Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jy maak 'n aktiewe keuse wanneer jy besluit wat jy gaan doen, hoe jy dit gaan doen en wanneer jy dit gaan doen. Wanneer jy 'n besluit in die lug laat hang, maak jy egter ook 'n besliste keuse. Jy doen dit egter net passief. As jy nie 'n keuse maak vir positiewe optrede nie, kies jy in werklikheid die neutrale of die negatiewe. Jy bedrieg jouself deur te dink dat jy nie 'n keuse wil of kan maak nie.
HET U ‘N BRUILOFSKLEED?
Hannes Ollewagen
Matt. 22:1-14
“En toe die koning ingaan om na die gaste te kyk, sien hy daar iemand wat nie ‘n bruilofskleed aan het nie. En hy sê vir hom: Vriend, hoe het jy hier ingekom sonder ‘n bruilofskleed aan? En hy kon geen woord sê nie.” (:11&12).
Alhoewel die diensknegte van die koning oral oor gaste vir die bruilof versamel het, moes hierdie versameldes hulself steeds met ‘n bruilofskleed oorklee alvorens hul aan die bruilof kon deel hê. Daar was een gas wat gedink het om sonder daardie bruilofskleed aan die bruilof deel te neem, maar hy is deur die koning raakgesien, aangespreek en uitgewerp.
Geliefdes, hoe toepaslik is hierdie gelykenis nie ook nog in ons dae nie? Ons sien en hoor diensknegte van God, die Koning van die heelal, wat mense uitnooi om vir sy Bruilof gereed te maak. Ons hoor hoedat hulle vermaan en mense aanmoedig om hul bruilof klere gereed te kry, maar soos in die dae van Christus, steur die mense hul min hieraan. Elkeen gaan terug na sy handelsaak en na sy eie stuk land, na sy “YouTube” en sy rekenaarspeletjies, sy “Netflix” en oppervlakkige vermaak. Ja, elkeen gaan maar net eenvoudig voort met die gejaag na die verganklike dinge van hierdie wêreld.
Hoeveel mense is nie só diep in hierdie wêreld gewikkel dat hul kleed al op afgryslike wyse bevlek is nie. Kyk maar net na ons eie volksgenote rondom ons. Dit is met skaamte dat ons vandag in eerlikheid moet erken dat drinkpartye, vloekery, tatoeëermerke, saamblyery, egskeiding, aborsies, selfsug, luiheid, gebrek aan respek vir ons medemens en ouers, oneerlikheid, films waarin Godslastering en ongekende bloedvergieting en hoerery voorkom alles dinge is wat nie onder ons volk vreemd is nie. Ja, getuig die woorde van Jes. 64:6 nie ook teen ons nie?
“En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.” (Jes. 64:6).
Hoe tragies is dit ook nie dat hierdie sonde ons so verblind nie. Ja, daardie bevlekte kleed is duidelik sigbaar, maar tog menigmaal nie vir daardie een wat dit dra nie.
“…Blind het hulle deur die strate gewaggel, met bloed bevlek, sodat ‘n mens hulle klere nie kon aanraak nie.” (Klaagl. 4:14).
En dan waggel ons op hierdie vuil en bevlekte wyse om op die Sabbat te hoor dat Jesus vir ons so lief is dat Hy ons ten spyte van al hierdie gruwels sal seën en eendag in sy bruilofsmaal sal verwelkom! Ja, selfs erger – homoseksuele word selfs toegelaat om die prediker te wees. Wat ‘n veragting van God en sy Woord!
“’n Opsienier dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; …” (1 Tim. 3:2).
Wie is dan die leuenaar – ‘n leraar wat sulke ketterye verkondig of die Woord van God wat in Mal. 2:16 uitdruklik die teendeel stel?
“Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ‘n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag en wees nie ontrou nie.”
Geliefdes, sê ek vandag dat enige mens wat sy kleed besoedel het geen genade voor God sal vind nie en ewig verdoem is? Allermins, want dan sou almal van ons verlore wees omdat daar nie ‘n enkele mens was of ooit sal wees wat in sy lewe hier op aarde nie sondig nie.
“...want daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.” (Pred. 7:20).
Daar is niemand van ons wat ons kleed nie met sonde besoedel en bevlek het nie, geliefdes.
Ons behoort wel te weet dat geen sterfling met sy besoedelde kleed aan God se ewige Bruilofsmaal sal deel hê nie. Daar sal van elke gas wat aan hierdie Bruilofsmaal wil deel hê verwag word om hul besoedelde kleed uit te trek en hul met ‘n suiwer, skoon bruilofskleed te beklee. Ja, hierin het Josua, die hoëpriester van God, vir ons die voorbeeld gestel.
“En Josua was bekleed met vuil klere, terwyl hy voor die Engel staan. Daarop het Hy aangehef en gesê aan die wat voor Hom staan: Neem die vuil klere van hom weg. Toe sê Hy vir hom: Kyk, Ek het jou skuld van jou weggeneem, en Ek beklee jou met feesklere.” (Sag. 3:3&4).
Ja, selfs hy wat die hoëpriester van God was, was met sonde bevlek. Maar hy het genade voor God gevind en hierdie vuil kleed is van hom weggeneem sodat hy met rein feesklere beklee kon word.
Ja, geliefdes, hy wat voor God staan en sy vuil, besoedelde en bevlekte kleed aanskou en daaroor skaam voel, vir hom is daar hoop. Hy wat in hierdie bevlekte en besoedelde kleed woordeloos voor God staan met geboë hoof omdat hy weet dat hy met reg tot die ewige verdoemenis verdoem behoort te word, vir hom is daar hoop. Hy wat voor God staan in hierdie bevlekte en besoedelde kleed met ‘n traan wat uit sy oog en ‘n gebroke hart voor God drup oor sy ellendige toestand, vir hom is daar hoop. Hy kan hoop op die barmhartigheid van God wat sy besoedelde kleed van hom sal wegneem om dit te was in die suiwere, kosbare bloed van die Lam. Ja, hy kan met verwagting uitsien hoedat sy lewenskleed wat soos skarlaken bevlek was so wit soos wol gewas sal word.
“Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol.” (Jes. 1:18).
Geliefdes, laat ek en u ook die kleed haat wat met sonde bevlek is.
“…en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is.” (Judas : 23).
En laat ons ons met die kleed van geregtigheid klee.
“Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie.” (Rom. 13:14).
Hierdie kleed wat ons moet aantrek en met alles in ons moet bewaar.
“…Salig is hy wat waak en sy klere bewaar, …”(Open. 16:15).
Ja, salig is hy wat met die bruilofskleed beklee is en eendag mag deel hê in die Bruilofsmaal van die Lam!
“En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. …”(Open. 19:8&9).