UIT OORLEWERING OF UIT LIEFDE?

Hannes Olleswagen

Markus 7:1-23

En Hy antwoord en sê vir hulle: Tereg het Jesaja oor julle, geveinsdes, geprofeteer soos geskrywe is: Hierdie volk eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is. Want terwyl julle die gebod van God nalaat, hou julle aan die oorlewering van mense vas: ... (:6-8).

En Hy sê vir hulle: Julle verstaan dit goed om die gebod van God opsy te sit en so julle oorlewering te onderhou. So maak julle dan die woord van God kragteloos deur julle oorlewering wat julle bewaar het; en dergelike dinge van dieselfde aard doen julle baie. (:9&13).

Dit was die Prediker wat gesê het: Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie. (Pred. 1:9). En volgens hierdie wyse woorde sien ons dieselfde godsdienstige vertoon, waaroor die Here Jesus Christus die Fariseërs in sy tyd hier op aarde tereg gewys het, nou in óns tyd as n herhaling.

 

Hoeveel kerkgangers maak werklik erns met hul verhouding met die Here? En hoeveel van hulle woon eredienste by bloot omdat hulle so grootgemaak is? Hoeveel woon eredienste by omdat dit maar n gewoonte is? Meer belangrik hoeveel leraars van ons tyd leer mense omdat hulle daartoe geroepe voel en dit uit n opregte liefde vir God in gehoorsaamheid doen? En hoeveel leraars geniet maar die gerieflike lewe van n predikant met n goeie status en voordele terwyl die welstand van die kudde vir hom geen gewig dra nie?

U kan dalk voel dat hierdie kritiek ongegrond is. U kan dalk voel dat hierdie kommer wat uitgespreek word onnodig is dat n mens nie die bobbejaan agter die bult moet gaan haal nie. Die dade van ons mense lewer egter getuienis dat ons rede tot kommer het. Hoe kan iemand in die kerk sit, luister na die wet van God wat beveel dat ons die Sabbatdag moet heilig, om vergifnis vra en bes moontlik n lied van vergifnis sing, net om daarna die kerk te verlaat om by die supermark te gaan inkopies doen? Is dit hoe iemand optree wat God met sy hele hart soek en liefhet deur só min agting vir God se Woord te toon?

Hoe lief het ons God regtig wanneer ons toelaat en ons goedkeuring daaraan skenk wanneer God se gebod kragteloos gemaak word deur die sogenaamde geleerdes van ons tyd. God se gebod verbied homoseksuele verhoudings in geen onduidelike taal. God se gebod verbied egbreuk in geen onduidelike taal. God se gebod verbied hebsug en geldgierigheid in geen onduidelike taal. Maar die geleerdes van ons tyd sal hierdie gebod van sy krag stroop omdat hulle selfliefde en hul liefde vir die sondige natuur swaarder weeg as hul liefde vir God. n Mens wat God liefhet wil sy Gees in jou hart koester en in n strewe na heiligmaking die sonde uit jou lewe verdryf. Maar hierdie sogenaamde geleerdes wil God uit hul lewens en ook uit sy kerk uit dryf ter wille daarvan om die sondige natuur te koester! En hulle sleep n menigte mense met hul saam na die verderf!

Ons het die verantwoordelikheid om in verset te tree wanneer sake verkeerd loop. Maar ons moet versigtig wees om nie ter wille van eie eer, ter wille van menslike oorlewering ook die gebod van God opsy te skuif nie. Die onbenullighede waaroor baie Christelike gemeentes al geskeur het, is skreiend. En terwyl baie mense wat die oorsaak van skeuringe was dalk in hul eer gestreel was, sal hulle hulself die vraag moet afvra of God met hul optrede tevrede was? Was dit reg om die gebod van die liefde, eensgesindheid en innerlike ontferming teenoor mekaar wat God ons beveel te verontagsaam en opsy te skuif ter wille van een of ander kleinlike, menslike oorlewering?

Die chaotiese toestand ook op die kerklike terrein laat wel baie mense wat n liefde vir God het in n tweestryd verkeer. Ek wil u maan om die situasie in u gemeente altyd te benader op n wyse wat God se eer voorop sal stel. U moet dit benader op n wyse wat sal verseker dat God se gebod nie opsy geskuif word nie, maar uit liefde gehuldig sal word. Ons kan nie eenvoudig uit die geloofsgemeenskap padgee omdat ons belangstelling verloor of moeg is vir mense se kleinlike gestryery nie. Wanneer ons onwelkom voel by n geloofsgemeenskap waar die liefde vir God dalk ontbreek en daar gewoon menslike oorlewerings nagevolg word, het ons die verantwoordelikheid om na God te vra en na Hom te soek met n opregte hart om ons na n ander heenkome te lei waar ons langs stille waters in Hom rus sal vind.