Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy hoef nie vir ander mense tyd te maak nie; die tyd is reeds daar. Jy moet net jouself in die bestaande tyd vir ander beskikbaar stel, jou tyd met hulle deel.
DIEP IN DIE SKULD
Hannes Ollewagen
Rom. 13:8-14
“WEES aan niemand iets skuldig nie, behalwe om mekaar lief te hê; want hy wat 'n ander liefhet, het die wet vervul.” (:8).
Dit is ooglopend dat die wêreld op ‘n slegte plek is. En baie slim mense het baie slim stories oor wat die rede hiervoor kan wees. Die antwoord is myns insiens eintlik baie eenvoudig: ‘n gebrek aan liefde in die hart van die mens. Die HERE het hiedie toestand al lank vantevore in sy Woord aan ons voorspel en ook die rede vir die ontstaan van hierdie probleem duidelik uitgespel. “MAAR weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,” (2 Tim. 3:3).
Kom ons kyk na ‘n paar probleme wat ons maklik kan identifiseer en of die toepassing van liefde hierdie probleem sal verbeter of selfs laat verdwyn. ‘n Verskriklike probleem wat vir soveel mense, en veral kinders, soveel probleme, hartseer en leed veroorsaak, is egskeidings. Ons praat nou van twee mense wat op ‘n stadium in hul lewens nie vir ‘n oomblik sonder mekaar wou wees nie. Twee mense wat elke geleentheid gesoek het om bymekaar te wees. Twee mense wat vir mekaar so lief was dat hul ‘n lewe saam begin het. En ontstaan hierdie probleem van egskeiding dan nie juis omdat liefde in een of albei van hierdie mense se lewens begin kwyn nie? Kan hierdie probleem wat nou ontstaan het nie opgelos word deur weer liefde vir mekaar te leer nie? Beslis, geliefdes! Luister na die duidelike boodskap van Christus hieroor uit Matt. 19:8. “Hy antwoord hulle: Omdat Moses weens die hardheid van jul harte julle toegelaat het om van julle vroue te skei; maar van die begin af was dit nie so nie.”
Afguns en naywer. ‘n Lelike eienskap met baie skadelike gevolge. Kyk rondom u. Kyk hoeveel mense daar is wat hulself in diepe skuld en ellende as gevolg hiervan dompel. Ek moet mos alles kry, of selfs iets beter kry as dit wat ‘n ander mens het. En wat leer die HERE vir ons in hierdie verband? Is dit reg om dit wat iemand anders het te begeer of te probeer bewys dat ek iets beters kan bekom? Indien daar opregte liefde vir my naaste in my hart is, sal ek mos bly wees vir alle goeie dinge wat oor sy lewenspad kom. Ek sal saam met hom bly wees eerder as om die goeie in sy lewe deur ‘n optrede in my eie lewe te probeer oorskadu of om hom in afguns te bejeën en te dink hoeveel meer ek dit as ‘n ander “verdien.”
Ons sien ook hoedat selfsug en onverdraagsaamheid twee harde klippe is waarmee soveel kosbare dinge in die lewe stukkend gegooi word. En selfsug is seker die toppunt van liefdeloosheid. Dink mooi daaraan. ‘n Persoon wat selfsugtig optree, bedink nie vir een oomblik die gevolge van sy of haar optrede teenoor ‘n ander nie. Al wat vir so ‘n persoon belangrik is, is dat die besluit vir hom- of haarself nou voordeel moet inhou. En die Woord van die HERE is duidelik dat indien ons geen meegevoel met ons naaste se lyding het nie is die liefde van God nie in ons harte nie. Des te meer wanneer ons die oorsaak van ons naaste se swaarkry is sonder dat dit ons skeel.
Ons sien ook hoedat families en gesinne van mekaar vervreem raak. Is die mooi van ‘n gesin en ‘n familie nie ook iets só kosbaar wat deur God geskape is nie? Maar dit blyk dat daar nie genoeg liefde in ons harte oor is om hieraan te werk om hierdie kosbaarhede bymekaar en gesond te hou nie. Luister in hierdie verband na die pragtige Ps. 133:1-3. “...Kyk, hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon! Dit is soos die kosbare olie op die hoof, wat afloop op die baard, die baard van Aäron, wat afloop op die soom van sy klere. Dit is soos die dou van Hermon wat neerdaal op die berge van Sion; want daar gebied die Here die seën, die lewe tot in ewigheid!”
Dit is dalk nodig dat ons vandag vir ‘n oomblik stil raak en besin oor hoe beïndruk God met die dinge in my lewe is waarmee ek dalk heel tevrede is. Is Hy regtig beïndruk omdat ek ‘n beter of duurder voertuig of mooier huis as diegene rondom my het? Is Hy beïndruk met my luukse lewe wat ek lei terwyl ek verskoning maak vir my ouers wat met hul kleinerwordende pensioen moet krepeer? Maar ek “kan hulle nie help nie”, want “almal kry mos deesdae swaar”. Ja, dit is moeilik om gedurig die nuutste en beste van alles te moet koop. En dit word nog soveel duurder wanneer ek dit op skuld moet doen omdat ek dit eintlik nie regtig kan beskostig nie. Dit is ook baie swaar om vir ure lank voor die televisie te lê en dan nie tyd te hê om jou ouers te besoek of eerder daardie verkwiste geld aan hulle nood te bestee nie. Daar is soveel mense wat deesdae meer aan DSTV en Netflix spandeer as dit wat hulle bereid is om aan ander af te staan wat dit dalk werklik nodig het! En dan wonder ons waarom dit “met almal swaar gaan?” Die antwoord is omdat ons samelewing se liefdeloosheid ‘n punt van wreedheid bereik het en die HERE nie vir ‘n oomblik hierdeur beïndruk is nie. “Maar wie die goed van die wêreld het en sy broeder sien gebrek ly en sy hart vir hom toesluit, hoe bly die liefde van God in hom?” (1 Joh. 3:17).
Ons wil graag daarop roem dat ons ‘n gelowige, Christelike volk is. Maar waar is die sigbare getuienis hiervan? Die standaard is duidelik. “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Joh. 13:35). Luister ook na die duidelike opdrag in 1 Kor. 16:14. “Laat alles by julle in liefde geskied.” Ons volk is in die breë dalk nie só gelowig as wat ons graag sou wil glo nie. Maar ons is dalk baie dieper in die skuld voor God oor ons gebrek aan liefde as wat ons besef!
Mag hierdie liefdevolle vermaning uit die Woord van die HERE vir ons ook vandag ons eie lewens laat ondersoek om vas te stel of die nodige liefde vir God en my naaste daar te vinde is. En mag ons opnuut probeer om volgens die voorbeeld van onse Here Jesus Christus daagliks in liefde te leef gedagtig daaraan dat Hy die volle prys van ons onberekenbare skuld voor God vereffen het. En dit het Hy nie gedoen omdat ek of u dit waardig was of sulke besonders mense is nie. Nee, dit het Hy gedoen omdat Hy aan die gebooie van God volkome gehoorsaam was – ook aan die gebod van die liefde. “WEES dan navolgers van God soos geliefde kinders; en wandel in liefde, soos Christus ons ook liefgehad het en Hom vir ons oorgegee het as 'n gawe en offer aan God tot 'n lieflike geur.” (Efés. 5:1&2).
Amen.