Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons land het baie donker geword. Daar is bykans geen terrein wat nie aangetas is nie. Die kerklike terrein is die hartseerste! Dis asof die hel se magte oor ons eens sonnige land ontketen is. Wat ’n behoefte het ons volk nie aan die lig van Jesus as die blink Môrester nie!
KNEGTE VAN GOD
Hannes Ollewagen
Esra 5:1-17
“En hulle het ons die volgende antwoord gegee en gesê: Ons is knegte van die God van hemel en aarde, en ons bou die huis wat baie jare gelede gebou is, ...” (:11).
Hierdie woorde uit Esra laat my opslag aan die pragtige woorde in die vierde strofe van Die Stem dink – “Knegte van die Allerhoogste teen die hele wêreld vry”. En dan dink ek met hartseer aan die realiteit dat laasgenoemde in die breë oor ons volk ongelukkig vandag nie meer waar is nie. ’n Volk wat hierdie voorreg prysgegee het om van sy Godvresende lewe “vry” te breek en knegte van die wêreld te word. En die gevolge hiervan oor die laaste vyf tot ses dekades is vir ons duidelik. ’n Volk wat as knegte van die Allerghoogste met ywer gebou en gewerk het in ons kosbare Vaderland het ’n mooi toekoms gehad om na uit te sien. Ons erfdeel was ’n toonbeeld van voorspoed, vooruitgang en sukses. En eerder as om die voorbeeld uit die lewe van Israel as ’n waarskuwing voor oë te hou het ons volk hierdie voorbeeld nagevolg. En die gevolge was vir ons volk natuurlik ook nie anders as vir Israel nie. “En hulle het versterkte stede en 'n vet land ingeneem, en huise in besit geneem vol allerhande goeie dinge, uitgekapte putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in menigte, en hulle het geëet en versadig en vet geword en weelderig gelewe deur u grote goedheid. Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen.” (Neh. 9:25&26).
Wanneer ons terug kyk na geslagte wat as knegte van die Allerhoogste hier in ons land gewoon en gewerk het, sien ons die lewens van mense wat nederig en vegenoegd was. Ons sien die lewens van mense wat tot harde werk en veel opofferings bereid was ter wille van toekomstige geslagte. Ons sien die lewens van mense wat verstaan het dat God die mens geskape het om die aarde te bewoon en te bewerk en na sy wil in die deel wat Hy aan hul afgemeet het te leef. Hierdie mense het verstaan dat die mens ook ’n verantwoordelikheid teenoor God en sy medemens het en nie alleen leef om sy eie behoeftes en begeertes te bevredig nie.
Geliefdes, hierdie lewensbeskouing van ’n lewe van diensbaarheid aan God is ongelukkig grootliks oorboord gegooi en ’n humanistiese lewensbeskouing is in die plek daarvan aangeneem. Hierdie vernietigende lewensbeskouing wat vandag wêreldwyd die botoon voer. Ironies genoeg is hierdie skewe lewensbeskouing een van die grootste oorsake vir die groot ellende wêreldwyd waaroor almal ook al te graag kla. Wanorde is die logiese gevolg van ’n selfsugtige, humanistiese lewesbeskouing. “...want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.” (Jak. 3:16). En tog moet die foute en oorsaak van ellende alewig elders gesoek word, want volgens hierdie sieklike lewenbeskouing is elke mens in homself mos nooit die oorsaak van iets wat skeefloop nie. Dit verduidelik dan ook waarom daar feitlik nooit ’n oplossing vir probleme gevind word nie, want as jy op die verkeerde plek vir die fout soek sal jy by nog die fout, nog die oplossing uitkom. ’n Mens kan amper nie glo dat hierdie soort van gedagterigting ’n werklikheid is nie, want dit kan seker ten beste as kranksinnig beskou word. God waarsku die mens duidelik oor die ellendige gevolge indien die mens sy rug op Hom sou keer. “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Die HERE sal jou slaan met kranksinnigheid en blinkheid en sinsverwarring,”. Deut. 28:15,28.
Ek haal nie vandag hierdie dinge na vore sodat ons alewig kan sit en vingerwys na ander se foute nie, maar dat ons die ellendige toestand rondom ons in die oë kan kyk en dit aansien vir dit wat dit is. Ja, ellendig was die toestand ook in Esra en Nehemía se tyd toe hulle uit Babel weer na Jerusalem is om die stad en die tempel daar te gaan herbou. “En hulle het vir my gesê: Die oorgeblewenes wat vrygekom het uit die gevangenskap daar in die provinsie, verkeer in groot ellende en in smaad, en die muur van Jerusalem lê stukkend en sy poort is met vuur verbrand. En toe ek hierdie woorde hoor, het ek gesit en ween, en ek het dae lank getreur; en ek het gevas en gebid voor die aangesig van die God van die hemel”. Neh. 1:3-4. Nehemía en sy tydgenote het nie hierdie ellendige toestand ontken nie. Hulle het nie hiervan weggevlug nie. Hulle het hulself nie probeer verontskuldig dat hierdie toestand nie deur hul toedoen veroorsaak is en dat hul derhalwe niks daaromtrent hoef te doen nie. Inteendeel, luister na Nehemía se pleitrede voor God. “...Ag, HERE, God van die hemel, grote en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou vir die wat U liefhet en u gebooie onderhou – laat u oor tog opmerksaam en u oë oop wees, om te luister na die gebed van u kneg wat ek vandag voor u aangesig bid, dag en nag, vir die kinders van Israel, u knegte, terwyl ek die sondes van die kinders van Israel bely wat ons teen U gedoen het; ook ek en my familie het gesondig.” (Neh. 1:5&6). Ewe belangrik as om die probleem en toestand vierkantig in die te kyk, is dat ons begryp dat die lewensbeskouing van die mens aan die grondslag van hierdie ellende lê.
Ek dink dat dit algemene kennis is dat die meerderheid mense onder ons volk met die toedrag van sake in ons land ongelukkig is. En hierdie ongelukkigheid het ook nie onlangs ontstaan nie. Petisies, hofsake, drukgroepe vir minderheidsregte en dergelike dinge gaan ook nie hierdie kwaal genees nie omdat dit gewoon hier-en-daar ’n simptoom behandel eerder as om die oorsaak van die probleem aan te spreek. As ons as ’n volk ’n daadwerklike verandering aan die omstandighede en ook ons toekoms wil sien, sal ons ons lewensbeskouing moet verander. Ons moet die individualistiese en humaniestiese beskouing agter die rug werp en terugkeer na die beproefde weë van die Allerhoogste. “So spreek die Here : Staan op die weë, en kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin;” (Jer. 6:16). Ons moet weer ons lewensbeskouing om as knegte van die Allerthoogste hier in ons Vaderland te leef, onder ons volk herstel sodat ons ’n lewe sal leef waarin ons soek om Hom te dien, eerder as om elkeen net agter sy eie selfsugtige begeertes aan te loop. “Klim op die berg en bring hout aan en bou die huis; dan sal Ek 'n welgevalle daaraan hê en My verheerlik, sê die Here. Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword; en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas. Waarom? spreek die Here van die leërskare. Ter wille van my huis wat in puin lê, terwyl elkeen van julle vir sy eie huis hardloop.” (Hag. 1:8&9).
Nehemía en sy bondgenote het nie hierdie taak vir die herstelwerk in Jerusalem aangepak uit die voordeel of eer wat hulle daaruit sou kon trek nie. Inteendeel, Nehemía het op daardie stadium ’n gemaklike lewe in die paleis in Babel gehad. En hy het dit prysgegee om die opofferings te maak wat nodig was in diens van die Allerhoogste. “En wat vir elke dag berei is — een bees, ses uitgesoekte stuks kleinvee en voëls — is berei op my koste, en elke tien dae allerhande soorte wyn in oorvloed; en daarby het ek tog die brood van goewerneurs nie begeer nie, omdat die diens swaar was op hierdie volk. Dink, my God, my ten goede, aan alles wat ek aan hierdie volk gedoen het!” (Neh. 5:18&19). Hy was ook bereid om die spot en veragting wat hierdie besluit sou meebring te verduur, omdat hy dit met ’n opregte hart in diensbaarheid aan God gedoen het. “...Wat maak die magtelose Jode? Sal ’n mens hulle laat begaan? Sal hulle offer? Sal hulle dit vandag nog voltooi? Sal hulle die klippe uit die grondhope lewendig maak, al is dit deur brand verniel? En Tobía, die Ammoniet, het langs hom gestaan en gesê: Wat hulle ook al bou – as ’n jakkals daarteen opspring, sal hy hulle klipmuur omgooi!”
Mag die Here wat ons volk hier aan die suidpunt van Afrika geplant het ons van die smet van die verkeerde lewensbeskouings bevry wat ons gevange geneem het. En mag Hy ons weer hervorm om as knegte van die Allerhoogste as ’n volk aan Hom diensbaar te wees.