Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Mens met ‘n kalm, innemende persoonlikheid, sal die druk van die ouderdom skaars voel. Maar hy wat van jongs af befoeterd was, sal sy ou dae ook lastig vind.
REDDING DEUR SY WOORD
Hannes Ollewagen
Ps. 107:1-43
“Toe het hulle die HERE aangeroep in hul benoudheid; uit hul angste het Hy hulle verlos. Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.” (:19&20).
Ons lees in hierdie Psalm van die volk Israel se benoudheid waarin hulle verkeer het. Ek en u as gelowige Afrikaners assosieer maklik hiermee. Ons ervaar ook op hierdie stadium die werklikheid van ‘n volk wat in benoudheid verkeer. ‘n Volk wat verneder en verdruk word. Ja, ‘n volk wat gedurig slae kry. Wanneer ons ‘n bietjie terugstaan en die toestand van ons volk as ‘n geheel beskou, word ons huidige situasie vir ons in Jesaja 1:5-7 só duidelik gestel. “Waar wil julle nog geslaan word, dat julle voortgaan met af te wyk? Die hele hoof is siek, en die hele hart is krank. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie. Julle land is ‘n wildernis, julle stede is met vuur verbrand, vreemdes verteer julle landerye in jul teenwoordigheid, en dit is ‘n wildernis soos by ‘n omkering deur vreemdes.”
Daar is dan ook gedurig iemand wat een of ander oplossing vir ons volk se situasie voorhou. Daar was oor die afgelope meer as drie dekades meer as eenmaal ‘n persoon wat met ‘n voorstel of planne vir die redding van ons volk na vore getree het. En tog was daar tot vandag nie een daarvan suksesvol nie. Dit moet ons tog laat dink, geliefdes. Is dit nie dalk dat ons menigmaal self ‘n situasie probeer beredder eerder as om na die HERE se hulp te vra nie? Kom ons kyk weer na die verlossing wat die HERE aan Israel gestuur het waarvan ons in Psalm 107:20 lees. “Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.” Hy stel dit hier aan ons duidelik hoedat Hy hulle gesond gemaak het – deur sy Woord.
Geliefdes, het ons volk nie ook eers genesing nodig alvorens ons enige beraamde plan suksesvol sal kan uitvoer nie? Is een van die redes dat soveel planne al op niks uitgeloop het nie juis die feit dat ons volk geestelik baie ongesteld en afgemat is nie? Ja, daarom dat daar soveel keer met groot ywer en opgewondheid voorstelle aangegryp word, maar die geestelike krag ontbreek om enige daarvan enduit deur te voer. Ek dink die woorde uit Jes. 40:29-31 is baie gepas om vir ons hierin weer duidelik perspektief te gee. “Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie. Die jonges word moeg en mat, en die jongmanne struikel selfs; maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.”
Die HERE stel dit vir ons in sy Woord duidelik hoedat ons geestelik genees kan word. Daar is nie kitsoplossings of alternatiewe vir hierdie geestelike genesing nie. Hy het hiervoor sy Woord na ons gestuur. “Hy het sy woord uitgestuur, dat Hy hulle kon gesond maak en hulle uit hul kuile red.” (Ps. 107:20). Ja, Christus het dit self duidelik gemaak dat uit Hom die lewende water vloei wat tot genesing en verkwikking van ons siele is. “Jesus antwoord en sê vir haar: As jy die gawe van God geken het en geweet het wie Hy is wat vir jou sê: Gee vir My water om te drink, sou jy Hom gevra het en Hy sou vir jou lewende water gegee het.” En in Jeremia 2:13 stel die HERE dit onomwonde dat ons teen Hom sondig wanneer ons Hom as die fontein van lewende water verlaat. “Want my volk het twee verkeerde dinge gedoen: My, die fontein van lewende water, het hulle verlaat om vir hulle reënbakke uit te kap, gebarste reënbakke wat geen water hou nie.”
Dit is ongelukkig waar dat in ons tyd die lidmate in baie kerke nie meer met die suiwer, lewende water van die Woord bedien word nie, maar dat hulle met gifwater vergiftig word. “...dat julle die reg in gif verander en die vrug van geregtigheid in wildeals”. (Amos 6:12). Ja, in plaas daarvan dat mense van sonde bewus gemaak word en hulle hul sonde met berou bely en laat staan en so geestelik gesond gemaak word, word daar deesdae harder in baie kerke gewerk om verskonings en aanvaarbare terme vir mense se sondes uit te dink as om hul van hul verkeerde weë te bekeer. En so word mense se siele vergiftig en sit ons met ‘n siek volk wat tot in sy siel krank is.
Geliefdes, my bedoeling met bogenoemde is nie om u te oorreed om nie meer na u kerk of gemeente te gaan nie, want ek weet nie met welke gesindheid en op welke wyse die Woord van die HERE daar bedien word nie. Maar u behoort die bediening van die Woord wat u ontvang te beoordeel om vas te stel of u met gifwater vergiftig word wat tot die dood van u siel sal lei en of u met die water uit die Fontein van die lewe bedien word wat tot verkwikking en genesing van u siel sal wees. En indien u een van die mense is wat lankal nie meer tuis voel in verloopte en ontaarde kerke nie moet u ook vandag besef dat ‘n mens van geestelike dors net so maklik as van gifwater kan sterf. U het nodig om op ‘n gereelde grondslag uit die Fontein van lewende water te drink.
Mag die HERE gee dat ons as ‘n volk ook opnuut die kosbaarheid van sy Woord sal sien wat ons kan genees. En mag ons daarna smag om tot verkwikking en versadiging hieruit te drink en so ons geestelike dors te les en ons kwynende siele te versadig.
Ek groet u met die kosbare woorde van die kinders van Korag uit Ps. 42:2. Mag ons ook op hierdie wyse na die lewende water uit God se Woord verlang.
“Soos ‘n hert wat smag na waterstrome, so smag my siel na U, o God!”
Amen.