Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het alles goed geskep maar ook vooruit geweet dat daar kwaad uit die goeie sou voortkom. Maar dit is ook sy Alvermoë wat weer goed uit die kwaad laat voortkom wanneer ons na Hom terugkeer.
7 SEPTEMBER
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het alles goed geskep maar ook vooruit geweet dat daar kwaad uit die goeie sou voortkom. Maar dit is ook sy Alvermoë wat weer goed uit die kwaad laat voortkom wanneer ons na Hom terugkeer.
DIE KINDERS VAN GOD
Hannes Ollewagen
1 Joh. 3:1-24
“Hierin is die kinders van God en die kinders van die duiwel openbaar: elkeen wat die geregtigheid nie doen nie, is nie uit God nie, en hy ook wat sy broeder nie liefhet nie.” (:10).
Ons lees hier van ’n duidelike onderskeid wat getref word. Die kinders van God word van die kinders van die duiwel onderskei. En hier word spesifiek van twee eienskappe melding gemaak wat die kinders van God van die kinders van die duiwel onderskei. Hierdie twee eienskappe, liefde en geregtigheid, is by die kinders van God aanwesig en natuurlik by die kinders van die duiwel afwesig.
Ons lees in Psalm 11:7 hoe kosbaar hierdie eienskap van geregtigheid in God se oë is. Dit word vir ons so duidelik en uitdruklik gestel. “Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.” God se behae in die mens wat geregtigheid doen, word ook vir ons in Spreuke 15:9 uitgedruk. En in hierdie selfde Skrifgedeelte is die onderskeid tussen hulle wat geregtigheid doen en hulle wat goddeloos handel weer duidelik. “Die wandel van die goddelose is vir die HERE ’n gruwel, maar hom wat geregtigheid najaag, het Hy lief.”
In Psalm 15 lees ons waar Dawid melding maak van hulle wat naby aan God kan wees – hulle wat in sy tent kan vertoef. Dit is m.a.w. mense wat in God se teenwoordigheid welkom sal wees. En dit behoort vir ons geen verrassing te wees dat geregtigheid weer een van hierdie eienskappe is nie. “’n PSALM van Dawid. HERE, wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek;” (Ps. 15:1&2). Hierdie getuienis van Dawid word verder uit die mond van die profeet Jesaja bevestig. “...Hulle sê: Wie van ons kan woon by ’n verterende vuur, wie van ons kan woon by ’n ewige gloed? Hy wat in geregtigheid wandel en spreek wat reg is, wat gewin deur afpersinge versmaad, wat sy hande uitskud om geen omkoopgeskenk aan te gryp nie, wat sy oor toestop om van geen bloedskuld te hoor nie, en sy oë sluit om wat sleg is, nie te sien nie – “ (Jes. 33:14&15). En hierdie gesonde verhouding tussen God en ’n mens wat geregtigheid doen word ook in Jesaja 64:5 vir ons onderstreep. “U kom hom tegemoet wat met vreugde geregtigheid beoefen, hulle wat aan U dink op u weë. ...”.
Die groot behae wat God in geregtigheid het, word vir ons ook beklemtoon deur die sterk veroordeling en afkeur van die teenoorgestelde hiervan, nl. die ongeregtigheid. Hoe duidelik is Matt. 7:23 nie daaroor dat God die werkers van ongeregtigheid van Hom sal wegdryf nie? “En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!” Die getuienis uit 1 Joh. 3:10 dat geregtigheid by die kinders van God aanwesig is en by die kinders van Satan ontbreek, word ook in Matt. 23 uitdruklik gestel. “So lyk julle ook van buite vir die mense wel regverdig, maar van binne is julle vol geveinsdheid en ongeregtigheid. Slange, addergeslag, hoe sal julle die oordeel van die hel ontvlug?” (:28 & 33). En ewe duidelik kom hierdie boodskap na vore waar Paulus vir Élimas as ’n kind van die duiwel bestempel omdat hy die geregtigheid teëgaan. “Kind van die duiwel, vol van alle bedrog en alle listigheid, vyand van alle geregtigheid, sal jy nie ophou om die reguit weë van die Here te verdraai nie?” (Hand. 13:10).
Christus het dan nie alleen die ongeregtigheid skerp aangespreek en veroordeel nie, maar ook van God se behae in geregtigheid gespreek. Luister na die saligsprekinge uit Matt. 5. “Salig is die wat honger en dors na geregtigheid, want hulle sal versadig word.” (:6). “Salig is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele.” (:10). En verder het Hy aan ons ’n duidelike opdrag in Matt. 6:33 gegee om die geregtigheid na te jaag. “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Ja, Christus wat sy lewe afgelê het nie sodat ons onsself in losbandigheid en ongeregtigheid kan verlustig en sy dood aan die vloekhout kan gebruik om ons gewete te sus nie, maar juis sodat ons die ongeregtigheid kan afsterwe en vir die geregtigheid kan leef. “...wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is.” (1 Pet. 2:24).
Dit behoort vir ons duidelik te wees hoe groot God se behae in geregtigheid is. Laat ons daarna streef om Hom en ons naaste lief te hê en in waarheid ’n lewe van geregtigheid te lei. “En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem,” (2 Kor. 9:10).