OUERS & KINDERS

Hannes Ollewagen

Efésiërs 6:1-9

“KINDERS, julle moet jul ouers gehoorsaam wees in die Here, want dit is reg.” (:1).

“En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (:4).

Sterk en gelukkige huisgesinne is kosbaar in God se oë. Dink maar aan hoeveel vermaninge ons in God se Woord vind wat vir ons leer hoe om sterk en gelukkige gesinne te verseker. En die verbreking van sterk en gelukkige gesinne is vir God veragtelik om te aanskou. Dit word vir ons in die woorde van Maleági 2:16 baie duidelik gestel. “Want Ek haat egskeiding, sê die HERE, die God van Israel, en dat ’n mens sy kleed met geweldpleging bedek, sê die HERE van die leërskare. Neem julle dan in ag ter wille van julle gees en wees nie ontrou nie.”

Dit is vir gelowiges ook nie ‘n geheim dat die satan alles wat vir God mooi en kosbaar is wil vernietig nie. En wanneer die satan daarin slaag om ‘n gesin uitmekaar te skeur, rig hy sommer verwoesting op groot skaal aan.

Hy slaag daarin om in baie mense se lewens baie hartseer, worsteling, twyfel, vertrouensbreuk en bitterheid te saai. Ons kan dit amper vergelyk met ‘n akkuraat gerigte bomontploffing in ‘n oorlog. In plaas van ‘n enkele soldaat wat deur ‘n geweerskoot getref en gewond of gedood word, is daar ‘n hele klomp slagoffers met een skoot. Sommige hiervan is dood en andere so erg vermink dat ‘n mens wonder of die dood nie meer genadig sou wees nie.

Dit is net tragies dat ons liefde vir ons naaste so flou geword het dat ons nie die moeite doen om hierdie riglyne wat die Here vir ons voorhou na te speur nie. Waarom ondersoek ons nie hierdie riglyne wat tot die beskerming en behoud van gesonde gesinne sal dien met alle ywer nie? Dit is seker nie vir ons so belangrik as die naweek se sport, vanaand se ure voor die televisie of daardie ekstra paar duisend rand waarna ek hunker nie. Dit is dalk nie vir ons so belangrik soos my persoonlike sukses en aansien nie. En dan wonder ons waarom bykans een uit elke twee kinders in die skoolbanke uit gebroke gesinne kom?

Ons staan verstom en verwonderd oor die ellendige en swak toestand van ons volk. En ons monde is vol om kritiek te lewer oor hierdie of daardie persoon of organisasie of aangeleentheid. Tog is ek en u deel van hierdie verswakte volk wat homself in ‘n ellendige toestand bevind. Let wel, ons is nie ‘n ellendige volk nie, maar wel in ‘n ellendige toestand. Ek en u moet onsself ook afvra of ons bydra tot hierdie ellendige toestand en of ons dit met ons optrede verbeter. Indien ons gesinne uitmekaar val en dit in ons huise nie na God se behae gaan nie, is ons deel van die probleem! Gesonde gesinne is die boustene van ‘n gesonde volkshuishouding.

Ons lees in Efésiërs 6 God se opdrag aan kinders om hul ouers te gehoorsaam. Hoe gereeld sien ons dit nog vandag? Of sien ons eerder hoedat ouers na die grille en giere van hul kinders rond spring om hul ter wille te wees? Is dit God se opdrag: Ouers, kyk hoe julle jul kinders kan behaag? Verseker nie. Dink maar aan God se woorde aan Eli. “Waarom verag julle my slagoffer en my spysoffer wat Ek in my woning beveel het, en eer jy jou seuns meer as vir My …” (1 Sam. 2:29).Ons sien hoedat ouers aan hul kinders meer eer as aan God bewys. Hulle sien die verkeerde wat hul kinders doen en sal hul daarvoor blind hou eerder as om hul in die tug en vermaning van die Here tereg te wys.

Die goddelose regering wat as straf oor ons volk gebring is, het dan ook hul eer aan Satan bewys deur onlangse wetgewing wat ouers verbied om hul kinders te tugtig. Dit is natuurlik ‘n hulpmiddel wat die satan gebruik om gesinne te verswak en uiteindelik uitmekaar te skeur. Dit is nog ‘n skoot van ‘n goddelose regering wat gemik word om ons volk in die hart te tref. Dit is nog ‘n skoot wat ‘n bloedige wond gaan veroorsaak en as ek en u nie hierdie wond gaan verbind nie moet ons nie treur wanneer ons volk dood bloei nie.

‘n Gelowige behoort egter nie eers enige oorweging te skenk aan die nakoming van hierdie “wet” van die regering nie. Enige wet of verordening wat in stryd is met wat God vir ons leer, is nie ‘n wet waaraan ‘n gelowige homself onderwerp nie. “En Petrus en die apostels antwoord en sê: Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense.” (Hand. 5:29). Ek kan met alle sekerheid in my hart en siel dit aan u stel dat u God nie sal teleurstel wanneer u hierdie goddelose wetgewing met minagting verwerp nie. Tewens, ons is aan God die eer verskuldig om dit te doen en ons kinders steeds in die tug en vermaning van die Here op te voed omdat ons hulle liefhet ongeag wat die goddelose regering van die dag se mening daaroor is.

Ons moet dalk weer opnuut ‘n paar kernwaarhede ter harte neem. ‘n Vader wat sy gesin van groot waarde ag sal hierdie gesin van hom met alle mag wil beskerm en versorg. So ‘n vader sal sy kinders tug omdat hy vir hulle lief is. “Wie sy roede terughou, haat sy seun; maar hy wat hom liefhet, besoek hom met tugtiging.” (Spr. 13:24). ‘n Volk wat selfrespek het, sal vir sy nageslag ‘n goeie toekoms wil verseker. En daar is min dinge wat so onontbeerlik vir ‘n mooi toekoms is as ‘n goeie opvoeding. En dus sal ‘n volk wat begerig is om sy nageslag se voortbestaan te verseker die noodsaaklikheid van tug, vermaning en dissipline goed verstaan. Kinders wat grootmense word, besef eers op latere ouderdom die regte waarde van ‘n goeie opvoeding en hulle sal diegene wat hul hiermee geseën het met eerbied vergeld.

My wens is dat ons aan God die eer mag bewys deur ook hierdie verordening van Hom waarlik ter harte te neem. En sodoende sal ons weer die krag in ons volk sien, ons krag wat nie uit onsself is nie, maar omdat dit so diep lê so sterk is om ons weereens uit ‘n bitter ellendige toestand te laat verrys. En dat ons in ‘n herstelde toestand mag leef voor die Aangesig van die God wat vir ons deur sy Woord ons heil bewerk.