RAADPLEEG DIE HERE

Hannes Ollewagen

Josua 9:1-27

“...maar die mond van die HERE het hulle nie geraadpleeg nie.”  (:14).

Dit is maklik om in retrospek ‘n saak krities te kan beoordeel.  So is dit vir ons maklik om na, of selfs tydens die bestudering van hierdie gedeelte die opmerking te kan maak dat Josua mos moes geweet het dat hy God eers moet raadpleeg alvorens belangrike besluite gemaak word.

Josua was die leier wat Moses moes opvolg en hy het derhalwe geen maklike taak hier benede gehad om te verrig nie.  Dit was egter vir Josua gerusstellend dat God hom soveel keer bemoedig het en verseker het dat Hy hom sou bystaan en hom nooit sou begewe of verlaat nie.  Josua was die taak deur God opgelê om die beloofde land te verower en die volk Israel sy erfdeel te laat kry.  Dit was God wat self voor Josua uitgetrek het om sy vyande voor hom weg te vee en Josua het die een oorwinning na die ander behaal.  Ek dink menslikerwys dat Josua ten tye van die besoek van die Gibeoniete dalk al so selfversekerd was na al die oorwinnings wat hy behaal het dat hy vir ‘n oomblik dit nie nodig geag het om God te raadpleeg oor so ‘n geringe sakie nie.

Hoe maklik gebeur dit nie in my en u lewe dat ons so bedrywig raak dat ons God nie meer raadpleeg in besluite rakende ons daaglikse lewe nie.  In ‘n samelewing waarin “elkeen vir homself” toenemend as uitgangspunt gehuldig word, is dit maklik om te vergeet dat ons nie nodig het om alles self in die lewe deur te worstel en op te los nie. 

‘n Moontlik rede waarom mense God nie raadpleeg in besluite wat hulle neem nie is omdat mense nie meer van die woord “nee” hou of dit wil hoor nie.  Mense is nie bereid om die woord “nee” te aanvaar in ‘n individualistiese samelewing nie en die woord “wag” is ook nie iets wat goed afgaan nie.  Dit is vir mense met laasgenoemde ingesteldheid maar net makliker om God te ignoreer in hul lewens asof Hy nie bestaan nie en op die lewensweg voort te ploeter, maar as hulle verdwaal, verstaan hulle skielik nie waarom nie.

God hou daarvan as sy kinders met ‘n opregte gesindheid met Hom praat.  Ons dink aan Dawid wat dag-en-nag aan God gedink het, sy lof besing het, Hom gedurigdeur aanbid het.  Dawid was ‘n man na aan God se hart, omdat God ook na aan sy hart was.  Onse Here Jesus leer ons in die Onse Vader om te bid vir ons daaglikse behoeftes.  Dit beteken mos dat ons God moet ken in ons behoeftes en in ons lewe.  Ons bely Hom as die Voorsienigheid, die Almagtige, Alwetende God, maar ons gesindheid van afhanklikheid van Hom is nie altyd ‘n toonbeeld hiervan nie. 

God wil graag hê dat ons Hom ook moet raadpleeg wat betref ons lewensomstandighede en -vooruitsigte.  Ons moet Hom vertrou met ons toekomsplanne en dit alles in sy bekwame Hande plaas.  “Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.  Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.”  (Spr. 3:5&6).  Ons weë is nie altyd God se weë nie en sake verloop menigmaal anders as wat ons dit in die vooruitsig gestel het.  Wanneer ons egter in retrospek na ‘n saak kyk, is daar nooit ‘n geval waarin ons kan sê dat God onregverdig was of ons moedswillig skade berokken het nie.  Sy weg is altyd volmaak.

Hoeveel van ons is bereid om dinge wat vir ons baie belangrik in ons lewens is in God se Hande te plaas?  Is ons bereid om hierdie sake in volle vertroue aan Hom oor te laat en om ons in onderdanige ootmoed aan sy Wil te onderwerp as die volmaakte wil en weg vir my lewe?  Dit is natuurlik wat ons veronderstel is om te doen wanneer ons Hom in ons lewens navolg, want as ons God gedurig wil voorskryf, beteken dit mos dat ons die voortou neem en verwag dat Hy moet volg.  Wanneer ons daarenteen na sy Raad en sy Wil vra, is Hy die een wat voorgaan en ons volg Hom in vertroue na. 

Ons sê so maklik dat ons God vertrou met ons kosbare siel.  As dit waar is, waarom vertrou ons Hom dan nie ook met die klein en verganklike dinge op aarde nie?  As ek God nie raadpleeg oor sake in my lewe nie, kan ek waarlik sê dat ek Hom vertrou en waarlik liefhet?  As ek Hom liefhet, wil ek mos hê dat Hy sal deelvorm van my lewe en sal ek daarna streef om Hom met my lewenswandel te behaag.

Onthou, liefde en vertroue loop hand-aan-hand.  U sal verslae staan om te sien hoe getrou God waarlik is wanneer u Hom toenemend met sake in u eie lewe vertrou en minder op u eie insig  steun.  “Gimel. Laat jou weg aan die HERE oor en vertrou op Hom, en Hý sal dit uitvoer;”  (Ps. 37:5).