Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat dit makliker is probeer ons om te vergeet sonder om te vergewe. As jy geestelik volwasse wil wees, bid dat God jou eers sal help om jouself en diegene wat jou te na gekom het, te vergewe. Dan eers sal jy heeltemal kan vergeet.
EEN GOD, EEN WEG VAN WAARHEID
Hannes Ollewagen
1 Tim. 2:1-8
“Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,” (:3-5).
Lees baie mooi wat in hierdie brief aan Timótheüs geskryf word. Dit is ten eerste die wil van God dat alle mense gered word. En ten tweede is dit die wil van God dat alle mense tot kennis van die waarheid kom, want dit is juis deur die kennis van die waarheid dat die mens gered word.
Daar is dan seker ook baie mense in ons tyd wat hierop soos Pilatus wil vra – “Pilatus sê vir Hom: Wat is waarheid? …” (Joh. 18:38). Die antwoord op Pilatus se vraag kan myns insiens uitstekend uit 2 Sam. 7:28 beantwoord word. “En nou, Here Here, U is God en u woorde is waarheid; …”. Só eenvoudig.
Die Woord van God is waarheid. Waarheid is nie die opvattinge van slim teoloeë nie. En daarmee sê ek nie vir een oomblik dat daar nie plek is vir voorgangers in die geloof wat uit liefde en met opregtheid die Woord van God verkondig nie. Daar is ongetwyfeld mense wat geweldig baie tyd met opregtheid afstaan om God se Woord te bestudeer en in gebed met Hom te praat.
En diesulkes kan vir mense tot veel nut in die geloof en hul verhouding met God wees deur juis vir ons waarhede uit die Woord te openbaar en ons aandag daarop te vesg. Maar ek waarsku teen die hedendaagse teoloeë wat hulself slimmer as die Woord van God probeer hou. Hulle probeer met allerhande slinksheid en ‘n afstootlike houding van meerderwaardige kennis om nie dit wat in God se Woord staan nie, te suiwer en verkondig en te verdedig, en die Woord te verander.
En dit, is bedrog en baie ver van daardie waarheid waartoe God wil hê die mens moet kom. Christus het dit in Johannes 8:43-45 baie, baie duidelik gestel waarom daar mense is wat só dwaal. “Waarom ken julle my spraak nie? Omdat julle na my woord nie kan luister nie. Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy was 'n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie, omdat daar in hom geen waarheid is nie. Wanneer hy leuentaal praat, praat hy uit sy eie, omdat hy 'n leuenaar is en die vader daarvan. Maar omdat Ek die waarheid spreek, glo julle My nie.”
Luister na die getuienis uit Johannes 1 wat hierdie saak vir ons nog meer duidelik maak. “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.”
(:1). “En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon — en ons het sy heerlikheid aanskou, 'n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom — vol van genade en waarheid.” (:14). “Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.” (:17). Hierdie getuienis is selfs deur Christus se teëstanders, die owerpriesters en skrifgeleerdes, afgelê. “En hulle het Hom gevra en gesê: Meester, ons weet dat U reguit praat en leer en die persoon nie aanneem nie, maar die weg van God in waarheid leer —”. (Luk. 20:21).
Jesus Christus is ons enigste weg tot die Vader. Hy is die Een wat ons in waarheid sal lei om ons verhouding met God te herstel. Daardie verhouding wat deur die sonde (ongehoorsaamheid aan Hom) geweldige skade gely het. Hy, die Woord, leer vir ons om tussen reg en verkeerd te onderskei. “U geregtigheid is geregtigheid tot in ewigheid, en u wet is waarheid.” (Ps. 119:142). “U, o Here, is naby, en al u gebooie is waarheid.” (:151). En Hy leer ons dat ons van wat verkeerd is afstand moet doen en ons lewens daarvan moet heilig. “Heilig hulle in u waarheid; u woord is die waarheid.” (Joh. 17:17). Ons moet tog met versiggheid luister na alles wat deesdae as “waarheid” verkondig word! ‘n Teologie wat dalk goed op die oor val en by ons idee van die lewe inpas, is nie noodwendig die waarheid nie. Dit is dalk lekker om te hoor dat “die Here my sal seën om elke hoek en draai en dat ek altyd net voorspoed uit sy Hand sal ontvang”, maar dit is nie noodwendig waar nie. Dit is dalk lekker om te hoor dat “Christus klaar vir jou sonde gesterf het en jy daarom in die hemel wees, ongeag hoe jou geloof en gehoorsaamheid aan die Woord daar uitsien”, maar dit is nie noodwendig waar nie. Dit is dalk gerieflik om te hoor dat “jy darem gered is omdat jy geneties van die regte afoms is”, maar dit is nie noodwendig waar nie. Dit is wel waar dat die Woord ons waarsku dat sulke dwalinge volop sal raak. “...want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.” (2 Tim. 4:3&4).
Daar is maar net een weg van waarheid waarlangs ons eindelik tot die Vader gebring kan word. En as ons hierdie weg nie vind nie of as ons van hierdie weg afdwaal, sal ons die ewige saligheid saam met God nie vind nie. “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is. En waar Ek heengaan, weet julle en die weg ken julle. Thomas sê vir Hom: Here, ons weet nie waar U gaan nie, en hoe kan ons die weg ken? Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” (Joh. 14:2-6).
Amen.