Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wonder ons soms waarom ons as 'n volk van die Here, nie rustig en in vrede kan saamleef nie, waarom ons voortdurend rusie met mekaar soek, mekaar verraai, verneder en vernietig? Daar is net een grondslag waar dit verkeerd geloop het: Jesus het die wetgeleerde op sy vraag wat die "groot gebod in die wet is" só geantwoord: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand. En die tweede wat gelyk hieraan staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.
Ons verskeurde ou volkie weet nie meer wat naasteliefde beteken nie. En as ons die tweede gebod nie eers kan onderhou nie moet ons onsself nie bluf en dink dat ons God so liefhet as wat Hy ons beveel nie. En dan wil ons nog aanspraak maak op die voorregte van 'n volk van God!
VERTROU OP DIE HERE VIR EWIG
Hannes Ollewagen
Jes. 26:1-21
“Vertrou op die HERE vir ewig, want in die Here HERE is ’n ewige rots.” (:4).
Wanneer ons so aan die einde van ’n kalenderjaar kom en die afgelope jaar in terugskoue neem, besef ons weer dat daar baie dinge is wat dieselfde bly, maar tog ook baie is wat verander. En wanneer ons langer is ’n jaar terugkyk, is dit asof daar selfs meer dinge is wat verander het en minder is wat dieselfde gebly het. Hoe verder die terugblik, hoe meer of groter die verandering. Ek is ook van mening dat hierdie toenemende en gedurige veranderinge ’n groot oorsaak van mense se onsekerheid vandag is. Vastigheid en dissipline bied tog vir enige mens sekerheid. Die teendeel is dan natuurlik ook waar.
Dit maak egter nie saak hoe ver ons in die verlede terugkyk nie – daar is wel een absoluut onveranderlike en dit is natuurlik God, die Skepper van alle dinge. Die getuienis hiervan kan seker nie vir ons meer duidelik gestel word as in die woorde van Jesaja 41:4 nie. “...Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die Here, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.” Hierdie vaste sekerheid kan nie vir ons oorbeklemtoon word nie. Dit is vir ons van kritieke belang om te verstaan dat God onveranderlik is. Hy is nie ’n mens wat vandag op een wyse handel en more op ’n ander wyse nie. Hy is altyd regverdig, altyd getrou en ewig Almagtig. Die God wat in die tyd van Moses die ellende en verdrukking van Israel aangesien en hulle onder die onderdrukkende hand van Farao uitgelei het, het in die dae van Dawid steeds die ellende en nood aangesien en was steeds tot hulp gereed vir diegene wat op Hom hoop en vertrou. Ons kon ook in die lewe van Dawid die kragtige dade van God sien vir hulle wat op Hom vertrou en dit het weereens van sy Goddelikheid en onveranderlikheid getuig. Daarom bevestig Dawid ook sy vertroue in God in die woorde van Psalm 56:4&5. “Die dag as ek vrees, sal ék op U vertrou. Deur God sal ek sy woord prys; ek vertrou op God, ek vrees nie; wat kan vlees my doen?” En het ons nie onlangs die gebeure by Bloedrivier gedenk en daardeur gesien hoedat God onveranderlik en trou was om ook ons voorsate se gebede en geroep om hulp te verhoor en hulle wat op Hom vertrou het te red nie? Indien ons vandag weer in ’n Bloedrivier-situasie moes beland, sou die gewere van die Voortrekkers, of die perde, miskien die bevelvoerders ons vandag kon red? Natuurlik niks van voormelde nie. Tewens, ons sou eerder met die verbeterde werktuie en wapentuig tot ons beskikking so ’n krisis wou tegemoetgaan, maar selfs met die beste wapentuig tot ons beskutting sou die oorwinning van Een afhang – dieselfde Een wat die oorwinning by Bloedrivier en die Een wat vir Israel en Dawid ook hul oorwinnings bewerk het. “Die perd word reggemaak vir die dag van die geveg, maar die oorwinning is deur die Here.” (Spr. 21:31).
Dit is ontsettend belangrik dat ons sal besef dat God nie van Moses se tyd tot in die dae van Dawid verander of ophou bestaan het nie. En Hy het ook nie tussen die dae van Dawid tot in die jare van Bloedrivier verander of ophou bestaan nie. Hierdie gebeure as mylpale lewer vir ons luidkeels hiervan getuienis – daarom dat dit nodig is om dit gereeld in herinnering te roep. Maar ons moet ook onthou en verstaan dat Hy nie van Bloedrivier tot nou verander het of opgehou het om te bestaan nie! Ons omstandighede vandag is nie iets wat te moeilik is vir Hom om óm te keer nie – net soos wat Israel, Dawid en die Voortrekkers se omstandighede by Bloedrivier nie vir Hom te moeilik was om óm te keer nie. Die probleme waarmee ons vandag sit is nie dat God nie kan help of red nie, maar eerder dat ons mense deur dwaalleringe en ons eie ongeërdheid teenoor God van Hom vervreem is en nie meer werklik weet wie Hy is nie. Dit klink verskriklik en dit is verskriklik! Maar dit is ongelukkig ook waar! Wanneer ons luister na mense se verwronge persepsies wat dink dat ons, ons Geloftes teenoor God kan versaak, die Sabbat en heiligheid van die huwelik kan skend, moor, roof, grootpraat, kwaadpraat, velde begeer en roof, akker-aan-akker voeg, dronk word in hebsug en gierigheid, homoseksualisme en aborsies regverdig, ons liggame met tatoeëring en dwelmmiddels kan verniel en maar net Sondag gou by die kerk ’n draai maak om God tevrede te stel, is dit duidelik dat ons kennis van God totaal gebrekkig is en die getuienis van Jeremia 4:22 teen ons volk ook gepas is. “Want my volk is dwaas; My ken hulle nie; dwase kinders is hulle, en hulle is onverstandig; slim is hulle om kwaad te doen, maar om goed te doen, weet hulle nie.” En ’n mens (ook ’n volk) wat God nie werklik ken nie sal ook nie sy vertroue op Hom plaas nie. Die verdere waarheid is dat ’n mens (en ’n volk) wat Hom nie vertrou nie as ongelowig geklassifiseer moet word. ’n Mens wat twyfel aan God se almag of vermoë, beledig Hom. “Daarop het die Here aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?” (Núm. 14:11). En ’n mens wat dink dat hy nie nodig het om op God te vertrou nie omdat hy op sy eie wysheid, krag of rykdom steun, is met afgodery besig. “So sal God jou dan ook vir ewig omverwerp, jou wegruk en jou uit die tent uitsleep; ja, Hy sal jou ontwortel uit die land van die lewendes. Sela. En die regverdiges sal dit sien en vrees; en hulle sal oor hom lag en sê: Kyk, die man wat God nie tot sy toevlug gemaak het nie, maar vertrou het op die grootheid van sy rykdom, sterk was in sy begeerlikheid!” (Ps. 52:7-9).
Wanneer ons dan die einde van hierdie jaar nader moet ons dalk oor die afgelope jaar terugkyk en God om verskoning vra vir al die kere wat ons Hom beledig het deur Hom nie te vetrou nie. Ons moet teenoor Hom vergifnis vra dat ons menigmaal ons hoop op ons eie vermoë en middele stel eerder as om Hom te vertrou. Ons moet beslis meer erns met Hom maak om sy Hand in ons volk se lewe te sien eerder as om verskonings vir ons omstandighede te soek. Hierdeur sou ons besef het dat die rede vir die droogte wat ons op hierdie stadium op ons knieë dwing nie eenvoudig een of ander weerverskynsel is nie. Inteendeel, die weerkenners het mos hierdie jaar eintlik ’n “normale reënjaar” voorspel. Sal ons Hom ook in hierdie krisis steeds ignoreer of sal die woorde uit Jeremia 14 iewers by ons ingang vind en opnuut by ons die bewustheid van sy onveranderlikheid bring? “Weens die land wat verslae is, omdat daar geen reën op die aarde is nie, kom die landbouers in die skande, hulle bedek hulle hoof. Hoewel ons ongeregtighede teen ons getuig, o Here, doen dit om u Naam ontwil; want ons afkerighede is baie, ons het teen U gesondig. Is daar onder die nietige afgode van die nasies wat reën kan maak? Of kan die hemel reënbuie gee? Is U dit nie, o Here onse God? En ons wag op U, want Ú doen al hierdie dinge.” (Jer. 14:4,7 &22).
Wanneer ons erken dat ons teen Hom sondig en Hom beledig wanneer ons Hom nie vertrou nie, sal ons leer om ons vertroue op Hom te stel. En wanneer ons Hom vertrou, sal ons kan uitsien om die weldade en wonderdade te aanskou wat Hy bewys aan diegene wat aan Hom gehoorsaam is en Hom eer. Mag ons besef dat die Woorde van God wat ons leer om op Hom te vertrou nie alleen woorde van bemoediging is nie, maar dat dit ook ’n opdrag is wat God aan ons gee en wat ons moet gehoorsaam.
“Here van die leërskare, welgeluksalig is die mens wat op U vertrou!” (Ps. 84:13).
Amen.