Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die beloning vir harde werk is nie wat ‘n leier daarvoor ontvang nie, maar wat hy daardeur bereik. Niemand behaal per toeval sukses nie. Dis harde werk. Die geheim van enige leier se sukses is dat hy doodgewone werk buitengewoon goed doen. Hy beland nie in die seekatgreep van ydele, onversadigbare drange na sukses nie. Wie hierin beland, is soos ‘n man wat met ‘n gorilla stoei en nie kan nie ophou as hy moeg word nie. Die dierasie moet eerste moeg word!
MOENIE ONGELOWIG WEES NIE...
...MAAR GELOWIG!
Hannes Ollewagen
Joh. 20:19-31
“En agt dae daarna was sy dissipels weer binne, en Thomas saam met hulle. En Jesus het gekom terwyl die deure gesluit was, en het in hul midde gestaan en gesê: Vrede vir julle! Daarna sê Hy vir Thomas: Bring jou vinger hier, en kyk na my hande; en bring jou hand en steek dit in my sy; en moenie ongelowig wees nie, maar gelowig. En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God! Jesus sê vir hom: Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (:26-29).
Christus se dissipels vertel vir Thomas met opgewondenheid dat Christus aan hulle verskyn het, maar hulle oortuig hom nie van hierdie wonderwerk nie. Sien is glo volgens hom. En voordat ons by onsself dink om Thomas hieroor te verkwalik moet ons dalk dink aan hoe verslae Christus se dissipels in hierdie tyd moes wees. Hulle ontmoet vir Christus in persoon en vir baie jare lank leef hul elke dag saam met Hom. Hulle offer hul lewens vir Hom op. Hulle beleef soveel dinge saam met Hom – ook die wonderwerke wat Hy verrig. Hoe verbysterend moes sy dood nie vir hulle gewees het nie!
Sy volgelinge se verwagting oor Hom as Verlosser van Israel was sekerlik baie groot. En met goeie rede! En na soveel jare word hierdie Verlosser na Wie hul opsien aan ’n vloekhout vasgenael en hulle sien hoedat Hy gemartel word en ’n afgryslike en pynlike dood sterf. Hulle hoor ook die smaadredes – “as U die Seun van God is verlos uself”. En hulle vra hulself sekerlik ook af waarom Hy dit dan nie doen nie? Waarom wys U hulle wat U só bespot en smaad nie dat U God is nie? Waarom verdelg U hulle nie? Maar eerder blaas Hy sy laaste asem uit in ’n toestand wat enige mens ten beste as hopeloos kan beskryf. . . En dan haal hulle Hom van die vloekhout af – morsdood, leweloos – daaroor is by geeneen van hulle twyfel nie. Hulle balsem Hom en draai sy liggaam in doeke toe en lê Hom in ’n graf neer. En hulle gaan sekerlik vandaar met ’n verskriklike hartseer en verslaentheid weg.
Wanneer Christus aan die dissipels verskyn en Thomas nie by is nie wys Hy aan hulle sy hande en sy sy. Hy het tog begrip dat hierdie ongewone verskynsel van Hom wat uit die dode opgewek word vir die mens moeilik sal wees om te begryp. En wanneer Hy weer aan die dissipels verskyn, is dit duidelik dat Hy pertinent aan Thomas aandag gee. Hy wys nie alleen sy wonde aan Thomas nie, maar spreek hom dadelik aan met die opdrag om selfs die wonde te kom aanraak sodat hy van die egtheid daarvan oortuig kan word. En dan beveel Christus hom – “...moenie ongelowig wees nie, maar gelowig.”. En opslag roep Thomas sy belydenis uit – “...My Here en my God!”.
Hierdie verskyning van Christus aan sy dissipels, en veral aan Thomas, onderstreep weer vir ons die belangrikheid van die mens se redding in God se oë. Wanneer God die tweede maal aan hulle verskyn, is dit duidelik met die besonderse doel om Thomas se ongelowigheid aan te spreek. Thomas moes nog oortuig word en daarom verskyn Christus weer aan hulle en spreek Thomas in besonder aan. Dit laat ons dink aan die gelykenisse van die verlore skaap en afgedwaalde penning waarin Christus dit stel hoe belangrik die redding van mense vir Hom is. “Watter man onder julle wat honderd skape het en een van hulle verloor, laat nie die negen-en-negentig in die woestyn staan en gaan agter die een aan wat verlore is totdat hy dit kry nie? En as hy dit kry, sit hy dit met blydskap op sy skouers. Ek sê vir julle dat daar net so blydskap sal wees in die hemel oor een sondaar wat hom bekeer, meer as oor negen-en-negentig regverdiges wat die bekering nie nodig het nie.” (Luk. 15:4,5 & 7).
Ten spyte van die ander dissipels wat aan Thomas vertel het dat Jesus leef en dat Hy aan hulle verskyn het, het hy nog nie geglo nie. Dit was vir hom amper net té ongelooflik dat so iets kon gebeur – hy kon dit nie insien nie. En is ’n soortgelyke gedrag nie ook by baie mense te bespeur wat hul eie redding betref nie? Hulle lees en hoor van die wonderwerkende krag van God en ook van God se barmhartigheid en vergifnis. Hulle weet hiervan, maar dit is vir hulle moeilik om te glo dat hierdie wonderlike optrede van Christus ook op hulle lewens van toepassing kan wees. Satan wil hulle graag laat glo dat hul sonde só groot is dat God hul nie sal kan of wil vergewe nie. En dit is onwaar! Luister na wat God vir ons in Jesaja 1:18 leer. “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here : al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” Hy getuig ook in 1 Johannes 1:9 dat Hy met getrouheid ons sondes sal vergewe indien ons dit met opregtheid voor Hom bely. “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” Satan sal ons verder ook wil oortuig dat ons in God se oë nie belangrik genoeg is dat Hy ons sal red nie. Hierdie leuen word ook in 1 Tim. 2:3&4 aangespreek. “Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” Die belangrikheid van die mens se redding en die erns wat God daarmee maak word ook in Joh. 3:16 vir ons duidelik gestel. “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” En dink maar hoeveel maal die Here Homself ook in my en u lewe op verskillende maniere betuig het. Waarom? Tot opbou van ons geloof in Hom sodat ons nie ongelowig moet wees nie, maar gelowig ten einde gered te kan word.
Net so duidelik as wat God dit stel oor hoe belangrik die mens se redding vir Hom is, so duidelik is Hy daaroor dat redding vir die mens sonder geloof heeltemal ontmoontlik is. “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.” (Joh. 3:18). En daarom die opdrag van God nie alleen aan Thomas nie, maar ook aan my en u – “Moenie ongelowig wees nie, maar gelowig”.