Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
‘n Goeie volksleier hou van eerbare uitdagings omdat dit aan hom geesteskrag verleen en tot groot hoogtes aanspoor. Soos wat ‘n hoenderhaan die dagbreek nooit kop onderstebo aankondig nie, bly ‘n gelowige volksleier optimisties omdat hy weet Wie die son laat opkom.
EERBIEDIG JULLE OUERS
Hannes Ollewagen
Efésiërs 6:1-9
“KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg. Eer jou vader en jou moeder – dit is die eerste gebod met ‘n belofte – sodat dit met jou goed mag gaan en jy lank mag lewe op die aarde.” (:1-3).
Geliefdes, ons wêreld gaan mank aan mense wat verstaan wat eerbied en respek is. Die mens van vandag het min respek vir homself en vir sy medemens. En ‘n mens wat vir homself en vir sy medemens en meerderes nie respek het nie het ook vir God geen respek nie. Ja, ‘n mens behoort te erken dat die mag wat oor hom aangestel is deur God daargestel is.
“LAAT elke mens hom onderwerp aan die magte wat oor hom aangestel is, want daar is geen mag behalwe van God nie, en die wat daar is, is deur God ingestel, sodat hy wat hom teen die mag versit, die instelling van God weerstaan; …” (Rom. 13:1&2).
Ja, geliefdes en veral jongmense, dit sluit ook die mag in wat God in die hande van ouers geplaas het. Godvresende ouers word deur God die verantwoordelikheid opgelê om hul kinders in die tug en vermaning van die Here op ‘n Godvresende wyse groot te maak.
“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efés. 6:4).
En daarom verwag God dat kinders hulle ouers hiervoor sal respekteer en aan hulle die nodige eerbied betoon.
“Want God het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder; …” (Matt. 15:4).
God stel dit vir ons duidelik dat hierdie gebod aan kinders om hul ouers te eerbiedig vir Hom geen geringe saak is nie. Dit is die eerste gebod wat met ‘n belofte opgevolg word. En is dit nie ironies hoedat in ‘n wêreld waarin daar duidelik ‘n groot gebrek aan eerbied vir ouers bestaan ook baie weinig mense is van wie ons met alle eerlikheid kan sê dat dit met hulle goed gaan in die land van hul erfenis volgens die Woord van God nie? Ja, dink maar daaraan hoe Christus tydens sy lewe hier op aarde vir ons ‘n sigbare voorbeeld van onderdanigheid aan ons ouers gestel het om die belangrikheid hiervan te beklemtoon!
“En Hy het saam met hulle gegaan en in Násaret gekom, en Hy was hulle onderdanig. …” (Luk. 2:51).
Ja geliefdes, dit is nie alleen minderjarige kinders wat hierdie gebod van God oortree nie. Sien ons nie te veel oumense wat in tehuise vir bejaardes gesit word net sodat hulle “uit ons pad” moet wees nie? Is dit hoe eerbied lyk? Hoeveel eerbied het jy vir jou dierbare vader of moeder wanneer jy nie ‘n bedrag tot hul lewensonderhoud kan bydra wat gelykstaande aan jou maandelikse DSTV rekening of drankrekening is nie? Ja, jy het ure om voor die televisie deur te bring en sal nie ‘n enkele sportwedstryd oor ‘n naweek misloop nie, maar ‘n week het gewoon nie genoeg ure om net ‘n oproep na jou bejaarde vader of moeder te maak of net vir ‘n wyle by hulle aan te gaan nie. Dit is asof die woorde in Klaagliedere 5:12 direk tot ons spreek! “…die persoon van die grysaards nie geëer nie.” En tog verwag ons God se seën oor ons lewens en dat dit met ons goed moet gaan terwyl ons sy gebod agter ons rug werp. Geliefdes, ons doen God oneer aan wanneer ons aan hulle wat deur Hom oor ons aangestel is nie die nodige eer bewys nie. En ons verwag dat Hy aan ons bedes en versoeke moet voldoen en aan ons eer moet bewys ten spyte van ons eerlose optrede teenoor Hom! Dit is in stryd met wat sy Woord ons leer, geliefdes.
“…want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.” (1 Sam. 2:30).
Geliefdes, ek wil sien dat dit met u goed gaan in die land van u erfenis. Ek wil sien dat dit met ons as ‘n volk goed mag gaan in die land van ons erfenis. Laat ons ag gee op God se leiding in hierdie verband en dit ter harte neem! Daar is niemand wat ons heil kan bewerk soos Hy nie. Daar is geeneen wat die goeie oor ons kan gebied soos Hy nie. En daarbenewens is ons nie alleen eer aan Hom verskuldig vir die goeie wat ons van Hom kan verwag nie, maar ook vir die onbeskryflike goed wat Hy alreeds in sy Seun, Jesus Christus, aan ons bewys het. Mag my en u eerbied teenoor ons medemens en ons ouers getuig van ‘n bewonderenswaardige eerbied vir ons Vader wat in die hemel woon. As Hy ons Vader is, is ons immers ons eer aan Hom verskuldig.
“’n Seun eer die vader, en ‘n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? …” (Mal. 1:6).