Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Martin Luther het tereg gesê dat ons pyn en lyding nie die naam lyding werd is nie. Hy skaam hom om sy lyding enigsins met die lyding van Jesus te vergelyk!
HOE VOL IS U LAMP?
Hannes Ollewagen
Matt. 25:1-13
“Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (:13)
Ons lees in hierdie gedeelte van tien maagde wat gewag het op die koms van die bruidegom om hom te ontmoet. Die een helfte het die saak en die koms van die bruidegom met groter toewyding en gereedheid as die ander helfte aangepak. Hierdie toewyding en gereedheid was einde laaste hulle behoud en het vir hulle die vreugde van die bruilofsmaal ingehou terwyl die maagde met minder ywer die geleentheid misgeloop het.
Dit gaan in ons hedendaagse lewe ook nie anders nie. Daar is soveel mense, organisasies en kerke wat hulself besig hou met godsdienstigheid omdat hulle bewus is van ‘n bruidegom wat dalk een of ander tyd sy opwagting moet maak. Die vraag is egter of die nodige erns egter gemaak word om ‘n gemeente as ‘n kosbare bruid te versier vir Jesus Christus se wederkoms na die aarde? Ek wonder hoeveel lidmate en gemeentes daar is wie se vlammetjie maar effens brand in ‘n wêreld waar ‘n mens dit hot-agter kry wanneer jou geesdrif en ywer vir Hom hoog brand?
Ons moet onthou dat die vyf verstandige maagde wat die nodige erns en toewyding in hierdie saak gehad het, nie kon instaan vir die vyf onverstandige maagde wat die saak nie met die nodige erns aangepak het nie. Dit is ook ‘n kosbare les vir elkeen van ons wat betref ons persoonlike saligheid. Elke mens gaan persoonlik voor die Regterstoel van Christus verskyn en ons kan nie daar vir mekaar intree nie. Daar gaan geen dominee, pa, ma, broer of suster wees wat vir ons kan intree nie en ook geen aardse regsverteenwoordiger nie. Ons het maar een Middelaar voor God die Vader en dit is sy Seun, Jesus Christus, ons Here. Die vraag wat egter van lewensbelang is, is of Hy u by die naam ken as sy kind en of Hy ook aan u sal sê: “Gaan weg van My af, want ek ken jou nie.”?
Dit klink al te verskriklik dat die God van liefde iemand kan wegwys in só ‘n kardinale tyd, nie waar nie? Hy sal egter nie lukraak ‘n persoon met hierdie antwoord wegwys nie, maar slegs diegene wat gedurende hul lewe hier op aarde verkies het om Hom weg te wys uit hul harte en lewens uit. Dit is diegene wat nie die deur van hul harte vir Hom wil oopmaak nie wat aan die deur van die koninkryk wil gaan hamer wanneer dit te laat is, wat hierdie ontstellende antwoord van Hom te wagte kan wees.
Synde dat ons vanoggend tot die besef kom hoe ontsettend belangrik dit vir elke individu is om ‘n persoonlike verhouding met Jesus Christus te hê, is dit dalk tyd om in eerlikheid vas te stel hoe my verhouding met Hom regtig daaruit sien. Kom ons kyk ‘n bietjie hoe vol is my kannetjie met olie vandag ten einde vas te stel hoe gereed ek vir Sy koms is. Ek wil vanoggend die modelgebed, nl. die Onse Vader, gebruik as ‘n maatstaf om u geestelike prioriteite te toets ten einde die maat van u geloofsbrandstof te meet.
In die Onse Vader het Christus sy dissipels geleer om te bid, maar dit bied ook vir ons ‘n riglyne hoe ons prioriteite in die lewe behoort te lyk. Elkeen moet vir hom-/haarself die volgende vrae in sy hart met eerlikheid beantwoord en dan vasstel hoe en waar u prioriteite vanoggend regtig lê. Onthou, daar waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees. (Verw. Matt. 6:21).
- In die afgelope week, hoeveel maal het u regtig spesiaal tyd ingeruim om in opregte gebed met God te verkeer? Wanneer ek praat van opregte gebed, praat ek daarvan dat u Hom met opregtheid dank vir onverdiende guns en gawes, maar ook probleme, hartseer en bekommernis voor Hom gaan neerlê met die geloof in u hart dat Hy u kan help?
- In die geval waar u darem getrou en met geloof ywerig in gereelde gebed met God verkeer het, hoeveel keer het u gebid dat Sy Naam geheilig mag word in ‘n wêreld en onder ons volk waar Sy Naam onteer word? Het u darem meer male gebid vir die heiliging van sy Naam as wat u die belastering daarvan oor ‘n televisieprogram moes aanhoor in u huis in die afgelope week? Het dit u enigsins gepla om na programme te kyk waarin sy Naam DOELBEWUS ontheilig word?
- Hoeveel maal het u gebid vir sy koninkryk hier benede? Was daar tyd in u besige skedule om besorg te wees oor die feit datsy koninkryk in hierdie wêreld so sterk teëgestaan word soos wat tans die geval is? Besef u dat in ons eie volk en Vaderland Sy koninkryk (die Christelike lewensbeskouing) met felle aanslae afgetakel word en dat wette soos aborsie, onsedelike en buite egtelike verhoudings, homoseksualisme, humanisties gedrewe onderwysstelsels, ens. alles DOELGERIGTE aanslae op Sy koninkryk is om mense te laat afsien daarvan om Sy gebooie te bewaar en te onderhou om sodoende hulle liefde vir Hom te laat verkoel? “As julle My liefhet, bewaar my gebooie.” (Joh. 14:15). “En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.” (Matt. 24:12).
- Hoeveel maal het ek my eie selfsugtige begeertes voor Hom uitgeryg en selfs opstandig geraak wanneer ek nie my sin kry nie en hoeveel maal het ek stil geraak en met opregtheid vir Hom gevra dat sy Wil eerder as my eie moet geskied? Was ek bereid om selfs offers te bring ten einde sy Wil in my lewe te eerbiedig?
- Lewe ek met die ingesteldheid dat ek die bewerker van my eie heil en lot is of leef ek daagliks in afhanklikheid van Hom? Probeer ek dalk om só hard te werk ten einde finansieël onafhanklik te wees sodat ek nie meer nodig het om te bid en Hom hoef te vra vir dit wat ek nodig het nie?
- Bely u met opregtheid u foute en terkortkominge voor Hom met die nodige smeking vir skuldvergifnis om te vorder op die pad van heiligmaking? Indien wel, glo ek dat die dankbaarheid vir Sy barmhartigheid u ook sal oorweldig om sodoende diegene van harte te vergewe wat u in die lewe verontreg.
- Bid u om teen geestelike aanvalle beskerm te word net so hard as om veilig en behoue te bly in die vlees? Verskans u uself en u gesin met die nodige geestelike wapenrusting soos wat u u huis beveilig met allerhande sekuriteitsmaatreëls te einde veilig te bly?
- Ek hoop ten laaste ook dat daar nog die geestelike reinheid in u lewe aanwesig is om God gedurigdeur te loof en te prys in u gebede in die diepe besef dat u doel op aarde immers is om Hom te dien, te eer en te verheerlik.
Ek hoop van harte dat u hierdie vrae met eerlikheid sal beantwoord in u hart. Dit is nie nodige dat u dit teenoor enige mens, u predikant of wie ookal sal antwoord nie, want dit is ‘n saak tussen u en die Here Jesus Christus alleen. Moet Hom egter nie probeer bedrieg nie, want Hy ken die diepste gedagtes van u hart en weet wat werklik daarin aangaan.
Indien u dalk vanoggend besef dat u lampie baie naby aan dolleeg is, is die goeie nuus dat daar nog tyd en geleentheid is om die voorraad betyds aan te vul! Moenie dieselfde fout maak as wat soveel mense op aarde al gemaak het nie, want indien u die Woord ken, sal u versuim nie as ‘n fout beskou word nie, maar eerder as ‘n keuse, aangesien u van beter behoort te weet.