Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christene is nie volmaak nie, hulle is in die proses van ontwikkeling
DADERS VAN DIE WOORD
Hannes Ollewagen
Jak. 1:19-27
“Daarom, doen afstand van alle vuiligheid en oorvloed van boosheid, en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red. En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” (:21&22).
Die 21e eeu. Dit sal seker later bekend staan as die eeu van die minste moeite. In ons gemaksugtige samelewing het alles mos te veel moeite geraak. Dit is te veel moeite vir mense om te werk. Dit is te veel moeite om hulle eie vullis op te ruim. Dit is te veel moeite om by ander te gaan kuier. Dit is te veel moeite om op die Sabbat na die huis van die Here te gaan. Dit is te veel moeite om daagliks uit die Woord van die HERE te lees en tyd aan Hom af te staan. En so het dit ook te veel moeite geraak om die insettinge, verordeninge en gebooie van die HERE te leer en daarin te probeer wandel.
Dit is dan ook geen wonder dat mense vir hulself in hierdie tyd die godsdiens probeer aanpas om by hierdie “gemaklike” lewe in te pas nie. Hiervoor is daar natuurlik ook ‘n “gemaklike” godsdiens nodig. ‘n Godsdiens wat min opoffering, werk en moeite van my vra. Ons moet egter kyk wat die Woord van die HERE in hierdie verband leer. Is my geloofsverantwoordelikheid geheel afgehandel wanneer ek my geloof in God bely? Dit is wel ‘n uitweg van min moeite, maar is dit vir u saligheid genoeg? Is dit wat met Romeine 10:9 bedoel word? “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;” Kom ons ondersoek ook die Woord van die HERE verder om sekerheid oor hierdie saak te verkry.
Ons vind in Jakobus 1:22 die volgende opdrag: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” Staan hierdie opdrag dan teenoor die woorde van Romeine 10 wat leer dat ons gered word wanneer ons met ons mond die geloof in ons harte bely? Hier is tog geen sprake van enige werke van geloof nie? Stellig nie! Die woorde uit Romeine 10 word deur die woorde uit Jakobus 2:17 & 18 baie, baie duidelik verklaar. “Net so is ook die geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood.Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.” Dit is duidelik – ‘n geloofsbelydenis sonder werke wat by die bekering pas, is bedenklik. Die Engelse spreukwoord sal hier goed te pas kom. “Talk is cheap”. Dit is maklik om die regte dinge te sê, maar die eindelike toets kom wanneer die dade (werke) op die proef gestel word. Luister na die woorde uit Romeine 2:6. “wat elkeen sal vergeld na sy werke:”. Dit stel nie dat elkeen vergeld sal word volgens dit wat hulle met hul lippe bely nie, maar volgens hul werke, hul dade.
‘n Belydenis van geloof in God Drie-enig kan nie gesien word as die einde van ‘n gelowige se geloofsverantwoordelikheid nie. Tewens, dit is die vertrekpunt van ‘n ware gelowige se geloofsverantwoordelikheid. Hierdie belydenis van geloof lê jou die verantwoordelikheid op om te probeer optree en leef in ooreentstemming met die wil van God. Dit lê ons die verantwoordelikheid op om die heiligmaking na te streef. Dit lê ons die verantwoordelikheid op om werke te doen wat by die geloof in Christus pas. Hierdie werke is eindelik die ware getuienis van die egtheid van ons geloof. Dink maar aan Abraham. Hy het nie alleen sy geloof met die mond bely nie. Sy optrede het van die egtheid van sy geloof getuig. “Is Abraham, ons vader, nie uit die werke geregverdig toe hy Isak, sy seun, op die altaar geoffer het nie? Sien jy dat die geloof saamgewerk het met sy werke en dat die geloof volkome geword het uit die werke?” (Jak. 2:21&22).
Ek wil u ook wys op die woorde van onse Here Jesus Christus uit Matt. 23:3. “Alles wat hulle dan vir julle mag sê om te onderhou, onderhou en doen dit; maar volgens hulle werke moet julle nie doen nie, want hulle praat en doen nie.” Wat hoor ons hier uit Jesus se mond, geliefdes? “...want hulle praat en doen nie.” En dan wil ek u ook verwys na die woorde uit Openbaring 20:12. “En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en 'n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.” Weereens is die oordeel nie volgens dit wat met die lippe bely word nie, maar die oordeel word gefel oor die werke. Ja, die oordeel word gevel oor die dade wat die ware getuienis van die geloof lewer.
Geliefdes, indien ons ook te gemaksugtig geraak het en dit dalk vir ons ook te veel moeite geraak het om die HERE na behore te dien, lewer ons dade getuienis dat ons geloof nie so gesond is as wat dit behoort te wees nie. En dan weet ons dat ons die hand aan die ploeg moet slaan. As ons met die mond bely dat ons van harte in die Here Jesus Christus glo, laat ons dan ywer om vrugte te dra wat by die geloof en bekering pas. Ja, laat ons dan daarna streef om op so ‘n wyse te leef dat ons optrede van die egtheid van ons geloof sal getuig! “Dra dan vrugte wat by die bekering pas.” (Matt. 3:8).
Amen.