Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Kyk rondom jou: God openbaar Homself en sy Grootheid en Almag aan ons in die natuur wat ons elke dag met ons eie oë kan aanskou. Kan jy hoegenaamd twyfel?!
VERBLY JULLE IN DIE HERE!
Hannes Ollewagen
Fil. 4:1-9
“Verbly julle altyd in die Here; ek herhaal: Verbly julle!” (:4).
Paulus herhaal hierdie opdrag van hom in sy brief aan die Fillipense. Daarmee beklemtoon hy dus hierdie opdrag. En dit nadat hy alreeds in Fil. 3:1 hierdie opdrag gegee het. “VERDER, my broeders, verbly julle in die Here. ...” En ten spyte van die beklemtoning van hierdie opdrag, gee ons waarskynlik ook vandag steeds nie genoeg ag hierop nie.
Geliefdes, dit was ook nie alleen Paulus wat van hierdie saak melding gemaak het nie. Ons lees in Neh. 8:11 hoe Esra die volk in hierdie saak onderrig.
“...Wees dan nie bedroef nie, want die blydskap in die HERE – dit is julle beskutting.”
Natuurlik het die geliefde man van God, koning Dawid, ook in verskeie Psalms van vreugde en blydskap in die HERE melding gemaak. Ps. 4:8
“Groter vreugde het U in my hart gegee as wanneer hulle koring en hulle mos oorvloedig is.” Ps. 19:9:”
Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart.
En dan het Jesus Christus self ook sy dissipels in hierdie saak onderrig.
“Dit het Ek vir julle gesê, dat my blydskap in julle kan bly en julle blydskap volkome kan word.” (Joh. 15:11).
Ek wonder hoeveel van ons volksgenote vandag nog blydskap in die HERE smaak? Wanneer ons na mense luister en na die uitdrukkings op hul gesigte kyk, is dit maar ‘n baie kommerwekkende klein persentasie, geliefdes. En dan wonder talle seker boonop waarom God so traag en onwillig is om hul omstandighede te verander. Maar die skuld is nie voor God se deur te lê nie, geliefdes. Daar is talle volksgenote wat oor die afgelope dekades besluit het om nie hul blydskap in die HERE te vind nie, maar eerder agter die bekoorlikheid van hierdie verganklike wêreld aan te loop. Ja, menige het gedink dat hulle in rykdom hul vreugde sal vind. En ander het gedink dat hulle in hulle of hulle kinders se goeie prestasies in sport hulle vreugde sal vind. Daar is natuurlik ook hulle wat sukses ten alle koste nagestreef het en gedink het dat hulle hierin die hoogste vreugde sou vind. Ons sien ook talle mense wat aanhoudend na allerhande vermaak soek omdat hulle tog so graag hierin hulle vreugde wil vind. Maar ook hierdie vreugde is vir hulle maar net van korte duur.
Esra het aan die volk gestel dat hulle blydskap in die HERE hul beskutting is. Ja, geliefdes, ons blydskap in die HERE sal ons beskerm. Wanneer ons ons vreugde alleen in die HERE soek, sal dit ons teen daardie bekoorlikhede van die wêreld waarin daar vir ons geen blywende vreugde is nie, beskut. Ja, Christus stel dit ook dat ons blydskap in Hom volkome is. Dit is nie ‘n vreugde en ‘n blydskap wat tekort skiet soos die verganklike, aardse vreugde nie.
Dit is dalk nodig dat ek en u vanoggend opnuut stil raak en in eerlikheid vir onsself die vraag afvra waarin ons in hierdie lewe ons vreugde soek? Soek ons na ons vreugde in ander mense? Soek ons na ons vreugde in ons eie prestasie, sukses of in aardse rykdom, geliefdes? Hierdie soeke sal tevergeefs wees. En ons moet oppas dat ons nie in ons soeke na hierdie dinge die koninkryk van God by ons laat verbygaan nie.
“Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die heilige Gees.” (Rom. 14:17).
Ja, laat ons opnuut daaraan herinner word dat ons grootste vreugde in die HERE lê, geliefdes. Ja, hierdie vreugde wat volkome is, is die vreugde en blydskap wat ons moet najaag. Dit is hierdie blydskap wat ons sal beskut teen die verleidelike, aardse vreugde. En laat ons met ywer na hierdie vreugde en blydskap in die HERE soek en God so welbehaaglik met blymoedige harte dien.
“En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom. 15:13).
Amen.