DIE SABBAT...

'N DAG VIR GOD AFGESONDER

Hannes Ollewagen

Gen. 2:1-3

“En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.” (:3).

Ons moet dalk begin deur te kyk na wat die term “heilig” beteken.  Ons lees gereeld in die Bybel van ‘n insetting, persoon, besitting, dag of selfs ‘n volk wat vir God geheilig is.  Die betekenis blyk duidelik te wees dat iets wat vir God geheilig is, vir Hom afgesonder is.  Ons as sy kinders is so 'n voorbeeld: heilig -  omdat ons afgesonderd ons lewens aan God se diens toewy ten spyte van ons menslike terkortkominge.

Ons lees hier aan die einde van die Skeppingsgeskiedenis dat God ook die sabbat as ‘n heilig dag afgesonder het.  Die sabbat is derhalwe nie een of ander menslike verordening wat iewers ontstaan het nie.  Die sabbat is deur God self as instelling verorden en wat meer is, hierdie dag is deur Hom geseën en geheilig.  Hy, die Skepper van die heelal, het besluit dat een dag van die week uitgesonder moet word bo al die ander dae van die week.  Die mens is veronderstel om hom in hierdie dag te verlustig en dit aan God te wy.

Die sabbat word tans deur die breë samelewing verwater tot net nog ‘n gewone dag.  Alhoewel baie mense nie werk op hierdie dag nie is daar vir die meerderheid ook niks spesiaal aan hierdie dag nie.  Diegene wat nie werk of sport beoefen op die sabbat nie, verkies om in winkelsentrums rond te loop of dalk by die huis te bly, televisie te kyk of om verlore slaap van die afgelope week in te haal.  Die sabbat is mos ‘n rusdag en as ek dus by die huis bly en uitrus, doen ek mos goed?  Die sabbat is inderdaad ‘n dag van verposing na ‘n vermoeiende week, maar dit is ook baie meer as dit.  Die sabbat is ‘n dag wat vir God afgesonder is en derhalwe bedoel dat ons op hierdie dag bogemiddelde aandag aan God sal skenk.  Kinders van God is veronderstel om hierdie dag ten volle te gebruik om God te aanbid, sy Aangesig te soek, sy Woord te bestudeer en Hom te loof en dank vir al sy wonderdade in ons lewens.

Hoeveel van ons heilig nog werklik die sabbat tot eer van God?  Vir hoeveel van ons is dit belangrik om hierdie dag geheel en al aan God te wy?  Is God van die begin van hierdie geheiligde en geseënde dag in my gedagtes en word Hy met ekstra oorgawe in my hart gekoester en geëer op hierdie dag?

Wanneer ‘n mens van die erediens terugkeer huistoe, is dit tragies om te sien hoeveel voertuie voor die supermark stilhou.  Hierdie mense was ‘n uur gelede in die erediens, maar is nou besig om die sabbat te ontheilig en dit nadat daar bes moontlik na die Wet van God geluister is waarin hierdie vergryp juis verbied word.  “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig.  Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus.  Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Ex. 20:8&11).  Kan mense dan regtig sê dat hulle hul Godsdiens ernstig opneem en toegewyd aan God leef?  As dit te veel gevra is om een dag van die week aan God toe te wy, sal hul werklik bereid wees om hul lewens aan Hom te wy?