie maar in opregtheid en liefde geanker was, sou dit nie van Hom losgeraak het nie. ’n Godsdiens wat in opregte liefde vir God geanker is, word nie deur valse leraars tot ’n einde gebring nie. “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het.” (Joh. 14:23&24). Dwaalleer is alleen suksesvol daar waar die opregte liefde vir God ontbreek aangesien daar vastrapplek vir dwaalleer in ’n twyfelagtige hart is terwyl ’n hart wat vol van opregtheid en liefde is nie ruimte daarvoor het nie. Luister gerus na die woorde uit Deut. 13 waarin God stel dat sy volk deur valse profete beproef word om die egtheid van sy volk se liefde te toets. “AS ’n profeet of een wat as dromer optree, by jou opstaan en jou ’n teken of ’n wonder aankondig, en die teken of wonder kom uit wat hy jou beloof het met die woorde: Laat ons agter ander gode aan loop – wat jy nie geken het nie – en hulle dien, dan moet jy nie luister na die woorde van dié profeet of na dié man wat as dromer optree nie; want die HERE julle God beproef julle om te weet of julle werklik die HERE julle God liefhet met julle hele hart en met julle hele siel. Julle moet die HERE julle God navolg en Hom vrees en sy gebooie hou en na sy stem luister en Hom dien en Hom aanhang.” (Deut. 13:1-4).
Daar is ’n verskil in gehoorsaamheid aan God en ’n slaafse nakoming van reëls en gebooie wat ons uit God se Woord leer. En die groot verskil lê daarin dat ’n slaafse nakoming van gebooie, reëls, wette en tradisies die groot tekortkoming het dat die eerste gebod van God nie nagekom word nie. Hierdie gebod, die belangrikste van almal, word opsy geskuif en wat dan volg, is ’n slaafse navolging van reëls maar nie gehoorsaamheid nie aangesien die liefde ontbreek. ’n Slaafse navolging van reëls is onvolhoubaar en daarom ook volgens Christus se eie woorde – tevergeefs. Gehoorsaamheid uit liefde daarenteen is stewig geanker en volhoubaar. Wanneer ’n kind van God Hom in liefde gehoorsaam sal hy die gebod van God nakom, ongeag veranderde omstandighede, allerlei bekoorlikhede, dwaalleringe en dergelike dinge. En daarmee sê ek nie dat ’n kind van God nooit sal struikel nie, maar wel dat ’n kind van God wat Hom opreg liefhet, eindelik weer tot God terugkeer selfs nadat hy gestruikel het. Dink maar aan die voorbeeld van Dawid wat gestruikel het en egbreuk sowel as moord gepleeg het. Hy het nie in hierdie sondige lewe volhard nie, maar eerder berouvol sy sonde voor God bely en weer opnuut daarna gesoek om in gehoorsaamheid voor God te leef.
Geliefdes, wanneer ons let op die belangrike verskil tussen ’n godsdiens uit gewoonte en ’n opregte toewyding aan God wat in liefde geanker is, verstaan ons beter waarom God dit só pertinent in sy Woord stel dat ons Hom opreg en innig moet liefhê. Benewens dat Hy dit as die eerste en belangrikste gebod aan Moses gegee het, het Hy dit deurgaans op die hart van sy volk gedruk. Na die diens van Moses het Hy deur die diens van Josua aangehou om dit op die hart van sy volk te druk. “Neem julle dan terdeë in ag ter wille van julle siele, om die HERE julle God lief te hê;” (Jos. 23:11). En deur die mond van sy kneg Dawid. “Julle moet die HERE liefhê, al sy gunsgenote! ...” (Ps. 31:24). En is die vermaning uit Miga 6 nie een wat ’n opregte hart diep raak nie? “Waarmee sal ek die HERE tegemoetgaan en my buig voor die hoë God? Sal ek Hom tegemoetgaan met brandoffers, met jaaroud kalwers? Sal die HERE ’n welbehae hê in duisende ramme en tienduisende strome van olie? Sal ek my eersgeborene gee vir my oortreding, die vrug van my liggaam vir die sonde van my siel? Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Mig. 6:6-8).
Ek sluit vandag af met ’n dankbare hart voor God wanneer ek besef dat onder ons volk daar wel diegene is wie se Godsdiens in opregte liefde geanker is. Dit word bevestig in die lewens van mense wat vandag te midde van verloopte kerke, dwaalleraars, ’n vyandige regering en ’n deurmekaar samelewing steeds in liefde aan die Woord en gebooie van God vashou. En andersyds koester ek ook die hoop dat die HERE die harte van die groter deel van ons volk wat saam met die groter samelewing rondom ons van sy gebooie afvallig geraak het omdat hul godsdiens alleen uit gewoonte en menslike insettinge bestaan het, aanraak en tot Hom bekeer om Hom in liefde en opregtheid te dien. Ja, mag Hy die verstokte hart van ons volk wat geen gevoel vir Hom het nie verwyder en aan ons ’n hart van vlees skenk wat gevul is met ’n liefde vir Hom.
“En Ek sal julle 'n nuwe hart gee en 'n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle 'n hart van vlees gee.” (Eség. 36:26).