Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer ontvang 'n mens die ewige lewe? Hoe gebeur dit dat 'n mens daaraan deel kry? Die ewige lewe dui nie slegs ons voortbestaan ná die opstanding aan nie maar dui ook op die huidige terwyl ons nog op aarde is. In Johannes 5 verduidelik Jesus self dat ons nou al vrygespreek is en nie die oordeel ingaan soos diegene wat nie gered is nie en wie by die oordeelsdag veroordeel sal word. Selfs afgestorwenes sal dan uit hulle grafte opstaan en dié wat gered was sal reguit die ewige lewe ingaan maar die ongereddes sal dan voor God ter veroordeling staan.
LANGS ONS EIE WEË
Hannes Ollewagen
Ps. 81:1-17
“Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie.Toe het Ek hulle oorgegee aan die verhardheid van hul hart, dat hulle in hul eie planne kon wandel.” (:12&13).
Die wêreld waarin ons leef het geen tekort aan hartseer en ellende nie. Ons hoor ook menigmaal dat mense vra waarom God dan nie al hierdie dinge wat skeefloop verhoed nie – waarom keer God nie hierdie dinge nie? Hy is tog almagtig, nie waar nie? En Hy is boonop ‘n God van liefde. Indien Hy dan ‘n God van liefde is vir Wie niks onmoontlik is nie behoort Hy mos al hierdie slegte dinge van die mensdom af te keer, of hoe?
Geliefdes, inderdaad is dit in God se hart om die mens van allerhande hartseer en ellende te spaar. Hy begeer nie die mens se ondergang, verdrukking, hartseer, ellende en swaarkry nie. Hy verlekker Hom nie in die mens se seerkry en lyding nie.
“Het Ek dan miskien ’n behae in die dood van die goddelose? spreek die Here HERE. Nie liewer daarin dat hy hom bekeer van sy weë en lewe nie?” (Eségiël 18:23).
Ons leer uit die Woord van God dat die gedagtes wat Hy vir sy kinders koester mooi en wonderlik is.
“Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die HERE, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee.” (Jer. 29:11).
Wanneer ons dan onheil en ellende sien, hoe sal ons dit verklaar? Behoort ons aan die waarheid van God se Woord te twyfel? Behoort ons aan God se almag te twyfel? Allermins behoort daar twyfel in ons harte te wees – nie oor die waarheid van God se Woord of oor sy almag nie. Die Here begeer ons heil en juis daarom dat Hy aan ons as mense sy volmaakte insettinge en verordeninge gegee het.
“ Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid — tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon.” (Ps. 19:10-12).
Die insettinge van God is nie gegee sodat dit ‘n swaar las sou wees waarmee die mens hier op aarde vermoei moet word nie. Dit is teen die wese van God om sonder rede ‘n swaar juk onnodig op die mens te laai.
“...want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:30).
Dink maar aan Christus se kritiek teenoor die Fariseërs omdat hulle onnodige swaar laste op die mense laai.
“Want hulle bind pakke saam wat swaar en moeilik is om te dra, en sit dit op die skouers van die mense, maar self wil hulle dit nie met hulle vinger verroer nie.” (Matt. 23:4).
Geliefdes, dit is juis omdat God se weë hoër as ons s’n is en juis omdat Hy wil sien dat die mens die weë van ellende, hartseer en onheil in hierdie lewe vermy dat Hy aan ons sy regverdige en goeie verordeninge geskenk het.
“Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE.” (Jes. 55:8).
Maar die mens van ons tyd het verwaand geword. Die mens van ons tyd dink dat sy weë hoër as God se weë is – beter en lekkerder as God se weë is. En daarom verag die mens van ons tyd God en werp hy God agter sy rug. Die mens soek na sy eie gedagtes eerder as om na God te soek en sy weë na te speur om daarlangs te wandel. Dit is om hierdie rede dat ons soveel ellende, hartseer en seerkry in ons tyd sien. Dit is omdat God die mens wat met ‘n aanhoudende afkerigheid Hom verag en weerstaan, straf met ‘n verskriklike straf – die straf om aan sy eie weë en planne oorgelaat te word.
“...omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geworden die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ’n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere. Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee …” (Rom. 1:21-24).
En hoe ironies is dit dat wanneer die mens die wrange vrugte pluk van sy eie planne, hy die verwyt na God slinger?
Geliefdes, wanneer ons na die wêreld kyk en al die ellende en hartseer daarin sien, laat dit ons nie tot moedeloosheid stem nie. Moenie dat dit u terneerdruk nie en moet u ook nie daaraan steur nie. Laat dit vir my en u elke keer net ‘n herinnering wees aan wat die uiteinde van die mens is wat sy eie weë bo God se weë verkies. Laat dit vir my en u ‘n herinnering wees wat die uiteinde van die mens is wat aan sy eie weë oorgelaat word. En mag dit ons opnuut aanspoor om die Aangesig van God gedurig te soek en voor God te pleit dat Hy ons lot in sy Hand moet hou sodat ons nooit aan onsself oorgelaat word nie. Laat dit ons opnuut aanspoor om God te dank wat ons van ons eie sondige weë gered het toe ons nog verlore en ver van God af in ons eie weë gewandel het. Hy wat ons hiervan gered het om ons langs die weg van saligheid te lei waar ons naby aan Hom mag leef.
“Maar nou in Christus Jesus het julle wat vroeër ver was, naby gekom deur die bloed van Christus.” (Efés. 2:13).
Amen.