HERE, WAT WIL U HÊ MOET EK DOEN?

Hannes Ollewagen

Handelinge 9:1-19

En hy sê: Wie is U, Here? En die Here antwoord: Ek is Jesus wat jy vervolg. Dit is hard vir jou om teen die prikkels te skop. En terwyl hy bewe en verbaas was, sê hy: Here, wat wil U hê moet ek doen? En die Here antwoord hom: Staan op en gaan na die stad, en dit sal jou gesê word wat jy moet doen. (:5&6).

Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel. (:15)

Paulus is ywerig op weg na Damaskus. En ironies genoeg is hy vas onder die indruk dat hy met alle ywer daarheen op pad is in diensbaarheid aan God. God het dan ook sy onkunde oorgesien en met krag aan hom verskyn om hom van sy dwaalweg te bekeer. Paulus word deur sy ontmoeting met God van n godsdienstige persoon na n ware gelowige en opregte, Godvresende, Geesvervulde kind van God getransformeer.

n Duidelike teken van die ware bekering in Paulus se lewe is die eerste vraag wat hy stel nadat Hy God ontmoet het nadat hy geantwoord is op sy vraag: Wie is u, Here? Hy stel aan God die vraag: Here, wat wil u hê moet ek doen? Sy eie wil, sy eie gedagtes van godsdienstigheid, sy eie idee van hoe hy God sal behaag word verander na n bereidwilligheid om te luister na die stem van die Here en diensbaar aan die wil van die Here te wees.

Daar is, hartseer genoeg, in ons tyd ook te veel mense wat op n dwaalweg van godsdienstigheid wandel sonder om die wil van die Here te ken. Die vertoon van godsdienstigheid wat ander kan raaksien en dalk beïndruk, is vir hulle genoeg in die lewe. Daar is heeltemal te veel lidmate wat vir n wyle elke Sondag n erediens bywoon, maar opslag na die erediens en gedurende die res van die week is dit hul eie wil wat seëvier bo die wil van die Here. Hulle sal self besluit oor reg en verkeerd, hulle sal self besluit oor hoe dit hulle pas om die Here te dien. Hulle is bereid om die Here te dien, maar op eie terme, m.a.w. langs n dwaalweg. As Hy dan ons Here en Meester is, waar is die eer vir Hom, nl. om sy wil te eerbiedig en gehoorsaam?

Die antwoord op Paulus se vraag aan die Here, nl. Here, wat wil U hê moet ek doen? word in vers 15 bekend. Die Here se wil is dat hy wat Paulus is, die Here se Naam voor nasies en konings en die kinders van Israel sal dra. En wat n voorreg val hom te beurt om n draer van hierdie Heilige Naam te word! My geliefde broeder en suster in Christus; hierdie eer het nie net vir Paulus te beurt geval nie. Maar ook vir elkeen van ons wat Hom waarlik leer ken het en ons tot Hom bekeer het. Dit is na ons bekering tot Hom dat sy Heilige Gees in ons harte kom woon en dat ons tempels van die lewende God word wat sy Naam sal dra die wye wêreld in!

Hoe lyk daardie tempel waarin Hy moet woon vandag m.a.w. hoe lyk u lewe vandag? Is dit gevul met allerhande strewes en begeertes van u eie of is u lewe een van onderdanigheid aan die wil van God? Begeer u om ook n man soos Dawid te wees –‘n man na aan God se hart wat soek om sy welbehae te doen? En nadat Hy hom afgesit het, het Hy Dawid vir hulle verhef as koning, van wie Hy ook gesê en getuig het: Ek het Dawid, die seun van Ísai, gevind, n man na my hart, wat al my welbehae sal doen. Hand. 13:22. Strewe u na n lewe van volkome onderdanigheid aan die wil van God volgens die voorbeeld van onse Here Jesus Christus? Hy wat selfs in sy uur van groot benoudheid steeds die wil van sy Vader voorop gestel het. ...My Vader, as hierdie beker nie by My kan verbygaan sonder dat Ek dit drink nie, laat u wil geskied. (Matt. 26:42). Hy wat die versoeking van Satan verpletter het met sy gehoorsaamheid aan die Vader. ...Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid. Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! Want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien. (Matt. 4:9&10).

U het vandag ook die keuse om te maak oor watter naam u verkies om te dra. U kan kies om u eie naam in hierdie lewe te dra of om daarenteen n draer van die Here se Heilige Naam te word. U kan kies om u eie sin en wil te volg of u kan kies om eerder te vra –“Here, wat wil U hê moet ek doen?