Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ouderdom maak jou minder materialisties en meer realisties. Dan wil jy al daardie ydele dinge wat jy as jongmens nie kon kry nie, gelukkig nie meer hê nie.
EER HOM BO ALLES!
Hannes Ollewagen
1 Samuel 2:27-36
“…want die wat My eer, sal Ek eer; maar die wat My verag, sal veragtelik wees.”
Sien u in hierdie gedeelte hoe die almagtige God wat hemel en aarde geskape het, onderneem om aan die mens eer te bewys? Ja, Hy onderneem om diegene te eer wie Hom eer, maar weë diegene wie weier om Hom te erken en te eer.
Hierdie woorde van God val soos hammerslae op humanistiese- en individualistiese afgodsteologie. God stel die boodskap met hierdie woorde weereens onomwonde – Hy eis om geëer te word bo alles in ons lewens. Wanneer ons sê dat ons Hom moet eer bo alles, beteken dit letterlik bo enigiets wat ek besit en liefhet in my lewe, selfs bo my gesin en my familie.
Dit is dalk nodig dat ons vir ‘n oomblik stilraak by hierdie boodskap uit God se Woord om te besin tot watter mate Hy in ons volkshuishoudings geëer word. Ons lees dat in Eli se huishouding sake nie na God se wil verloop het nie en daarom het God vir Eli gewaarsku dat Hy ‘n einde aan sy huis gaan maak. Eli se kinders het die eer van God skade aangerig deur hul verkeerde optrede, maar Eli het geweier om hulle te tugtig. Eli het verkies om homself blind te hou vir die foute van sy kinders, al het dit beteken dat hierdie optrede van hom God se eer sou skaad.
Wanneer ons na die volkshuishouding in die breë kyk en dit onder eerlike beoordeling bring, wonder ek of ons nie dalk beter begryp waarom daar soveel vervalle huishoudings is en gesinne wat uitmekaar geskeur word nie? Die vaders wat as priester-konings van hul huishoudings moet optree, is in menige gevalle te besig met allerhande sekulêre aangeleenthede om voldoende aandag aan hul huishoudelike sake te gee. Die feit dat my kinders oneerbiedig teenoor grootmense optree, skeel my min. Dit is jammer om te sê dat sommige ouers selfs hulle kinders sal aanspoor tot hierdie verkeerde optrede in plaas daarvan om hulle tereg te wys. Wanneer kinders by die huis kom en kla oor die onderwyser(es) wat hulle aangespreek het weens huiswerk wat nie gedoen is nie, sal die fout by die onderwyser(es) uitgesnuffel word terwyl die kind se ontrouheid om sy plig na te kom, oor die hoof gesien word.
Dit is bejammeringswaardig om te sien hoedat ouers in sommige gevalle byna oor hul voete val om hul kinders ter wille te wees. As hierdie gesindheid maar in ons harte was om God ter wille te wees, sou ons die Afrikanervolk seker binne ‘n dekade uit ons ellende kon ophef tot die oorwinnaarsvolk wat God ons geroep het om te wees, maar sy Roepstem val telkens op dowe ore. . .
Kinderopvoeding is geen maklike taak vir ‘n ouer nie en daarom is dit natuurlik ook ‘n sensitiewe saak vir die meeste ouers. Dit is natuurlik dan ook so dat ouers nie kritiek wil aanvaar wanneer dit by hul kinders se opvoeding kom nie. Hierdie is egter ‘n kwessie wat nie sondermeer gaan verdwyn deur dit dood te swyg nie. Inteendeel, sou ons daaroor swyg, sal die probleem net hoe langer, hoe groter word.
Dit het dalk tyd geword vir elke ouer in ons volkshuishouding om vandag opnuut ag te gee op die toedrag van sake in u huishouding. Wanneer u met ‘n eerlike oog na u kinders se lewens kyk, kan u sien dat hulle God eer in hulle lewens? Dit is noodsaaklik dat ouers sal onthou dat kinders nie net moet hoor van reg en verkeerd nie, maar dat die voorbeeld ook vir hulle gestel moet word deur die ouers se goeie lewenswandel. Die omgekeerde is egter ook waar dat ‘n goeie voorbeeld van die ouers alleen nie genoegsaam is nie, maar dat dit aangevul moet word deur vermaning en lering en om laasgenoemde op ‘n aanvaarbare standaard te kry, is kennis van die Woord van God onontbeerlik.
Dit is belangrik dat ouers sal onthou dat hul kinders as ‘n geskenk van God aan hulle toevertrou is en dat Hy ook in hul opvoeding geëer behoort te word. Ouers is nie veronderstel om hul kinders te eer en vir God in hul gebede voor te skryf wat Hy aan hulle behoort te doen en aan hulle behoort te gee nie. Ouers is veronderstel om God te eer en hul kinders voor te skryf wat hulle vir God behoort te doen en dat hulle hul lewens aan Hom behoort te wy as ‘n offer van dankbaarheid.
Ons is as ‘n volk vuisvoos geslaan hier in ons verlore erfenis aan die suidpunt van Afrika. Die bekende kommunis, Nelson Mandela, se eie woorde was “Education is the most powerful tool that one can use to change te world”, maar ons het hierdie blatante dreigement teen ons kinders nie gesien nie, want die geld, sport en vermaak van hierdie wêreld het ons blind gemaak vir hierdie bedreigings.
Ons is verward en bid en smeek God om genade, maar sommige dae voel dit vir ons asof ons gebede geen vrugte afwerp nie. Is dit nie dalk tyd dat ons ook ons gebede met handeling opvolg en begin optree as ‘n volk wat berou het oor die foute van die verlede nie? Wanneer sal ons begin LEEF soos ‘n volk wat homself beywer om sy foute reg te stel voor Hom?
Ons het dalk baie meer om te bied in ons ellendige toestand as wat ons besef. Is een van die eerste offers wat ons as Christenouers voor God kan bied vandag dalk die besluit om op te hou om ons kinders aan die wêreld met sy begeerlikhede te offer en hulle aan God te bied as ‘n dankoffer of sal ons soos Eli die waarskuwings hoor, maar nie ag gee daarop nie? Onthou, Eli was priester voor God, maar dit het nie gemaak dat God sy ongehoorsaamheid en ongeêrgdheid oorgesien het nie. Dit geld ook vir my en u vandag – ongeag u aansien in die samelewing, God eis van elkeen van ons die eer wat aan Hom verskuldig is.
Onthou, wanneer ons Hom eer, sal Hy ons eer!