DAAR IS GEENEEN SOOS HY

Hannes Ollewagen

Jer. 10:1-16

“So sê die HERE: Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie, en skrik nie vir die tekens van die hemel, omdat die heidene daarvoor skrik nie. Want die insetting van die volke is nietigheid;…” (:2&3).

Geliefdes, hoe nodig is hierdie duidelike vermaning uit die Woord van die HERE nie vir ons vandag nie : “Maak julle nie gewend aan die weg van die heidene nie.” Ja, hoe maklik gebeur so iets nie. Ons sien dit in ons eie geledere. Onder ‘n heidense regime waar daar nie ‘n liefde vir geregtigheid is nie en waar die straf oor ‘n verkeerde daad nie gou voltrek word nie, floreer goddeloosheid. En so word die kaf ook van die koring geskei. Ons sien hoedat mense uit ‘n eens gelowige en Godvresende familie aan hierdie goddeloosheid gewoond raak. Dit is so algemeen rondom mense dat mense hiermee genoeë neem. Ja, so gemaklik raak sommige van ons volksgenote dat hulle selfs aan hierdie goddelose manier van leef begin deelneem.

Dit is verskrilik om daaraan te dink dat ons eie mense, mense met ‘n herkoms uit ‘n gelowige, Godvresende volk, mense uit ‘n volk wat die Gelofte aan die Drie-enige God gemaak het om hier ter plaatse as sy gelowige kinders te leef self in goddeloosheid verval het. Ja, en hierdie waarskuwing van die HERE uit Jeremia 10 het op dowe ore geval. Ons kan ongelukkig ure lank praat oor hoe verskriklik dit is dat ons mense so gewoond geraak het aan die ontheiliging van die Sabbat en dat daar weinig volksgenote is wat hul nie self hieraan skuldig maak nie. Ons kan praat oor die verskrikking van egskeidings wat die reël eerder as die uitsondering geraak het. Ons sal ongelukkig selfs kan praat oor mense wat hul eie gesinslede vermoor, kinders wat hul ouers absoluut minag, mense wat nie skroom om ander te bedrieg en te besteel nie, homoseksualisme en selfs ‘n gruwel soos aborsie wat nie van ons lys weggelaat kan word nie.

Ek wil egter nie vandag my tyd daaraan wy om die hele tyd na hulle wat verkeerd handel die vinger te wys nie. Ek sou eerder my tyd wou aanwend om u te herinner waarom ek en u as gelowige kinders van God nie ook aan hierdie oënskynlike, “gemaklike, lekker” lewe gewoond kan raak en deelneem nie. Dit is omdat ons God liefhet en daarna streef om Hom in waarheid en opregtheid te dien. Ja, dit is omdat ons ook glo in dit wat Jeremia in vers 6 & 7 sê: “Geeneen is soos U nie, o HERE! U is groot, en U Naam is groot in krag. Wie sou U nie vrees nie, o Koning van die nasies? Want U kom dit toe; want onder al die wyse manne van die nasies en in hulle hele koninkryk is geeneen soos U nie.” Ja, geliefdes, dit kom die HERE toe dat ons Hom gehoorsaam. Dit kom die HERE toe dat ons aan Hom eer bewys deur sy insettinge en verordeninge nie te minag nie, maar te onderhou en ons daaraan te onderwerp. Die HERE is nie alleen ons eer waardig nie, maar Hy eis van ons om Hom te eer. En dit is vir die HERE geen geringe saak wanneer ons nie hierdie eer aan Hom gee nie, geliefdes. “’n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ‘n Vader is, waar is my eer? En as Ek ‘n Heer is, waar is die vrees vir My?...” (Mal. 1:6).

Geliefdes, die duidelike standpunt van die HERE in Mal. 2 laat ons ook besef hoe belangrik dit is dat ons nie aan hierdie goddelose lewenswyse gewoond mag raak nie. “JULLE vermoei die HERE met julle woorde. Nogtans vra julle: Waarmee vermoei ons Hom? Deurdat julle sê: Elkeen wat kwaad doen, is goed in die oë van die HERE, en in hulle het Hy ‘n behae; of waar is anders die God vandie reg?” (:17). In die volgende hoofstuk, Maleági 3, spreek die HERE hierdie houding om te redeneer dat die goddelose pad vir die HERE aanvaarbaar is nog skerper aan. Die HERE stel daar dat ‘n mens wat so redeneer vermetel is! “Vermetel is julle woorde teen My, sê die HERE. Maar julle vra: Wat het ons onder mekaar teen U gespreek? Julle het gesê: Dit is tevergeefs om God te dien, en wat baat dit ons om sy verordening te onderhou . . .” (Mal. 3:13&14). En wanneer ons hierdie woorde oordink, besef ons dat elke woord hiervan die waarheid is. Dit is niks anders as vermetelheid om te sê dat goddeloosheid vir die HERE aanvaarbaar is of dat Hy selfs sy goedkeuring daaraan skenk nie.

Geliefdes, mag ek en u die HERE loof en eer vir sy volmaakte insettinge en verordening eerder as om sy regverdigheid te bevraagteken. En mag ek en u daarna streef om Hom in ootmoed te gehoorsaam en elke dag te probeer om in die waarheid van sy Woord te leef en so die weg van die goddelose te vermy eerder as om daaraan gewoond te raak. Ek sluit af met die herinnering uit Psalm 1 wat dit vir ons dit so mooi stel dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen die weg van die regverdige en die goddelose is. “WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie; maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag. Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.” (Ps. 1:1,2&6).