Hannes Ollewagen
Efésiërs 5:1-21
“Pas dan op dat julle nougeset wandel, nie as onwyse nie, maar as wyse; en koop die tyd uit, omdat die dae boos is. Daarom moet julle nie onverstandig wees nie, maar verstaan wat die wil van die Here is.” (:15-17).
“Ek het net nie tyd daarvoor gehad nie.” Hierdie is nogal woorde wat ‘n mens in ons tyd gereeld hoor. En is dit nie ironies nie? Soveel dinge in die lewe word uitgevind en verbeter om vir ons tyd te spaar en tog het ons “al minder tyd.” Hoe is dit moontlik? Dit gebeur omdat ons toelaat dat soveel onnodige en nuttelose dinge in hierdie lewe ons kosbare tyd in beslag neem. Wat baat die vier ure wat u vanaand voor die duiwelsdoos (televisie) deurbring u nou eintlik in hierdie lewe?
Tyd is die een kommoditeit waarvan almal in hierdie lewe (wat die lewe gespaar word) ewe veel van kry. ‘n Dag in die lewe van die president van ‘n land het nie ‘n enkele sekonde meer as ‘n dag in die lewe van ‘n boemelaar in sy land nie.
Die geheim lê egter daarin hoe elke een van ons hierdie kosbare tyd van ons benut. En hoe hierdie tyd van ons benut word, word bepaal deur ons prioriteite in hierdie lewe. ‘n Geldgierige persoon sal ‘n oormaat van sy tyd daaraan spandeer om rykdom na te jaag. ‘n Sport fanatikus sal ‘n oormaat van sy tyd aan sport wy. ‘n Persoon wat aan dobbelary verslaaf is, sal ure van sy tyd voor ‘n dobbelmasjien verkwis. En so kan die lys aangaan.
Die vermaning uit ons gelese gedeelte word in die brief aan die Kolossense herhaal. “Wandel in wysheid teenoor die wat buite is, en koop die tyd uit.” (Kol. 4:5). Dit is dus vir ons duidelik uit God se Woord dat dit belangrik is dat ons ons tyd reg aanwend. Dit impliseer dat ons ons prioriteite agtermekaar moet kry. Hoe is dit dat die een man met ‘n gesin en wat 10 ure per dag werk tyd het om in die aand saam met sy gesin Godsdiens te hou en hulle in die weë van die Here te onderrig en die volgende persoon in soortgelyke omstandighede “het nie tyd nie”? Dit waarheid van laasgenoemde sal eintlik as volg uitgedruk word –“het nie lus nie”. En dit is omdat dit vir die een persoon ‘n prioriteit is en vir die volgende persoon nie.
Wanneer die Woord ons leer dat ons die tyd moet uitkoop en dat God ‘n prioriteit in ons lewens moet wees, sou dit beteken dat ek die hele dag moet sit en Bybel lees? My verhouding met God is dan vir my die hoogste prioriteit en daarom moet ek die hele dag met die dinge van die Here besig wees? Ek gaan daarom die hele dag net Bybelstudie doen. Allermins is dit wat Hy verwag. Ons moet die tyd uitkoop om die Here te dien. Ons moet die tyd uitkoop om vir die Here te leef. Die grondslag hiervan lê inderdaad daarin dat ons gereeld (oggend en aand) sal tyd maak om voor die Here stil te raak en in gebed met Hom te praat. En ook dat ons deur sy Woord onderrig en leiding sal ontvang. Hierdie is egter eerder die vertrekpunt as die eindpunt. Ek moet vandaar gaan om dit wat ek uit sy Woord geleer het te gaan leef en te gaan doen. “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie.” (Jak. 1:22). God verwag van ons nie maar ‘n blote kennis van geloof nie, maar ‘n lewe van geloof.
‘n Boer wat nie sy landerye bewerk nie moenie verbaas wees as dit deur allerhande onkruid oorgeneem word en hy uiteindelik as ‘n gevolg van sy luiheid sy plaas verloor nie. Dit maak nie saak hoe hard hoeveel van sy voorsate op daardie plaas gewerk het nie. Indien hy nie sy verantwoordelikheid opneem en nakom nie sal al die vorige geslagte se harde werk tot niet gaan. En die geskiedenis sal teen hom getuig as die onverskillige luiaard wat ‘n skandvlek op sy familie se naam was. Dit is ewe waar van ‘n volk. Indien ons geslag nie ons verantwoordelikheid in ons volkslewe vir ons voortbestaan gaan opneem nie het ons geen reg om te murmureer wanneer ons erflating tot niet gaan nie. Ons kan nie daarin roem dat voorgeslagte van eeue gelede baie Godvresende mense was en daarom verwag dat ons God se guns in ewigheid sal geniet terwyl ons nie ons verantwoordelikheid teenoor Hom nakom nie. Ons kan nie elke dag te sleg wees om tyd aan God af te staan en saam met ons gesin huisgodsdiens te hou en dan een maal per jaar in miljoene wil saamtrek en dink dat ons groot getalle God sal beïndruk om Hom tot ons te wend nie. Ten spyte van talle pogings deur ketters van ons tyd om mense anders te oortuig, is die waarheid dat die Heilige en Drie-enige God van hemel en aarde Homself nie laat verneder en reduseer tot ‘n God wat met “kitsoplossings” werk op die mens se bevel nie.
Ons moet dalk in ons “besige lewens waarin ons tog so min tyd het” net vir so ‘n paar minute regtig stil raak en baie, baie mooi oor die volgende besin – Is dit verstandig om die minimum tyd te spandeer aan my en my naaste se sieleheil terwyl dit ‘n invloed sal hê op die bestemming waar ek ongetwyfeld die maksimum (ewigheid) tyd eindelik gaan deurbring? Solank as wat ons asem in ons het, het ons deur God se genade nog tyd wat ons kan uitkoop – moenie hiermee onverskillig en roekeloos handel nie, want daar is geen terugbetalings (“refunds”) nie.