Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Mens is soms verstom dat soveel mense se oë só gesluit vir die waarheid kan wees, veral die waarheid oor God en die waarheid oor ons volk en landstoestand. Maar Jesus het aan die sondige Skrifgeleerdes wat gedink het hulle weet alles, gesê: "Tot 'n oordeel het Ek in hierdie wêreld gekom sodat die wat nie sien nie, mag sien, en die wat sien, blind mag word." En toe hulle vra of hulle dan ook blind is, antwoord Hy: "As julle blind was sou julle geen sonde hê nie maar nou sê julle: Ons sien! Daarom bly julle in die sonde". Die Bybel sê dus dat diegene wie so geestelike oë so gesluit is dat hulle die waarheid nie sien nie maar dink dat hulle beter weet, bly in die sonde - onrusbarende getalle in Suid-Afrika!
KAN ONS DIE HERE DIEN?
Hannes Ollewagen
Jos. 24:1-33
“Maar Josua het vir die volk gesê: Julle kan die Here nie dien nie, want Hy is 'n heilige God, Hy is 'n jaloerse God; Hy sal julle oortreding en julle sondes nie vergewe nie. As julle die Here verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en julle vernietig, nadat Hy aan julle goed gedoen het.” (:19&20).
Ek glo dat Josua se antwoord aan die volk vir hulle redelik onverwags gekom het. Hierdie antwoord wat hy aan hulle gee nadat hy vir hul die opdrag en keuse gee om God te dien. “Vrees dan nou die Here en dien Hom in opregtheid en waarheid, en verwyder die gode wat julle vaders gedien het oorkant die Eufraat en in Egipte, en dien die Here. Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies dan vir julle vandag wie julle wil dien: òf die gode wat julle vaders daar oorkant die Eufraat gedien het, òf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon; maar ek en my huis, ons sal die Here dien.” (:14&15). En hierop antwoord die volk dat hulle die HERE sal dien. “...Ook ons sal die HERE dien, want Hy is onse God.” (:18). Dit net om van Josua te hoor dat hulle die HERE nie kan dien nie.
Josua verduidelik dan ook aan die volk waarom hy hierdie stelling maak dat hierdie volk God nie kan dien nie. Die rede is dat Hy ’n heilige en ‘n jaloerse God is wat sy eer met geen ander deel nie. “EK is die Here, dit is my Naam; en my eer sal Ek aan geen ander gee, of ook my lof aan die gesnede beelde nie.” (Jes. 42:8). En Josua dink sekerlik terug aan die keer in die woestyn wat die volk God in hierdie saak vertoorn het. “Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar 'n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” (Ex. 32:3&4). Hierdie oortreding van die volk was só onaanvaarbaar dat Hy die hele volk wou vernietig. “Toe sê die Here vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel. En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle 'n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. Verder het die Here vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is 'n hardnekkige volk. Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot 'n groot nasie maak.” Dit is geen geringe saak in God se oë wanneer ons die eer wat Hom toekom nie aan Hom gee nie. Dit is nie alleen uit hierdie gebeure in Israel se lewe duidelik nie, maar ook uit die opdrag in Ps. 50 wat handel oor die ware Godsdiens. “...en roep My aan in die dag van benoudheid: Ek sal jou uithelp, en jy moet My eer.” (Ps. 50:15). Hierin stel God dit aan die mens duidelik dat Hy as ’n God vir die mens sal optree, maar dat Hy van die mens verwag om Hom te eer.
Hierdie saak is dan in ons dae steeds baie relevant. Terwyl ons as ‘n Christelike volk bekend staan, m.a.w. dat ons ook gekies het om die HERE te dien, is die vraag of ons hierin slaag. Kry ons dit reg om die HERE te dien – kán ons die HERE dien? Gee ons aan Hom die eer wat Hom toekom? Ons moet hierdie vraag nie te vinnig en met te veel selfvertroue beantwoord omdat ons dalk gereeld kerktoe gaan en nou-en-dan van die HERE praat nie. Dit is uit voorafgaande duidelik dat om God na behore te dien veel meer behels as om net ’n paar godsdienstige formaliteite of instellings na te kom. Dit behels dat ons Hom met ’n opregte hart uit liefde sal dien en Hom sal eer. “Meester, wat is die groot gebod in die wet? En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” (Matt. 22:36-38). Hierdie is vir ons die hoogste en grootste gebod. Daar is nie veronderstel om enigiets te wees waarvoor ons ’n groter liefde of eerbied as ons God het nie. Dit is die eis van ’n ware en opregte diens aan God.
Wanneer ons die toedrag van sake rondom ons in waarheid beoordeel, is ek van mening dat ons hierdie toets druip. Daar het onder ons volk ’n baie verkeerde ding kop uitgesteek – die angel van ’n selektiewe Godsdiens. En met selektiewe Godsdiens bedoel ek dat ons onsself nie van God wil distansieër nie – daar is baie van sy gebooie wat ons wil onderhou. En ons sal onsself selfs duidelik uitspreek teen gruwels soos egskeiding, homoseksualiteit, diefstal, dwelmmisbruik, tatoeëring en dergelike dinge en selfs ons ondersteuning gee aan mense wat hul in die openbaar hierteen uitspreek. Maar wanneer mense in ons familie of vriendekring hulle aan hierdie dinge skuldig maak, probeer ons dit verontskuldig, probeer ons dit onder die dekmantel van “Christelike liefde” regverdig of goedpraat al is dit tot oneer van God. Ons kan God nie op so ’n wyse dien nie. “Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie.” (Matt. 10:37). En wanneer ons die televisie aanskakel en na films kyk waarin God se Naam belaster word en Hy doelbewus oneer aangedoen word, maak ons maar asof ons dit nie hoor nie. Ons lekker ou vermaak is immers vir ons belangriker as die eer van God. En in sake is dit vir my belangriker om die beste winsgewindheid in ’n transaksie te beding – al strek dit tot oneer van God. Dit is ook vir ons belangriker dat ons kinders goed in sport moet presteer as dat hulle behoorlik en met erns in waarheid van God geleer word. Verskoon tog dat ek nie die eerbied teenoor God hierin kan raaksien nie.
Kyk rondom u. Hierdie land van ons het verval tot ’n ashoop. En dit word regeer deur ’n kommunistiese rowerbende. Laasgenoemde is nie metafories of enigsins ’n oordrywing nie – dit is gewoon die naakte waarheid. Hierdie kriminele het hierdie kosbare Vaderland van ons verniel en geplunder en ons volk word groot skade berokken. En ons moenie op ’n hopie sit en onsself bejammer as die slagoffers wat deur God in die steek gelaat is nie – dit is om Hom ’n verdere oneer aan te doen! Ons moet ons ore en oë oopmaak en besef dat ons Hom in ons volkshuishouding oor die afgelope paar dekades geweldig vertoorn en geweldige oneer aangedoen het. En ons is vooraf gewaarsku wat die gevolg daarvan sal wees. “As julle die Here verlaat en vreemde gode dien, sal Hy julle weer kwaad aandoen en julle vernietig, nadat Hy aan julle goed gedoen het.” (Jos. 24:20).
Die God van Israel in die dae van Josua is ook die God van ons volk tot wie ons moet terugkeer vandag. Hy is die onveranderlike God wat beteken dat die oplossing in die dae van Josua steeds vandag vir ons die oplossing sal wees. Luister hierna, neem dit ter harte en handel in u lewe en in u huis daarvolgens dat ons weer ’n volk tot eer van Hom sal wees wat Hom in waarheid in ons benoudheid kan aanroep. “Verwyder dan nou die vreemde gode wat onder julle is, en neig julle hart tot die Here, die God van Israel.” (Jos. 24:23).