Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Wyse volksleier tree nie oorhaastig op nie, maar dink deeglik na alvorens hy reageer. Hy veronagsaam ook nie voor die handliggende feite nie. Wysheid is ‘n gawe van God. “En as iemand van julle wysheid kortkom, laat hom dit van God bid.... en dit sal aan hom gegee word” (Jak.1:5)
GOD SE LEIDING
Hannes Ollewagen
Ps. 25:1-22
“Tet. Die Here is goed en reg; daarom sal Hy sondaars leer aangaande die weg.Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer. Kaf. Al die paaie van die Here is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar. Lamed. Om u Naam ontwil, Here, vergeef my ongeregtigheid, want dit is groot. Mem. Wie tog is die man wat die Here vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.” (:8-12).
Daar is seker min dinge in ons dae waarvan ’n mens kan sê – “dit is goed en reg.” En dan is daar seker nog minder dinge wat vandag wel goed en reg is, wat oor ’n paar dekades steeds goed en reg sal wees. Ons kan egter vandag nog, duisende jare na koning Dawid, in alle eerlikheid saam met hom getuig – “Die Here is goed en reg;”. Hy was in Dawid se tyd en selfs voor Dawid goed en reg. Hy was na Dawid in elke geslag tot by ons goed en reg. En Hy sal na ons tot in ewigheid goed en reg bly. Ons kan dus met reg vra waar in die heelal die mens beter leiding in die lewe kan kry – leiding wat hierdie goeie en regte Leidsman kan oortref? Dit is gewoon onmoontlik.
Dit is wonderlik om te besef dat hierdie goeie en regte Leidsman die mens graag in die regte weë van die lewe wil onderrig. Dit is nie alleen duidelik uit ons Skrifgedeelte uit Ps. 25 nie, maar ook op verskeie ander plekke in sy Woord maak God dit baie duidelik. Luister na die woorde uit Ps. 32:8. “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.” En dan is daar ook die duidelike getuienis in Jes. 48:17. “So sê die Here, jou Verlosser, die Heilige van Israel: Ek is die Here jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”
God leer ons nie alleen dat Hy aan ons hierdie kosbare raad en leiding in die lewe wil bied nie, maar ook onderrig Hy ons t.o.v. ons gesindheid in hierdie verband. Ons moenie hierdie goeie en kosbare raad van Hom weerstaan nie. Ons moenie gedwing word om hierdie goeie en heilsame leiding aan te neem nie. “Wees nie soos 'n perd, soos 'n muilesel wat geen verstand het nie, wat 'n mens moet tem met toom en teuel as sy tuig, anders kom hy nie naby jou nie.” (Ps. 32:9). En ons moenie dink dat onsself oor genoeg wysheid beskik dat ons God se raad nie nodig het nie. Ons lees in Job 37:24 wat God se gesindheid teenoor ’n mens is wat eiewys is. “...almal wat eiewys is, sien Hy nie aan nie.” God sal nie sy kosbare wysheid en leiding met ’n mens deel wat eiewys is en dink dat hy hierdie raad van God nie nodig het nie. God sal dit eerder vir so ‘n mens verberg. Daarvan getuig Christus in Matt. 11:25. “IN daardie tyd het Jesus gespreek en gesê: Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” Ek dink dat die ernstige aard van eiesinnigheid vir ons in 1 Sam. 15:23 onderstreep word waar dit as afgodery en beeldediens geëtiketeer word. “Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”
Ons hoef nie vlekkeloos en volmaak te wees sodat God ons in sy weë sal onderrig nie. Inteendeel, Hy stel dat Hy sondaars leer aangaande die weg. Hy het gekom om sondaars te red en dit doen Hy deur ons in die weë van die lewe en in die weë van geregtigheid te onderrig. En ons moet hierdie onderrigting van Hom met die regte gesindheid aanneem. Ons moet glo dat sy raad en leiding vir ons waar, goed en reg is. Ons moet hierdie raad van God vertrou met ons hele hart en nie in eiesinnigheid self probeer beoordeel nie. “Vertrou op die Here met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.” (Spr. 3:5). God IS goed en reg en derhalwe is dit ook die geval met sy raad – ons hoef dit nie te beoordeel nie – dit word reeds as ’n sekerheid aan ons gestel. God het ons nooit gevra om dit te beoordeel nie. Die enigste keuse wat ons in hierdie verband gegun word, is om dit met ootmoed aan te neem of om dit in eiesinnigheid te verwerp. Enige beoordeling van die egtheid, goedheid en volmaaktheid daarvan deur ’n mens, is verwaand.
’n Gelowige kind van God moet die welbedoelde raad en wysheid van ons hemelse Vader met opregtheid en kinderlike geloof en eerbied omarm. Ons moet met ’n opregte gesindheid van ootmoed God se leiding aanvaar. “Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer.” (Ps. 25:9). Ons lees ook in Jak. 1:21 van die gesindheid waarmee ons God se Woord moet aanneem. “Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red.” (Jak. 1:21). Laat ons daarom aan ons Vader die nodige eerbied betoon deur sy liefdevolle, goeie en regte raad en leiding vir ons lewens te aanvaar. En laat ons op die wyse doen wat goed is voor Hom deur reg te doen en ootmoedig met Hom te wandel.
“Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die Here van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?” (Miga 6:8).