ONS STREWE NA VOLMAAKTHEID

Hannes Ollewagen

Heb. 13:20-25

“MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.” (:20&21).

Daar is niemand van ons wat volmaak is nie. Elke mens het maar sy gebreke, sy tekortkominge, swakhede en sondes. Maar ongelukkig het hierdie feitelike waarhede in ons tyd gerieflike verskonings vir mense geword om in sonde te volhard. Dit word effektief aangewend om enige vorm van vermaning af te weer en hul verantwoordelikheid vir hul sieleheil die rug te keer.

U het uself seker ook al in ‘n situasie bevind waarin ‘n persoon vermaan word en hy die vermaning eenvoudig afwys met die gerieflike verskoning – “Man, niemand is volmaak nie.” Dit is natuurlik waar. Maar in plaas daarvan dat ons hierdie waarheid aanwend om ons geloofsverantwoordelikheid te ontduik en diegene wat ons vermaan te probeer ontspoor, behoort dit ons daartoe aan te spoor om na onberispelikheid, heiligmaking en volmaking volgens die wil van God in Christus Jesus te streef.

“Maak dood dan julle lede wat op die aarde is naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid, wat afgodediens is,” (Kol. 3:5).

“Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid. En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kol. 3:12&14).

Dit is mos vandag een van die grootste “sondes” wat ‘n mens kan pleeg – om ‘n ander te vermaan. Hoe durf jy! Jy is liefdeloos! Jy dink jy is beter as ander! Niemand is volmaak nie! Jy mag nie oordeel nie! Ja, geliefdes hoe hartseer dat selfs in soveel kerke hierdie verskonings gebruik word om diegene wat ander wil vermaan se mond te snoer. En is dit nie ‘n direkte verontagsaming van God se opdrag nie?

“Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.” (Heb. 3:13).

“…Leer en vermaan mekaar met psalms en lofsange en geestelike liedere, …” (Kol. 3:16).

“En ek vermaan julle, broeders, verdra die woord van vermaning, want ek het ook maar kort aan julle geskrywe.” (Heb. 13:22).

Die Here onderrig ons uit Spreuke 12:1 dat hy wat die teregwysing haat onverstandig is.

“EEN wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom.”

Diegene wat hulself nie aan gesonde teregwysing vanuit God se heilige Woord onderwerp nie is uiters verwaand. Hulle stel indirek dat hul beter weet wat goed is in die lewe as wat God sou weet en dat hulle nie sy teregwysing nodig het nie. Maar tog is dit ironies dat baie van diesulkes vinnig weet om te bid wanneer hulle deur onheile bedreig word. En dan sou die fout natuurlik weer by God lê indien daar nie verhoring van hul gebede is nie. Hulle sou met God wil twis omdat Hy nie na hulle wil luister nie, maar God durf nie met hulle twis omdat hulle na Hom nie luister nie. Die Here maak tog hierdie saak in die woorde van Spreuke 28:9 baie duidelik.

“Wie sy oor wegdraai om nie na die wet te luister nie, selfs sy gebed is ‘n gruwel.”

Hoe ironies is dit nie dat diegene wat nie vermaning wil aanneem nie eintlik in hul eie hart hulself as “volmaak” beskou. Hulle is in hul eie oë volkome – hul het geen vermaning en teregwysing of raad nodig nie. Daarenteen is ware gelowiges van hul swakhede en tekortkominge voor God bewus. En hulle is hartseer en ongelukkig hieroor omdat hulle weet dat God nie daarmee tevrede is nie. Hulle is ook bewus van hul onvermoë om hulself te vervolmaak en daarom wend hulle hul tot die Woord, tot Jesus Christus, om redding.

Diegene wat die vermaning en tug verwerp, weerstaan Jesus Christus wat ons tot volmaaktheid wil lei.

“Want as ons opsetlik sondig, nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, bly daar geen offer vir die sondes meer oor nie,” (Heb. 10:26). “hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy verdien wat die Seun van God vertrap het en die bloed van die testament waardeur hy geheilig is, onrein geag en die Gees van genade gesmaad het?” (Heb. 10:28).

Die gelowige kind van God daarenteen slaan sy oë op tot God en soek gedurig na Hom, bid gedurig tot Hom om hom te versterk, te grondves en tot volmaaktheid te lei.

“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves!” (1 Pet. 5:10).

Geliefdes, laat ons nie die dwaasheid van die wêreld navolg en deur die sonde en begeerlikhede van hierdie wêreld verhard word nie, maar eerder mekaar tot liefde en goeie werke aanspoor terwyl ons na ons vervolmaking in Christus Jesus streef.

“...en laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor;” (Heb. 10:24).