Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
"As ons ooit sou moes veg vir ons voortbestaan en ons vaderland, laat geen mens en geen staat daaroor twyfel hê dat ons dit sal doen nie. Dit is ons land, ons erfenis, waarmee al ons verwagtings en ons verlangens diep verbonde is en waarin ons onder leiding van die Almagtige al die probleme sal oplos op ons eie manier tot almal se voordeel en geluk." – Dr HF Verwoerd 1963
DIE GESAG VAN GOD SE WOORD
Hannes Ollewagen
Luk. 16:19-31
“Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister. Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer. Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.” (:29-31).
Daar het onlangs nog ‘n “vertaling” van die Bybel die lig gesien. Nogeens kon mense nie die begeerte in hul onderdruk om aan die Woord van God te torring nie. En dan wonder ek ook telkens of hierdie mense nie op enige stadium met aandag na Open. 22:18&19 luister nie. “Want ek betuig aan elkeen wat die woorde van die profesie van hierdie boek hoor: As iemand by hierdie dinge byvoeg, dan sal God oor hom die plae byvoeg waarvan in hierdie boek geskrywe is. En as iemand iets van die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, dan sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge waarvan in hierdie boek geskrywe is.”
Ek kyk toe ook vir interessantheid na laasgenoemde gedeelte in die “2023 Kontemporêre Afrikaanse Vertaling”. Dit lui as volg – “En as iemand die woorde van die boek van hierdie profesie wegneem, sal God sy deel wegneem uit die boek van die lewe en uit die heilige stad en uit die dinge wat in hierdie boek geskrywe is.” Die weglating van die woord “iets” verleen aan hierdie vers ’n geheel ander betekenis.
Daar is natuurlik altyd allerhande verskonings ten gunste van hierdie sogenaamde “vertalings”. Hierdie nuwe weergawes is egter nie vertalings nie, maar eerder nuwe vertolkings. Ek hou vir u die definisie van die woord “vertaal” voor – “ww. in ’n ander taal oorsit.” Eenvoudig. Daarteenoor is ’n vertolking ’n poging om ’n saak te verduidelik – natuurlik volgens die persepsie van die vertolker. Maar dit is tog nie reg dat mense hulself die reg aanmatig om vir God te besluit wat Hy “eintlik bedoel” het nie? As dit nodig is om aan God se Woord te verander sou dit impliseer dat dit nie volmaak is nie. En as ons impliseer dat God se Woord nie volmaak is nie, waar laat Ps. 12:7 ons dan? “Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in 'n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.” Is hierdie woorde wat God gespreek het dan onwaar? En as dit dan nie onwaar is nie waarom is dit nodig om enigiets te verander wat só suiwer is? Moet ons nie eerder ’n liefde vir die volmaakte Woord van God koester as om dit te wil verander deur ons eie vertolkings daarvan nie? “U woord is deur en deur gelouter, en u kneg het dit lief.” (Ps. 119:140).
Dit is ook vir my interessant dat hoe meer sogenaamde vertalings en hoe “makliker verstaanbaar” hierdie “vertalings” kwansuis gemaak word, hoe leër raak die kerke. Ewe onverstaanbaar vir my is dat ons voorsate wat baie minder geleentheid tot akademiese opleiding gehad het en baie minder toegang tot hulpbronne soos woordeboeke en inligting op die internet tog hierdie “moeiliker vertalings” onder die knie kon kry. Dit is dalk omdat hulle werklik erns daarmee gemaak het om die Woord van God indringend te bestudeer en te bepeins dat hulle dit kon verstaan, want dit is immers die openbaring van God wat nodig is vir ons om dit te verstaan eerder as ons eie insig. “...Ek loof U, Vader, Here van die hemel en die aarde, dat U hierdie dinge verberg het vir wyse en verstandige mense en dit aan kindertjies geopenbaar het.” (Matt. 11:25). Luister ook na God se opdrag in Jer. 33:3. “Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie.”
Die samelewing sal veel beter daaraan toe wees as ons ophou om die woord van God te probeer analiseer en foute daarin te soek en dit te probeer “verbeter”, en eerder ons eie lewens teen die reeds onfeilbare Woord van God begin analiseer, die tekortkominge wat die Woord vir ons in ons lewens uitwys erken, en ons eie lewens volgens die riglyn van die Woord verbeter. God het tog immers sy Woord aan ons vir hierdie doel gegee. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.” (2 Tim. 3:16). Waarom sou die mens alewig op soek wees na “waarheid” wanneer God reeds die waarheid aan ons gegee het? Dit sal ’n nimmereindigende soektog wees omdat dit die geloof eerder as die waarheid is wat ontbreek. “...wat altyd leer en nooit tot kennis van die waarheid kom nie.” (2 Tim. 3:7). Dit is ’n ware kennis en aanvaarding van hierdie Woord van God met geloof wat ons eindelik langs die weg van vryheid lei. “En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak.” (Joh. 8:32). Dit word ook in Joh. 17:17 vir ons baie duidelik gestel dat die waarheid van God reeds aan ons gegee is. “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” Ons hoef nie tussen God se woorde leuens en waarheid te onderskei nie aangesien alles wat uit die mond van God uitgaan volkome waarheid is.
Dit is vir ons duidelik uit die gelykenis in Lukas 16 dat hulle wat nie deur Moses en die Profete, deur die Woord van God, van die waarheid oortuig word nie, op geen manier tot oortuiging gebring kan word nie. Laat ons God dank dat Hy ons die gawe van geloof geskenk het om die waarheid van sy Woord aan te neem. En laat ons stewig in hierdie onfeilbare Woord van Hom geanker bly.
“Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.” (Ps. 119:160).