DIE SKAPE VAN SY WEIDE

Hannes Ollewagen

Joh. 10:22-42

“My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, enhullevolg My.” (:27).

Wanneer ons van ‘n herder en skape praat, dink ons almal seker aan die baie bekende Psalm 23. Hierdie Psalm van Dawid wat soveel troos en berusting bring wanneer ons dit lees. Hierdie Psalm waarin dit duidelik is dat Dawid met oorgawe sy vertroue in God stel en ootmoedig God se leiding volg.

Hierdie Psalm hou veel meer betekenis en belofte in as net die belofte van goedheid en guns in die laaste twee verse waarop ons dalk altyd wil fokus. Hierdie goedheid en guns is ‘n natuurlike uitvloeisel wanneer ons oot moedig en met gehoorsaamheid God se leiding volg. Maar Dawid se fokus in hierdie Psalm is allermins nie primêr op die goedheid, voorspoed en guns wat Hy van God verwag asof God aan hom iets verskuldig sou wees nie. Dawid se fokus in hierdie Psalm is op die Hand van God wat hom met getrouheid langs die regte weg lei. Dawid stel soveel vertroue in die regte leiding van God dat hy selfs bereid is om met hierdie leiding van God, die goeie Herder, deur ‘n dal van doodskaduwee te gaan.

Ons lees op verskeie plekke in die Woord van die HERE waar hierdie metafoor gebruik word waar God as die Herder die skape lei. Behalwe in Psalm 23 waar Dawid hieroor praat, is dit ook koning Asaf wat in Psalm 77 hiervan melding maak. “U het u volk soos skape gelei deur die hand van Moses en Aäron.” (Ps. 77:21). Luister ook na die mooi verwysing hierna in Psalm 95:7. “Want Hy is onse God, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!” Hierdie laaste Psalm waarin die uitroep ook weerklink – “Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister.” Dit laat ons dadelik dink aan die woorde van Christus uit Johannes 10:26&27. “Maar julle glo nie, want julle is nie van my skape nie, soos Ek vir julle gesê het. My skape luister na my stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My.”

Christus het dit in vers 26 van Johannes 10 duidelik aan die Jode gestel dat daar skape is wat nie Syne is nie. Dit is skape wat nie sy stem ken nie en nie na sy stem luister nie. En hierdie is nie ‘n onbekende gesig in ons tyd nie, geliefdes. Dit is algemeen om mense te sien wat nie die Woord ken nie. Hulle ken dus nie die stem van die HERE nie, want sy Woord is die stem van God waardeur Hy tot ons spreek. Dit is vir ons volkome duidelik uit die gedeelte in Hebreërs 1:1&2. “NADAT God baie keer en op baie maniere in die outyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun wat Hy as erfgenaam van alles aangestel het, deur wie Hy ook die wêreld gemaak het.” En hierdie gedeelte uit Hebreërs word dan vir ons meer duidelik uit die Woorde van Johannes 1:1-3. “IN die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God. Hy was in die begin by God. Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.”

Dit is dan ook omdat mense nie meer na hierdie stem van die HERE luister nie dat ons samelewing so verdwaald geraak het. Kyk maar net na ons volk – verward, rigtingloos, verdwaald. Elkeen doen maar soos hy wil en nie soos wat die Woord van die HERE ons rig en leer nie. En sodoende volg elkeen sy eie weg eerder as die leiding van ons goeie Herder. Tog is ons dan verbaas wanneer elkeen langs sy eie weg verdwaal. Ons leer dan nie uit die foute van Israel nie, maar ons herhaal dit. En dan verwag ons ‘n ander uitkoms? “'n Kudde verlore skape was my volk; hulle herders het hulle laat dwaal, hulle weggevoer na die berge toe; hulle het gegaan van berg na heuwel, hulle het hul lêplek vergeet.” (Jer. 50:6).

Die Woord van die HERE herinner ons vandag weer aan die feit dat ons nie by vermoë is om self ons weg deur die lewe te vind nie. En dit is ook nie nodig dat ons van die een doodloopstraat na die volgende dwaal nie. Ewe min is dit nodig om in moedeloosheid in ‘n doodloopstraat te gaan sit en onsself aan wanhoop oor te gee. Ons het ‘n Herder wat vir ons omgee en ons langs die weë van geregtigheid na groen weivelde wil lei. Hy put nie genot daaruit wanneer ons lyding langs die dwaalweë van die lewe verduur nie. Hy het medelye met ons. “En toe Hy die skare sien, het Hy innig jammer gevoel vir hulle, omdat hulle moeg en uitgeput was, soos skape wat geen herder het nie.” (Matt. 9:36). En omdat Hy ons liefhet en vir ons omgee, wil Hy ons van ons dwaalweë terugbring. “Want die Seun van die mens het gekom om te red wat verlore is. Wat dink julle? As iemand honderd skape het en een van hulle verdwaal, sal hy nie die nege-en-negentig laat staan en op die berge die verdwaalde een gaan soek nie? En as hy hom kry, voorwaar Ek sê vir julle dat hy blyer is oor hom as oor die nege-en-negentig wat nie verdwaal het nie. So is dit nie die wil van julle Vader wat in die hemele is, dat een van hierdie kleintjies verlore gaan nie.” (Matt. 18:11-14).

Laat ons die HERE bid om in sy liefde en trou ons volk ook van ons dwaalweë terug te bring. Ja, dat Hy as die getroue Herder ons sal opsoek en sal gee dat ons sy stem sal herken om tot Hom terug te keer en te wandel langs die weg waarop Hy ons lei.

“MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.” (Heb. 13:20&21).