Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Tyd; dis ‘n belangrike woord. Jy moet dit hê om te kan regmaak. Wie dit nie het nie, kan nie regmaak nie. Meer mense sterf sonder Christus as met Hom; mense wat nie met Hom reggemaak het nietoe hulle die tyd gehad het.
HY SIEN TOG ALLES
Hannes Ollewagen
1 Pet. 3:8-22
“Want wie die lewe wil liefhê en goeie dae wil sien, moet sy tong bewaar vir wat verkeerd is, en sy lippe dat hulle geen bedrog spreek nie.Hy moet afwyk van wat verkeerd is, en doen wat goed is; hy moet vrede soek en dit najaag.Want die oë van die Here is op die regverdiges en sy ore tot hulle gebed, maar die aangesig van die Here is teen die kwaaddoeners.” (:10-12).
Geliefdes, wat ‘n raak beskrywing vir die huidige toestand in die wêreld is dit nie om te sê dat die wêreld onderstebo is nie. Dit wat veronderstel is om reg te wees, word as verkeerd afgemaak. Dit wat heeltemal verkeerd en onaarvaarbaar is, word met drukgroepe bevorder en daarvoor word “reg” geskree. Wanneer ‘n persoon byvoorbeeld iemand sou teëgaan wat as ‘n ander geslag identifiseer as dit wat hy of sy geskape is, is die persoon wat so ‘n stelling maak “verkeerd”. Hoe durf iemand so iets sê!? Daar is mos nie biologiese feite waarop so ‘n stelling gegrond is nie?
Geliefdes, ons praat dan nog nie eens van die Godgegewe Woord waarmee hierdie verkeerdhede aangespreek moet word nie, want God is mos in ons tyd van sy Oppergesag “ontneem”. Die mens is deur humanistiese dwaalleer tot die “oppergesag” verhef. Die mens is in ons tyd mos bo aan die hiërargie en God staan aan die onderkant as die “onderdaan” (met alle respek gesê). Heeltemal onderstebo, geliefdes. Die mens wil besluit wat reg is en vir homself ‘n “Bybel” skryf wat hierdie “aanvaarbare waarhede” bevat. Die mens wil besluit wat reg is en aan God die opdragte gee om hier te seën, daar te dit en hier te dat. Wat ‘n sataniese opset – een waarin die mens met sy vleeslike gesindheid weier om homself aan God se gesag te onderwerp! Dit is niks anders as afgodery om vir jouself ‘n beeld van God te skep wat by jou idees inpas nie! Dit is nie alleen verwaand nie, maar ‘n belediging vir God! Dit is ‘n resep vir ‘n mislukking en die mislukking is wêreldwyd rondom ons sigbaar. Die vernietiging, die hartseer, verdrukking, ellende en verwoesting. Ja, almal sien dit. Almal kla daaroor. Inteendeel, die meerderheid is die oorsaak daarvan en dra daagliks daartoe by, maar luister sal ons nie!
Ons moet versigtig wees hoe ons hierdie slegte situasie rondom ons hanteer, geliefdes. Ons moet dit nie beoordeel asof God hierdie dinge nie raaksien en dit Hom glad nie pla of dat sy gevoel vir geregtigheid afgestomp is nie. Die HERE waarsku ons pertinent en duidelik hierteen in Psalm 73. En ons word ewe duidelik gewaarsku dat ons nie moet redeneer dat daar vir die goddelose geen gevolge vir sy slegte optrede is en daardeur vir onsself regverdiging vind om self ook na hartelus en in goddeloosheid te leef nie. Ons moenie redeneer dat dit tevergeefs is dat ons ons harte rein hou en ons hande in onskuld was nie. “Waarlik, tevergeefs het ek my hart rein gehou en my hande in onskuld gewas.” (Ps. 73:13). As ek gesê het: Ek wil óók so spreek — dan sou ek ontrou gewees het aan die geslag van u kinders!” (Ps. 73:15). Dit is duidelik – dit is nie die taal van God se ware kinders nie.
Ons behoort onsself in hierdie tye meer gereeld daaraan te herinner dat God se oë alles sien wat hier op aarde gebeur. “Die Here kyk van die hemel af; Hy sien al die mensekinders.Uit sy woonplek aanskou Hy al die bewoners van die aarde,Hy wat die hart van hulle almal formeer, wat let op al hul werke.” (Ps. 33:13-15). En dan behoort ons daarna te streef om nie ons fokus daarop te stel of God “’n goeie werk doen in sy oordeel van mense nie”, maar ons fokus behoort eerder te wees om self na die welbehae van God te handel. Ja, ons moet onsself eerder daarop toespits om aan Hom gehoorsaam te wees en seker te maak dat dit wat Hy in my lewe sien vir Hom welbehaaglik is wanneer Hy na my lewe hier op aarde kyk. Onthou, dit wat die wêreld doen, is waaroor die wêreld voor Hom sal rekenskap gee. Maar dit wat ek en u self doen, is waarvoor ek en u aan Hom sal rekenskap gee, geliefdes.
Wanneer die HERE vandag na my en u lewe kyk, sal Hy tevrede wees met dit wat Hy sien? Sal Hy ‘n mens sien wat ook maar soos die wêreld rondom hom leef asof daar geen God is wat op sy lewe let nie? Sal Hy ‘n mens sien wat besig is om homself die hele tyd bemoei om te oordeel of God wel sy werk reg en regverdig doen? Of sal Hy ‘n mens sien wat in ootmoed probeer om in die geloof en gehoorsaamheid te volhard en in ‘n wêreld wat Hom daagliks verloën steeds met getrouheid voor Hom te wandel? Sal Hy ‘n mens sien wat sy tong bewaar vir wat verkeerd is en sy lippe dat dit nie bedrog spreek nie? Ja, ‘n mens wat afwyk van wat verkeerd is en eerder doen wat goed is; een wat vrede soek en dit najaag?
Mag hierdie woorde van die HERE ons opnuut daaraan herinner en opwek om op ‘n welbehaaglike wyse voor die Aangesig van God te leef, geliefdes. Mag dit ons harte ook versterk om te weet dat in hierdie uitdagende tye ons nie alleen en verlate op die aarde is nie, maar dat die HERE met getrouheid sy oog oor ons hou. Hy sien nie alleen ons optrede en handeling nie, maar ook ons behoefte en nood, geliefdes. “Hy trek sy oë nie af van die regverdige nie,...” (Job. 36:7). Ja, net soos wat Hy op ons werke let, let Hy ook op ons nood en sal sien wanneer ons sy hulp en bystand nodig het. “...Die oë van die Here is op die regverdiges, en sy ore tot hulle hulpgeroep.” (Ps. 34:16).
Amen.