WIE MAG IN U TENT VERTOEF?

Hannes Ollewagen

Ps. 15:1-5

“…wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, en wat met sy hart die waarheid spreek; wat nie rondgaan met laster op sy tong nie, sy vriend geen kwaad doen en geen smaadrede uitspreek teen sy naaste nie;” (:1-3).

Eerlikheid, opregtheid, waarheid, deernis en omgee vir jou naaste. Dit is nou seldsame eienskappe waarvan ons hier praat. En is dit nie vreemd nie – terwyl Suid-Afrika algemeen bekend staan as ‘n “christelike land” is hierdie eienskappe nie so algemeen nie?As ons dan waarlik Christene is waarom is hierdie eienskappe waarvan God hou - dit wat vir Hom so aanneemlik is - so skaars?

Ons moet dalk vir onsself afvra met hoeveel erns ons werklik die lewende God van hemel en aarde dien. Dawid stel dit in die gelese Psalm wie in die huis van die Here mag kom – wie mag vertoef in sy tent? Dit verdien sekerlik ‘n meer breedvoerige bespreking van hoe dinge in ons tyd daar uitsien.

 

Dawid maak ten eerste melding dat diegene wat in die huis van die Here kom opreg moet wees. Dit is tog ‘n kosbare deugde in God se oë. Dink maar hoedat die Woord van hierdie eienskap melding maak in die geskiedenis van verskeie mense wat baie na aan God geleef het. “Dit is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n regverdige, opregte man onder sy tydgenote. Noag het met God gewandel.” (Gén. 6:9). “…het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees.” (Gén. 17:1). Dit word self in die wet van God vir ons as ‘n opdrag gegee. “Opreg moet jy wees met die HERE jou God.” (Deut. 18:13). Ek wil u dan vra of ons die Here eer wanneer ons eredienste bywoon waar ons die uitsluitlike verwagting het om te hoor hoe diep en ryklik die Here my gaan seën en voorspoed oor my gaan stuur? Woon ek die erediens by met ‘n opregte bedoeling om na die Woord van God te luister of is my eie welstand, voorspoed en begeertes eerder die dryfveer? Eweneens kan ons die vraag stel of die Here behae daarin het wanneer ons week na week in ‘n erediens gaan sit bloot omdat ek om een of ander rede daartoe verplig voel?

Daarna lees ons van ‘n man wat geregtigheid doen. En vinnig sal ons hoor – “”Maar ons kan tog nie ons saligheid verdien nie! Ons kan nie vir onsself ‘n plek in die hemel beërwe met goeie werke nie.”Toegegee. Maar waar in die Woord van die Here leer ons dat die genade wat ons in Christus Jesus ontvang het ons die verantwoordelikheid om geregtigheid te doen, ophef? Het die Here Jesus self nie die volgende getuig nie? “Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.” (Matt. 5:20). En stem hierdie woorde nie pragtig ooreen met die woorde van die Psalmdigter nie? ““…wie mag vertoef in u tent? Wie mag woon op u heilige berg? Hy wat opreg wandel en geregtigheid doen, …” Hy wat nie geregtigheid doen nie sal in God se woning verwelkom word nie.

Die derde saak wat Dawid aanspreek sluit baie nou aan by opregtheid. Hy stel nie alleen dat ‘n mens die waarheid moet spreek nie, maar ook met jou hart die waarheid moet spreek. Jy moet die waarheid met ‘n opregte, rein, skoon gemoed spreek. En hoe getuig die Woord van die Here nie van God se behae in waarheid nie. “Dit is die dinge wat julle moet doen: Spreek die waarheid met mekaar; beoefen waarheid en ’n regspraak van vrede in julle poorte!” (Sag. 8:16). “Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede.” (Efés. 4:25).

Ons lees in die derde vers van ons oordenking van verskeie optredes wat die eer en aansien van ons naaste sal skend. En hoeveel van ons is nie hieraan skuldig nie? Daardie woorde gly so maklik, soos swaardsteke uit ons mond. Dink maar hoedat ons selfs enkele minute nadat ons uit ‘n erediens stap veel te sê het oor die predikant of iemand wat saam met ons die lof van die Here besing het en Hom aanbid het. Spreek die Woord van die Here nie ons in duidelike taal hieroor aan nie? “Daarmee loof ons God en die Vader, en daarmee vervloek ons die mense wat na die gelykenis van God gemaak is. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking. Dit, my broeders, behoort nie so te wees nie.” (Jak. 3:9&10). Hoe maklik spreek ons nie ‘n smaadrede teen ander uit of beskimp medegelowiges sonder rede nie. En ons dink dat die Here maar hiermee tevrede sal wees. “Jou mond laat jy los in boosheid, en jou tong vleg bedrog.Jy sit en praat teen jou broer, die seun van jou moeder beskimp jy.Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel.” (Ps. 50:19-21).

Ek wil u vanmore in liefde vermaan dat ons ook opnuut besin oor die gesindheid waarmee ons na die huis van God gaan. Dit is sekerlik een van die grootste voorregte wat ons as mense het – om tot die lewende, heilige God te mag nader. Sou ons durf hierdie voorreg op onverantwoordelike wyse hanteer? Of sal ons eerder ag gee op die vermaning uit die Woord van die Here wat ons vind in Prediker 4:17:”Gee ag op jou voet as jy na die huis van God gaan, want om nader te kom en te hoor, is beter as dat dwase ’n slagoffer bring; want hulle het geen verstand nie, sodat hulle kwaad doen.”