Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons Vader in die hemel, ons begeer dat u wil sal geskied, nie net in die hemel nie maar ook op die aarde, en veral hier in Suid-Afrika, die land wat U aan u volk gegee het om in te woon en te vermeerder – nie om verdruk en uitgemoor te word nie. Gee dat ons mense mekaar sal liefhê, beskerm en kalmeer – nie beveg, beskinder en opponeer nie. Laat elkeen van u kinders asseblief Psalm 14:2 ter harte neem: "Van die hemel af kyk die Here die mense deur om te sien of daar één verstandige is, één wat na die wil van God vra."" Dink watter krag ons volk sal hê as God baie sulkes vind!
WANDEL SOOS HY
Hannes Ollewagen
1 Joh. 2:3-17
“Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.” (:6)
Hierdie gedeelte uit die Woord van God herinner ons aan die groot verantwoordelikheid wat op ons as God se kinders rus. Die gawe van geloof en van redding wat ons van Hom ontvang kom ook saam met ‘n verantwoordelikheid. ‘n Verantwoordelikheid om ‘n lewe volgens die voorbeeld van Christus na te streef.
Ons almal weet dat, ten spyte van ons beste pogings, niemand van ons hier op aarde aan die heiligheid van Christus gelyk kan word nie. Niemand kan sondeloos leef soos wat Hy dit gedoen het nie. Ons sal steeds sondig. Ons is steeds met swakheid bevange, maar ons kan dit nie as ‘n gerieflike verskoning gebruik om die verantwoordelikheid soos in ons Skrifgedeelte uitgelig te probeer ontwyk nie.
Wanneer ons lank genoeg hierdie verskoning gebruik, sal ons later nie meer berou toon oor ons sondes wat in swakheid begaan is nie, maar dit eerder begin herhaal.
En dit sal daartoe lei dat ons met verloop van tyd nie meer van tyd-tot-tyd in swakheid van die vlees struikel nie, maar dat ons in die sonde begin leef – ja, in die sonde wandel. En die geloof in Christus, die redding in Hom het ons dan juis uit hierdie sondige lewenswandel verlos, geliefdes! “EN julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk, onder wie ons almal ook vroeër gewandel het in die begeerlikhede van ons vlees toe ons die wil van die vlees en van die sinne gedoen het; en ons was van nature kinders van die toorn net soos ook die ander.” (Efés. 2:1-3).
Wat sien ons wanneer ons na die lewe van Christus kyk? Sien ons nie die voorbeeld van absolute gehoorsaamheid en ootmoed teenoor God nie? Sien ons nie die voorbeeld van Hom wat die Vader bo alles liefgehad en geëer het nie? Sien ons nie die voorbeeld van Een wat bo alles die wil van God die Vader, eerder as sy eie wil, wou volbring nie? “…Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied!” (Luk. 22:42). En dit is hierdie voorbeeld van liefde vir die Vader, hierdie voorbeeld van ootmoed en gehoorsaamheid wat ons moet nastreef. Dit is tog hoofsaaklik waaroor die geloof in Christus gaan – die redding deur sy soenverdienste en dat Hy ons kan heilig en met God kan versoen. Hierdie hoofsaak van die geloof word ongelukkig dikwels verdwerg deur ander sake soos materiële voorspoed en persoonlike geluk die fokus van die geloof te maak.
Hierdie opdrag van God uit 1 Johannes 2 word deur verkeie ander voorbeelde uit die Woord vir ons bevestig. In Paulus se brief aan die Kolossense word hierdie opdrag ook aan die gelowiges gegee. “Soos julle dan Christus Jesus, die Here, aangeneem het, wandel so in Hom”. (Kol. 2:6). En ons lees ook van hierdie opdrag in Efés 5:8. “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here — wandel soos kinders van die lig.” Die Woord is ook in Gal. 5:16 & 25 hieroor baie duidelik. “MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;” (:16). “As ons deur die Gees lewe, laat ons ook deur die Gees wandel.” (:25).
Mag ons vandag ag gee op hierdie herinnering vanuit die Woord van God dat ons geloof in Hom ook van ons vereis om Hom na te volg en volgens sy voorbeeld te wandel. Wanneer ons waarlik tot geloof in Christus gekom het, lê ons ons eie lewe met ons eie vleeslike begeertes af omdat ons in Hom nuut geskape is om volgens sy voorbeeld na God se welbehae te leef.
“Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” (Efés. 2:10).
Amen.