Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die gesinslewe is 'n kweekhuis vir kennis van die lewe. Daar leer die kinders van ouers hoe om hulle lewe te leef. Dit is die plek waar geleer word om intieme, betroubare ek-en-jy verhoudings te kweek. Daar leer ons ook om met onsself en ander oor die weg te kom. Daar leer ons kinders om hulle persoonlikheid te ontdek en uit te leef. Tans is daar meer gebroke gesinne as gelukkige heel gesinne oral in die wêreld en ook in ons mooi land. En dan vra ons nog waarom ons land en ons volk in so 'n toestand is!
GOD HET DIT BEVEEL
HY HET DIT SO VERORDEN EN INGESTEL
Hannes Ollewagen
Deut. 11:1-32
“DAAROM moet jy die Here jou God liefhê en altyd sy ordening, sy insettinge sowel as sy verordeninge en sy gebooie onderhou.” (:1).
“Onderhou dan sorgvuldiglik al die insettinge en die verordeninge wat ek julle vandag voorhou.” (:32).
Luister na die woorde van die Psalmdigter uit Psalm 119:5&6. “Ú het u bevele gegee om dit trou te onderhou. Ag, was my weë maar vas om u insettinge te onderhou!” Die Psalmdigter maak melding van die bevele en die insettinge van die HERE. En so lees ons in Deuteronómium 11 ook van die ordening, insettinge sowel as verordeninge en gebooie van die HERE. Wanneer ons praat van gehoorsaamheid aan die HERE is die omvang veel meer as die Tien Gebooie. Bo en behalwe die Tien Gebooie uit Exodus 20 en Deuteronómium 5 leer die Woord van die HERE ons van insettinge en verordeninge wat deur God self ingestel is en dat die mens hom hieraan moet onderwerp. Die mens moet hierdie insettinge en verordening van die HERE sorgvuldig en getrou onderhou en daarin leef. “Ek is die Here julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit.” (Eség. 20:19).
Dit is so nodig dat ons as gelowiges hierdie vermaning aanhoor, geliefdes. Die tyd waarin ons leef word juis gekenmerk aan die mens se absolute minagting van God se insettinge, verordeninge en gebooie. Ons hoor gereeld dat kinders op allerhande “moderne maniere” grootgemaak moet word en dat jy dit tog net nie moet waag om ‘n kind op sy tyd met die nodige drag slae moet tugtig nie. Nou maak dit nie saak hoe mooi of slim hierdie idees mag klink nie; dit bly eindelik ‘n miskenning van die insettinge en gebooie van God. “Hou die tug nie terug van die seun nie; as jy hom met die roede slaan, sal hy nie sterwe nie.Jy sal hom wel met die roede slaan, maar sy lewe van die doderyk red.” (Spr. 23:13&14). Dit is tog interessant dat kinders deesdae op die “slimste maniere” grootgemaak word en tog is dit nie asof die jeug van ons tyd werklik die beste produk is wat nog in die geskiedenis opgelewer is nie.
Wanneer ons ook rondom ons kyk en sien hoedat mense hul liggame met tatoeërmerke ontsier, sien ons ook daarin die minagting van God. Die HERE verbied hierdie praktyk uitdruklik. “... en geen ingeprikte tekening in julle vel maak nie. Ek is die Here.” (Lev. 19:28). Diesulkes sal dit dadelik aan jou stel dat dit “my liggaam is en ek kan daarmee doen wat ek wil.” So ‘n antwoord bevestig die minagting van God, want dit ontken die feit dat ons liggaam ‘n tempel van God is wat ons nie doelbewus moet beskadig nie. En so kan ons ook kyk na die kommerwekkende toename van die gebruik van dwelmmiddels wat ook van ‘n minagting van God se verordeninge spreek. Dit het n skadelike uitwerking op die mens wat nie omgee om die liggaam wat hy as geskenk van God ontvang het op te pas nie.
Natuurlik kan ons nie nalaat om te praat oor die absolute walglike en veragtelike groeperinge wat hul eie geslag en identiteit ontken nie. Goeie genugtig. Om as een van twee geslagte, man of vrou, gebore te word is gewoon hoe dit deur God verorden is. Dit is ‘n verordening wat deur Hom ingestel is wat die mens moet onderhou. Dit is hoe Hy dit geskape (verorden) het. Die ontkenning hiervan gaan nie maak dat God sy verordening hersien of verander nie. Inteendeel, die “erkenning” van hierdie wanpraktyke in die samelewing word pragtig in Romeine 1:25 uitgedruk. “...hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid. Amen.” Hierdie mense verlaat die waarheid van God en leef in ‘n leuen. Die Woord stel dit derhalwe duidelik – ‘n mens wat die natuurlike verordening van God ontken en probeer verander, leef in ‘n leuen, want hulle lieg vir hulself omdat dit wat God verorden en ingestel het nie deur enige mens verander kan word nie!
Dit is belangrik dat ons as gelowiges nie vir een oomblik begin twyfel oor die absolute verkeerdheid en verwerplikheid van hierdie wanpraktyke wat deesdae aan die samelewing opgedring word nie, geliefdes. Ons kan nooit ons goedkeuring daaraan skenk of erkenning daaraan verleen nie, want dit sal op ‘n verloëning van God neerkom. Ons moet ons beywer om God in erkentenis te hou en hierdie wanpraktyke te verwerp, nie goedkeuring daaraan skenk nie en sodoende die insettinge, verordeninge en gebooie van die HERE verloën. “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan 'n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie: hulle is vervul met allerhande ongeregtigheid, hoerery, boosheid, hebsug, ondeug; vol nydigheid, moord, twis, bedrog, kwaadaardigheid; nuusdraers, kwaadsprekers, haters van God, geweldenaars, trotsaards, grootpraters, uitvinders van slegte dinge, ongehoorsaam aan die ouers;onverstandig, ontrou, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, onbarmhartig, mense wat — al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien — dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen.” (Rom. 1:28-32).
Amen.