Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die tong is 'n magtige wapen en slegs met die krag van die Heilige Gees kan hierdie wapen tot eer van God aangewend word. As ons nie elke dag bid vir dié genade nie sal ons meer oorlog as vrede ervaar.
WEES VOLMAAK
Hannes Ollewagen
Matt. 5:17-48
“Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” (:48).
Hierdie opdrag klink dalk vir ons ’n bietjie onbillik, nie waar nie? Dit is tog nie moontlik dat ons as sondige en nietige mense by die punt van volkmaaktheid in die gelykheid van ons hemelse Vader kan uitkom nie? Maar onthou, ons as mense moet ons nie daarmee bemoei om voor God te besluit wat moontlik en wat nie moontlik is nie. Ons moet onsself toespits op dit wat Hy in sy Woord aan ons leer en met ywer probeer om Hom daarin te gehoorsaam.
Hierdie opdrag om volmaak te word, word ook nie net een maal in God se Woord aan ons gegee nie. Ons lees in Paulus se brief aan die Korinthiërs waar dit weer herhaal word. “Verder, broeders, wees bly; word volmaak; laat julle vermaan; wees eensgesind; hou vrede, en die God van liefde en vrede sal met julle wees.” (2 Kor. 13:11). En ook in Jakobus 1:2-4 lees ons hiervan. “AG dit louter vreugde, my broeders, wanneer julle in allerhande versoekinge val, omdat julle weet dat die beproewing van julle geloof lydsaamheid bewerk. Maar die lydsaamheid moet tot volle verwerkliking kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees en in niks kortkom nie.”
Ons wil onsself seker die vraag afvra of God aan die mens ’n opdrag gee wat “onmoontlik” is om uit te voer? Beslis! Dit leer ons uit die opdrag wat Hy aan Moses gegee het om Israel deur die Rooi see te lei. En die opdrag aan Gídeon om met driehonderd man die Midianiete te verslaan. En die opdrag aan die weduwee in die dae van Elísa om met ’n flessie olie al haar skuld te gaan vereffen en nog genoeg oor te hou sodat sy en haar twee kinders daarvan kon leef. Moes Elísa nie na die kind van die Sunamitiese vrou gaan om hom uit die dood lewend te maak nie – ons almal weet tog dat dit onmoontlik is om iemand uit die dood terug te bring? En so kan ons die lys aanvul en aanvul met al die “onmoontlike” opdragte wat God aan mense gegee het wat deur die krag van God moontlik was. Onthou God se woorde in Luk. 1:37. “Want geen ding sal by God onmoontlik wees nie.”
Dit is ook nie met hierdie “onmoontlike” opdrag van God aan ons om volmaak te word anders nie. Dit is beslis uit ons eie krag, in die vlees, geheel-en-al onmoontlik. Dit is selfs nie vir ons ouers, vriende of die dominee moontlik om ons tot hierdie volmaaktheid te lei nie. Hulle kan ons bekendstel en bring tot by Hom wat ons eindelik tot volmaaktheid kan bring, maar nie verder as tot by Hom nie. “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree.Want so 'n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het. Want die wet stel as hoëpriesters aan mense met swakhede, maar die woord van die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.”(Heb. 7:25-28).
Ek hou graag ook vir u ’n kosbare les uit Matt. 19:21 voor. “Jesus antwoord hom: As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ’n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.” Christus sê vir hierdie ryk jongman, as jy volmaak wil wees, volg My. Hy sê m.a.w. aan Hom – Ék is die Een wat jou na volmaaktheid kan lei. En sou Christus aan hierdie man die uitnodiging rig indien Hy nie instaat was om hom na volmaaktheid te lei nie? Hy sal mos nimmer ’n mens mislei nie! Luister ook na die getuienis uit Kol. 1:28. “Hom verkondig ons, terwyl ons elke mens vermaan en elke mens in alle wysheid onderrig, om elke mens volmaak in Christus Jesus voor te stel;”.
Wanneer Christus aan die ryk jongman stel dat Hy hom na volmaaktheid kan lei, gee Hy ook aan hom die opdrag om eers sy aardse besittings te gaan verkoop. Hierdie dinge wat vir hom té belangrik is en wat tussen hom en Christus nog skeiding gemaak het, moes hy eers van afstand doen. Volmaak in Christus beteken tog volkome, geheel en al, met onverdeelde trou en toewyding teenoor Hom. En die hartseer is dat die jongman sy aardse besittings toe bo hierdie volmaaktheid verkies het. “Maar toe die jongman dié woord hoor, het hy bedroef weggegaan; want hy het baie besittings gehad.” (Matt. 19:22). Hierdie saak van die jongman spreek ons sekerlik vandag ook direk aan. Ons wil Christus dalk ook graag dien, maar ons wil dit doen saam met die een en die ander wat vir ons ook nog te belangrik is. En derhalwe stel God dit vir ons duidelik in sy Woord dat Hy nie van ons ’n gedeelde toewyding en liefde verwag nie, maar ’n volkome toewyding en liefde!
Ons moet ook daarteen waak om nie soos die ryk jongman van Hom af weg te draai en die verganklike, nietige dinge van hierdie wêreld wat nog tussen ons en Hom staan, aan te hang nie. Ons moet eerder volgens die voorbeeld van Paulus met alle ywer na hierdie volkomenheid in Christus jaag en daarna gryp. “Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry en in Hom gevind te word, nie met my geregtigheid wat uit die wet is nie, maar met dié wat deur die geloof in Christus is, die geregtigheid wat uit God is deur die geloof; sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding en die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word, of ek miskien die opstanding uit die dode kan bereik. Nie dat ek dit al verkry het of al volmaak is nie, maar ek jaag daarna of ek dit ook kan gryp, omdat ek ook deur Christus Jesus gegryp is.” (Fil. 3:8-12).
Wanneer ons met ywer en toewyding ons in waarheid tot Hom wend, sal ons deur Hom self tot volmaaktheid gelei word – hoe onmoontlik dit ookal vir ons in ons menslikheid mag lyk. “EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (1 Pet. 5:10).