HY IS DIE HERE

Hannes Ollewagen

Ex. 6:1-12:” VERDER het God met Moses gespreek en vir hom gesê: Ek is die HERE. En Ek het aan Abraham, aan Isak en aan Jakob verskyn as God, die Almagtige, maar met my Naam HERE het Ek My nie aan hulle bekend gemaak nie.” (:1&2).

Die Almagtige maak Homself aan Moses bekend met sy Naam, HERE. ‘n Naam wat Hy nie aan Abraham, Isak en Jakob bekend gemaak het nie. Hierdie Naam dui tog op die verhewenheid van God – die hoë gestalte en aansien wat Hy behoort te geniet.

Die HERE sou Homself egter nie net aan Moses in hierdie verhewe posisie bekend maak nie. Hy sou ook aan die kinders van Israel en selfs die Egiptenare van hierdie oomblik af bekend maak dat Hy hoog verhewe bo die mensekinders is – dat hy die HERE is. “Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die HERE is, as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei.” (Ex. 7:5). Dink maar aan die bevel wat God aan Moses in Ex. 14 gee met die bedoeling dat Farao die kinders van Israel moet agternasit. Farao sou m.a.w. God teëgaan en op hierdie wyse sou God sy krag en verhewenheid aan die Farao en sy dienaars bewys. God sou aan hulle duidelik bewys dat Hy die HERE is. “En Ek sal Farao se hart verhard, dat hy hulle agtervolg; en Ek wil My aan Farao en sy hele leërmag verheerlik, en die Egiptenaars sal weet dat Ek die HERE is. …” (Ex. 14:4).

 

Ek wonder soms of die HERE in ons harte en lewens nog die ereplek van ons HERE beklee. Daar is in ons samelewing maar weinig sprake van respek. Dit het tot gevolg dat ons dalk ook nie meer al dag aan God die nodige respek bewys nie. Die mense van ons tyd het min respek vir mekaar, hulle het weinig selfrespek en eindelik ook nie meer die nodige respek vir God nie. Dit is tog duidelik aan die al te gemaklike kleredrag waarin mense eredienste bywoon. Ons praat dan nou van mense wat nog die moeite doen om darem na ‘n erediens te gaan. Het u al ooit daaraan gedink hoe min respek u gewoonlik aan iemand bewys om nie op te daag by ‘n geleentheid waarheen u genooi word sonder ‘n baie goeie verskoning vir u afwesigheid nie? En sien ons nie hoedat menige mens deesdae verkies om eerder in winkelsentrums, pretparke, sportstadions of voor die televisie deur te bring eerder as om na ‘n erediens te gaan nie? Dit vertel tog iets van ons respek vir God en sy instelling van sake soos ‘n erediens. “en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie,…” (Heb. 10:25).

Ons is vinnig om die HERE om hulp te roep wanneer ons in nood verkeer, maar ewe vinnig om Hom te vergeet wanneer ons nie in nood verkeer nie. In hoe min van ons huise beklee Hy waarlik ‘n ereplek? In hoe min van ons huise is Hy werklik die HERE? Ons noem Hom Here, HERE, maar doen ons wat Hy sê? “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46). En hoe sal ons doen wat Hy sê as ons nie eers na Hom luister nie! In hoe min van ons huise beklee Hy nog die ereplek deurdat ons tot sy troon nader in gebed en stil raak om na sy Woord luister alvorens ons met ons dagtaak begin? Ons is mos gewoon te besig. Daar is te veel wat gedoen moet word – te veel rykdom en sukses wat nagejaag moet word. Daar is te veel eiebelang wat gedien moet word dat ek geen tyd oorhou om met ware eerbied en respek voor my HERE stil te raak en na sy wil te vra nie. Maar ek sal weet om te roep “Here HERE” sodra daar in hierdie besige dag van my iets skeef loop.

Ons moenie dink dat ons nie die HERE vertoorn deur ons gebrek aan respek vir Hom nie. Die HERE het deur die mond van die profeet Maleági aan Israel sy misnoeë te kenne gegee oor hul gebrek aan eerbied en vrees vir Hom. “’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? …” (Mal. 1:6). Die volk het gedink dat hulle maar hul uitskotdiere aan God as ‘n offer kon bring. Die HERE gee duidelik sy ontevredenheid hieroor aan die volk te kenne. Hy stel dit aan hulle dat nie een van hulle so ‘n rampsalige offer aan die owerstes in hulle land sou bring nie omdat hulle hulself daarvoor sou skaam. En tog is hulle nie skaam om die oorskot aan God aan te bied nie. “En as julle ’n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ’n lam of ’n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ’n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees? sê die HERE van die leërskare.” (Mal. 1:8).

Ons moet versigtig wees om na die volk Israel die vinger te wys. Doen ons nie maar dieselfde nie? Ons is net so besig deur die dag dat ons nie meer tyd vir God het nie. Hy moet maar tevrede wees met die laaste drie minute van my dag voordat ek in die bed klim en aan die slaap raak terwyl ek probeer om Bybel te lees. Ek sal dit darem afsluit met ‘n formulier gebedjie wat ek vir die laaste 20 jaar al prewel. Hy is darem ‘n liefdevolle God en verstaan mos dat ek moeg is. Ek kon nou ongelukkig weer nie hierdie maand my tiende afstaan nie, want dinge is mos maar duur jong. Die lewe is duur. God sal gelukkig verstaan dat die R 100 wat ek hierdie maand afgestaan het “al is wat ek gehad het”. Die feit dat my drankrekening alleen vir die maand hierdie bedrag oorskry, sal God nie vertoorn nie. Hy verstaan en vergeef mos alles soos die goeie en lojale dienskneg wat al jare aan my onderdanig is en vir wie ek dalk dankbaar is omdat hy my lewe vergemaklik, maar tog weinig respek het.

Ons wonder tog sekerlik waarom sake in ons tyd so rampsalig daar uitsien? Hoor God nie ons bedes om reën nie? Hoor Hy nie ons klagtes oor die moord en misdaad in die land nie? Sien Hy nie al die onregte wat gebeur nie? Is Hy nie in staat om die reën oor ons land te gebied nie en met Goddelike ingrype uitkoms te skenk nie? Of is Hy dalk besig om oor hierdie land sy mag en toorn uit te stort oor die absolute gebrek aan respek, eerbied en vrees vir Hom? Die vermetelheid om te dink dat God gewoon al ons versoeke en bedes op ons bevel moet nakom, maar tog is ons nie enigiets, selfs liefde of respek, aan Hom verskuldig nie! Hoe maklik vergeet ons die woorde wat die ONVERANDERLIKE GOD gespreek het in 1 Samuel 2:30:”…Maar nou spreek die HERE: Dit is ver van My; want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.”

Mag die Here HERE Homself opnuut aan elke een van ons, maar ook aan die wêreld rondom ons, as die HERE openbaar tot die eer en verheerliking van Sy Grote en Heilige Naam!