Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wat sê ons is kinders van die Here en leef in goeie verhouding met Hom, kan ons werklik sê ons leef met volkome vertroue in Hom – of leef ons eerder met wantroue in Hom? Hierdie is 'n fyn skeidslyn maar as ons onthou dat Hy die getroue Een is, sal ons minder sukkel om onsself volkome aan Hom oor te gee.
GOD SE WEG, OF MYNE?
Hannes Ollewagen
Jona 1:1-17
'n Vorige boodskap het gehandel oor die lewe van ‘n wedergebore kind van God en of ek God waarlik ken of dalk maar net van sy bestaan bewus is. Die vraag wat hier na vore gekom het, was of ek my eie sondige mens afgesterf het om plek te maak vir die mens wat onder Christus se gesag in sy lewe staan om met Hom te wandel. Is Hy m.a.w. die Een wat die rigting van my lewe bepaal?
Ons lees in vers 2 van die gelese gedeelte hoedat God vir Jona ‘n uitdruklike opdrag met die nodige aanwysings gee waarlangs Hy hom wil stuur. Ons lees egter in die volgende vers hoe Jona doelbewus kies om sy eie koers in te slaan, en nié die pad wat God vir Hom aangewys het nie. Dit is vir ons as gelowiges (wat bekend is met die hele vertelling van Jona) baie maklik om in retrospek te reken dat Jona baie dwaas opgetree het. Ons kan Jona selfs veroordeel as ‘n selfsugtige persoon weens die feit dat hy soveel ander mense se lewens met sy roekelose optrede in gevaar gestel het.
Ons leer egter ‘n waardevolle les deur die prediking van Jesus Christus, nl. om eers die balk uit ons eie oog te haal alvorens ons die splinter in ‘n ander s'n probeer raaksien. Dit sou natuurlik nou 'n gulde geleentheid wees om selfondersoek in te stel om te verseker dat ek nie dieselfde foute as Jona maak nie. Is ek hier op aarde opweg met Christus of het ek ook besluit om my eie koers in te slaan? Ek maak dalk ook doelbewuste keuses wat reg teen God se Woord en wil vir my is, en begeef my hierdeur op ‘n weg wat, nie net vir myself nie, maar ook vir soveel ander mense rondom my, geweldige storms veroorsaak.
Wanneer hierdie storms van die lewe skielik rondom ‘n mens begin woed, is dit menslik om na redding te begin soek. Dit is ook so dat ons meestal in ons menslikheid eers sal probeer om ons eie oplossings te vind, alvorens ons erken dat ons God nodig het. Ons besef dan weer opnuut hoe afhanklik ons van Hom is. Dit is egter ‘n probleem wanneer ek my oë opslaan in hierdie storms van my lewe en Jesus nie kan raaksien nie, want ek besef dat ek nie soos Petrus deur Hom gelei is op hierdie weg (met storms rondom my) nie, maar eerder weens my eie ongehoorsaamheid nou eensaam en verlate daarop beland het. Ek wil graag soos Petrus uitroep: “Here, red my!”, maar weet nie of dit sal help nie, want ek weet dat ek doelbewus gekies het om hierdie weg te bewandel terwyl Hy my uitdruklik daarteen gewaarsku het. Dit voel dan asof God my verlaat het terwyl ek die een is wat die afdraaipad gekies het.
Jona kon natuurlik gekies het om eerder te swyg oor die rede vir hierdie storm wat hom en die bemanning van die skip se lewens in gevaar gestel het, omdat hy bang was daarvoor dat die hele bemanning hom sou beskuldig en verwyt vir die oorsaak hiervan. Hy besef egter dat hy die oorsaak van hierdie storm is en besluit om verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar. En die belydenis van sy verkeerde optrede het nie sy dood veroorsaak nie, dit het juis sy lewe asook die lewens van die bemanning aan boord van die skip en later selfs die duisende lewens van die inwoners van Ninevé gered. Dit is weereens vir ons ‘n klinkklare bewys dat God nie die mens sonder rede straf nie, en dit ook nie doen om vrees in te boesem nie, maar juis omdat Hy ons liefhet en wil hê dat ons die weg van die lewe moet kies. Eségiël 18:30-32: " Daarom sal Ek julle oordeel, o huis van Israel, elkeen volgens sy weë, spreek die Here HERE. Bekeer julle en wend julle af van al julle oortredinge, sodat dit nie ’n struikelblok tot ongeregtigheid vir julle mag wees nie. Werp al julle oortredinge waardeur julle oortree het, van julle af weg en maak vir julle ’n nuwe hart en ’n nuwe gees; want waarom wil julle sterwe, o huis van Israel? Want Ek het geen behae in die dood van hom wat sterwe nie, spreek die Here HERE. Bekeer julle dan en lewe.”
Ons almal is maar mens en maak soms die verkeerde keuses. Ons besef dikwels nie hoe verkeerd ons keuses is nie, totdat die gevolge daarvan voor ons oë begin afspeel. Ons moet egter nie dwaas wees en probeer om ons verkeerde keuses vir God weg te steek nie, want dit sal veroorsaak dat ons skaam en vervreemd van God sal raak. Dit is van kardinale belang dat ons elke keer wanneer ons verkeerde keuses maak, so gou as moontlik die saak met Hom sal uitmaak. Jesaja 1:18-20: "Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die HERE: al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper, dit sal word soos wol. As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet. Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaard geëet word; want die mond van die HERE het dit gespreek.” Ons weiering om hieraan gehoor te gee sal noodwendig die dood en dalk ook die dood van ander (wat hierdeur geraak word) veroorsaak. Dit maak nie saak hoe katastrofies die gevolge van ons keuses vir ons lyk nie; ons moet onthou dat God in alle omstandighede uitredding kan bring, maar Hy eis egter belydenis en berou alvorens Hy ons te hulp kom.
Dit is belangrik vir ‘n kind van God om die besluit te neem om Hom nie te versoek deur aanhoudend dieselfde verkeerde keuses te maak wat reeds getoon het om storms in my en ander se lewens te veroorsaak nie. Wanneer ‘n mens aanhoudend dieselfde verkeerde keuses maak, noem ‘n mens dit nie meer keuses nie, maar eerder ‘n lewenstyl.
Dit is dalk tyd dat ek en u vanoggend ook wakker word uit die slaap, soos wat Jona wakker geruk moes word uit die slaap terwyl die storms rondom hom gewoed het. Dit is dalk tyd om ons lewens, ons keuses en die weg waarlangs ons in die lewe wandel, voor God oop te stel met die versoek dat Hy die keuses wat ek maak wat stormagtige gevolge het, aan my uit te wys en my opnuut langs die ewige weg te lei!