Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wil jy 'n sterk volk sien? Sorg dat die gesins- en familielewe moraal en moreel sterk is. Nou mag ons vra waarom ons volk vandag in hierdie verknegte, moreel en moraal verdrukte toestand is...
BLY IN HOM!
Hannes Ollewagen
Joh. 15:1-27
“Bly in My, soos Ek in julle. Net soos die loot geen vrug kan dra van homself as dit nie in die wysntok bly nie, so julle ook nie as julle in My nie bly nie. Ek is die wynstok, julle die lote. Wie in My bly, en Ek in hom, hy dra veel vrug; want sonder My kan julle niks doen nie.” (:4&5).
Wie in Christus bly en Christus in Hom – hy dra veel vrug, want sonder Hom kan ons niks doen nie. Honderd maal, duisend maal voel ek vandag om hierdie woorde te herhaal sodat hierdie woorde in ’n vrugtelose samelewingmag insink. Hierdie woorde moet ingang vind in ’n samelewing wat onvrugbaar geword het omdat die mens in sy waansinnige humanisme dink dat hyself tot goeie dinge in staat is! En kyk hoe onvrugbaar en toegegroei van onkruid lyk ons volksakker nie vandag nie. Die rede hiervoor is eenvoudig – ons het nie in Hom gebly nie.
Nou wat beteken dit dat ons in Hom moet bly om vrug te kan dra? En waarom sê ek dat ons nie meer in Hom bly nie en onvrugbaar geword het? Ons hanteer eers die eerste vraag. Ons moet in Hom bly en Hy in ons. God stel dit duidelik dat Christus die Woord van God is en ook self God is. “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (Joh. 1:1). Dit stel dit tog vir ons duidelik dat om in Hom te bly, beteken dat ons volgens die riglyn van sy Woord moet leef. Ons moet ons onderwerp aan hierdie gesag van God wat Hy self daargestel het om die wêreld te regeer. En om dit te kan doen, vereis dat ons sy Woord nie alleen moet ken nie, maar dit in ons harte moet bewaar en koester. Die getuienisse en gedeeltes uit God se Woord ter bevestiging hiervan is volop. Ek dink dadelik aan die baie bekende en duidelike gedeelte uit Ps. 119-9-11. “Waarmee sal die jongeling sy pad suiwer hou? Deur dit te hou na u woord. Ek soek U met my hele hart; laat my nie afdwaal van u gebooie nie. Ek het u woord in my hart gebêre, dat ek teen U nie sal sondig nie.” Ons moet Hom van harte ken soos wat Hy deur sy Woord aan ons openbaar word. En dan moet ons hierdie voorbeeld van Hom in ons lewens navolg om ’n vrugtevolle lewe in Hom te leef. “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (1 Joh. 2:6).
Ons kan nou oorgaan na die tweede vraag om te besin of ons nog werklik in Hom bly en of ons Hom verlaat en onvrugbaar geraak het. Dit is nie alleen hartseer dat so ’n groot menigte van ons volksgenote van Hom af wegbeweeg het om nie meer in Hom te bly nie. Hiermee verwys ek na die groot aantal mense wat net minder en minder ag gee op die insettinge van sy Woord en geen begeerte meer het om hul lewens hiervolgens te rig nie. Dit is selfs meer hartseer en tragies dat die hoofstroom kerke tot ’n groot mate tot hierdie vervreemding teenoor Hom bygedra het eerder as om dit teen te werk. Het ek reg om so ’n verskriklike stelling te maak? Beslis. Wanneer kerke en sogenaamde leraars allerhande verskonings voorhou om die onfeilbare en heilige Woord van God te verander, is hulle besig om mee te werk aan die vervreemding van mense teenoor God. Die verandering van sy Woord gaan Hom op geen wyse verplig om Homself tot hierdie gewysigde beeld wat die mens van Hom skep aan te pas nie. Hy IS WIE HY IS. “En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is . Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur.” (Ex. 3:14). En Hy sal tot in ewigheid, onveranderlik bly. “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe daal van bo af neer, van die Vader van die ligte, by wie daar geen verandering of skaduwee van omkering is nie.” (Jak. 1:17). En in plaas daarvan dat mense met gesonde prediking op hul sondes gewys word en dit aan mense bekendgemaak word dat hulle van God wegdwaal, word hulle met valse prediking gerus gestel om langs hul dwaalweë te bly. Hulle word nie opgeroep en vermaan om tot Hom terug te keer om in Hom te bly nie. Die riglyn uit 2 Tim. 3:16&17 word verontagsaam. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” Eerder as wat God se Woord tot teregwysing en onderwysing in die geregtigheid gebruik word – soos wat dit deur God ingegee is – probeer mense om hierdie heilige Woord van Hom te verander om mense se verkeerde handelinge en lewens te “akkomodeer”. Daar word in der waarheid met die verandering en verdraaiing van God se Woord ’n valse beeld van Hom geskep. En wat is dit anders as afgodery?
Wanneer die regering van die dag wette maak wat teen God se gesag indruis, is die kerk maar op hul hakke om dieselfde goddeloosheid die kerk in te dra en goed te praat eerder as om die regering daaroor aan te spreek. Die regering word nagepraat en God word verloën eerder as wat die regering aangespreek en God se Woord nagepraat word. En so doen die kerke in ons land vandag mee aan die vernietiging van God se gesag eerder as om hul plig na te kom en dit te verdedig. Hierdie optrede getuig van ’n gebrek aan liefde vir God, want ’n mens vernietig nie iets (of iemand) waarvoor jy lief is nie. As ons Hom werklik liefhet, sal ons sy gebooie bewaar. “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Joh. 14:15).
Die goeie nuus wat ek vandag bring vir u wat God nog in waarheid liefhet, is dat God nie vernietig of verander is deur diegene wat Hom verloën nie. Hy is steeds die onveranderlike God wat Hom deur sy Woord aan ons openbaar. En ek en u kan Hom steeds deur sy onfeilbare en onveranderlike Woord beter leer ken, sy Woord in ons harte bewaar en onsself toespits om vrugtevol vir Hom te leef. Dit is natuurlik vir ons sleg om die vrugteloosheid en verval in ons eie volk te moet aanskou, maar dit moet ons nie ontmoedig om ons verantwoordelikheid teenoor Hom na te kom of ons liefde vir Hom laat verkoel nie. Ons het steeds die verantwoordelikheid en voorreg om in Hom te bly en deur Hom vrugtevol te leef. Welgeluksalig is ons as ons hieraan vashou! “WELGELUKSALIG is die opregtes van weg, wat in die wet van die HERE wandel. Welgeluksalig is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek; ook geen ongeregtigheid doen nie, maar in sy weë wandel.” (Ps. 119:1-3).