Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As jy 'n negatiewe gebeurtenis as 'n uitdaging beskou, sal jy 'n positiewe gesindheid behou en nie toelaat dat omstandighede jou onderkry nie.
WAAR IS ONS FOKUS?
Hannes Ollewagen
Rom. 4:1-25
“En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie.En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegeeen was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het.Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.” (:19-22).
Hierdie voorbeeld uit Abraham se lewe waaroor Paulus in die brief aan die Romeine skryf, is iets wat ons as gelowiges weet, maar tog so maklik vergeet. Dit is vir ons ’n vermaning, ’n herinnering om ons fokus op God, eerder as op ons probleme te vestig. Ja, in plaas daarvan dat ons die omvang en die grootheid van die probleem van die een kant na die ander moet bedink, behoort ons fokus daarop te wees om die Almag van God te bedink. Ons behoort sy getrouheid te bedink. Ja, ons behoort ons gedagtes op sy Goddelike heerlikheid te vestig.
Die gang van sake in die wêreld kan ons maklik tot moedeloosheid en neerslagtigheid stem. Wanneer ons lees van diefstal, bedrog, moord, en ander dade wat selfs te gruwelik is om te noem, voel ons soms om in sak-en-as te gaan sit en die handdoek in te gooi. Maar dit is nie hoe God se kinders probleme hanteer nie. Het Christus, omdat Hy bewus was van die smartlike lyding wat voor Hom gelê het gaan sit en Homself bejammer? Beslis nie. Hy het hierdie probleem, hierdie bedreiging in gebed tot die Vader gebring. Hy het die Vader selfs gevra om hierdie lydensbeker by Hom te laat verbygaan, maar hiermee saam het Hy ook in die Vader se besluit berus. En dan was sy fokus ook nie op sy eie lyding, die onregverdige straf wat Hy moes ondergaan nie, maar eerder was dit daarop om te alle tye die wil van God te doen.
Abraham was nie die enigste voorbeeld uit God se Woord wat ons in hierdie saak tot voorbeeld strek nie. Ek dink byvoorbeeld aan Noag. Kan u dink hoe maklik hierdie man dag-in en dag-uit kon sit en homself bekommer oor die uitwissing van die wêreld wat elke dag ’n dag nader was? En kan u dink hoedat hy op soveel probleme kon fokus – sou hy betyds met sy werk klaar kry? Sou hy genoeg kos vir hom en sy gesin bymekaarmaak? Sou die ark wat hy bou die dreigende gevaar van die vloed deurstaan? Maar dit was nie waarop Noag gefokus het nie. Sy fokus was daarop om die opdrag wat deur God aan hom opgedra was, gehoorsaam uit te voer. “Deur die geloof het Noag, toe hy 'n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en 'n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.” (Heb. 11:7).
U onthou ook seker die geleentheid waar God vir Moses geroep het om Israel uit Egipte te lei. God het met Moses gespreek en wou sy aandag op die belangrike taak voorhande vestig. En Moses het eers die een en dan die ander verskoning gehad waarop sy aandag gevestig was. En hy het verskeie verskonings voorgehou waarom hy nie na God se opdrag kan handel nie. Dit het dan ook daartoe gelei dat God se toorn teen hom ontvlam het. Maar eindelik was hierdie man, ’n besonderse man, ook deur God geleer om sy fokus te verskuif. En later het hierdie selfde man, maar met die regte fokus, die volk deur die gevaar van die Rooi See op droë grond gelei. Hier het hy nie meer gestaan en homself aan die “onoorkomelike” probleem voor God blind gestaan nie, maar sy fokus was op God van Wie hy geweet het die redding sou kom.
Dawid was dan natuurlik ook vir ons in hierdie saak ’n wonderlike voorbeeld. Terwyl die ganse oorlogsleër van Israel besig was om te fokus op die bedreiging van die reus, Góliat, was Dawid se fokus op God gevestig. “Maar toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang.” (1 Sam. 17:24). En met hierdie fokus wat verskil het van sy volksgenote rondom hom, kon hy as instrument in God se hand dien om hierdie dreigende gevaar te oorwin waarvoor sy mede -volksgenote gesidder en gevlug het. “Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die Here van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die Here jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het.” (1 Sam. 17:45&46).
Hierdie lesse uit die Woord van die HERE is veel maar as net ’n paar versies wat ons moet aanhaal om “positief te bly.” Dit behoort ons te laat insien dat ’n verkeerde fokus in ons lewens daartoe kan lei dat ons nie God se bevele aan ons in gehoorsaamheid uitvoer nie. En dít (ons gehoorsaamheid aan ons Vader), eerder as positiwiteit in ’n negatiewe samelewing, is wat vir ons as gelowiges behoort te kwel. Dit behoort daarom vir ons ’n prioriteit te wees om, volgens die voorbeelde van ons geloofshelde waarvan ons uit God se Woord leer, die nodige aandag daaraan te gee om te verseker dat die fokus in ons lewens reg is.
“DAAROM dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die kruis verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van God gaan sit het.” (Heb. 12:1&2).
Amen.