Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wat sê ons is kinders van die Here en leef in goeie verhouding met Hom, kan ons werklik sê ons leef met volkome vertroue in Hom – of leef ons eerder met wantroue in Hom? Hierdie is 'n fyn skeidslyn maar as ons onthou dat Hy die getroue Een is, sal ons minder sukkel om onsself volkome aan Hom oor te gee.
SAL GOD MENSE STRAF?
Hannes Ollewagen
Ps. 38:1-23
“O HERE, straf my nie in u toorn nie en kasty my nie in u grimmigheid nie. Want u pyle het in my ingedring, en u hand het op my neergedaal.” (:2&3).
Daar is hedendaagse leraars wat verkondig dat God nie mense sal straf nie. Hulle voor aan dat God ‘n God van liefde is en die mens nie leed sal aandoen nie. Dit is volgens hierdie lering die satan wat mense leed aandoen en dat God slegs aan die mens goed sal doen. Die bekendste aanhaling wat gebruik word om hierdie dwaling te regverdig is seker die woorde uit Johannes 10:10:”Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.”
Die probleem met die meeste dwaalleringe is dat dit gewoonlik grootliks waar is, maar tog nie heeltemal waar is nie. Wanneer ‘n mens Johannes 10:10 lees, sal voormelde lering nie verkeerd klink nie. Ons moet onthou dat ons ‘n gedeelte uit die Woord van God altyd moet verstaan in die lig van die HELE WOORD van God. “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid.” (2 Tim. 43:16). Dink maar aan Jesus wat in die woestyn deur die satan versoek is. Die satan het telkens “woorde van God aangehaal” om Jesus te probeer mislei. Jesus het teen hierdie misleidende (verdraaide “woorde van God) verweer gebied met woorde van God in die ware konteks. “Daar staan ook geskrywe”, was telkens Jesus se antwoord. Hierin is tog ‘n baie kosbare lewensles opgesluit wat ons as ware gelowiges moet leer indien ons in die ware geloof wil volhard en hierdie Evangelie vir komende geslagte wil bewaar.
Ons beoordeel daarom die stelling dat “God mense nie straf nie” in die lig van die hele Woord van God i.p.v. ‘n enkele teksvers. Dit is tog duidelik uit Dawid se gebed in Ps. 38 dat hy nie onder die indruk verkeer dat dit die satan is wat hom leed aandoen nie. Hy bid nie tot God om hom van die satan se leed-aanvalle te verlos nie. Hy pleit om genade in ‘n tyd waarin Hy die straf van God ervaar. Ons lees ook in 2 Sam. 7:14 hoe God aan Dawid ‘n belofte maak om met sy seun en nageslag te wees en hulle te lei soos ‘n vader sy seun sal rig en lei. En in hierdie belofte stel God dit duidelik dat hy straf sal uitdeel wanneer dit nodig is. “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees; sodat as hy verkeerd handel, Ek hom sal straf met ‘n menslike roede en met slae van mensekinders.” En word hierdie belofte nie bevestig in Ps. 50 nie? “Hierdie dinge het jy gedoen, en sou Ek swyg? Jy dink Ek is net soos jy! Ek gaan jou straf en jou dit ordelik voor oë stel. Verstaan dit tog, o Godvergeters, sodat Ek nie verskeur sonder dat iemand red nie.” (:21&22). Die retoriese vraag in Ps. 94:10 onderstreep tog vir ons hierdie waarheid. “Sou Hy wat die nasies tugtig, nie straf nie – Hy wat die mens kennis leer?”
Die volgende argument teen bogenoemde sal seker wees dat die voorbeelde“Ou Testamenties” is. Dit is voordat Jesus gesterf het. Kom ons kyk daarom ook na voorbeelde uit die Nuwe Testament. Lees ons dat dit die satan was wat vir Ananías en Saffíra leed aangedoen het? En sou die satan regtig iemand leed aandoen wat vir God lieg in gehoorsaamheid aan hom as Satan? Sou hy hulle nie eerder wou beloon as dienaars van ongeregtigheid nie? “Toe sê Petrus: Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God. En toe Ananías hierdie woorde hoor, het hy neergeval en gesterwe; en ‘n groot vrees het gekom oor almal wat dit gehoor het.” (Hand. 5:3-5).
Ons kry ‘n verdere voorbeeld uit Judas, interessant genoeg onder die volgende opskrif –“Teen die goddelose en valse leraars.” :14&15:”En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.”Wanneer ons na die laaste boek in God se Woord beweeg, sal enige onduidelikheid wat nog kan bestaan, vernietig word. Hierdie boek spreek van plae, oordeel en straf dat dit ‘n mens verskrik laat.
‘n Belangrike aspek rondom God se straf waarvan ons moet kennis neem, is dat God nie die mens uit leedvermaak straf nie. Hy sal ons in der ewigheid nie onregverdig of selfs onnodig straf nie, maar wel tot ons tugtiging en tot ons bekering omdat Hy ons werklik diep en innig liefhet. En omdat Hy ons so diep en innig liefhet, sal Hy die nodige maatreëls toepas om ons van die ewige verderf te red.“En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.” (Heb. 12:5-7,12).
‘n Gesonde bestudering van God se Woord leer dus vir ons onomwonde dat dwaalleer maar net nog ‘n instrument is wat die satan (die dief) aanwend om te probeer om te steel en te slag en verwoesting aan te rig. Die satan gebruik hierdie dwaalleer om te poog om die ewige lewe van ons te steel, om ons siele leed aan te doen en die koninkryk van God in ons harte en lewens te verwoes. God sy dank dat Hy ons só liefhet dat Hy ons selfs wanneer dit nodig is sal tugtig om te verseker dat die dief nie dit wat die kosbaarste is, ons ewige saligheid saam met Hom, van ons roof nie!