GETROUE ARBEIDER?

Hannes Ollewagen

Matt. 20:1-15

“Maar hy antwoord en sê vir een van hulle:  Vriend, ek doen jou geen onreg aan nie.  Het jy nie met my ooreengekom vir ‘n penning nie?” (:13).

Is ons as mense nie maar geneig om gedurig met God te stoei oor hoe onregverdig ons dan behandel word nie?  In my eie oë is ek so regverdig en eerlik en hardwerkend en ek het dan soveel probleme en ergernis in my lewe teenoor die man wat ‘n losbanidige lewe sonder enige probleme leef.  Dalk vergeet ons wat onsself ware gelowige in Christus Jesus noem dat ons ook eenmaal by ‘n keerpunt in ons lewens gekom het toeons voor Hom ‘n keuse gemaak en Hy met ons ‘n ooreenkoms aangegaan het.  Daardie dag wat ek besluit het om Hom as my Verlosser en Saligmaker te aanvaar en die lewenspad agter Hom aan te stap – deur plate kosmosse, maar ook deur die paaie wat besaai is met dorings.   Hy het nooit beloof dat ons as sy kinders en volgelinge ‘n lewe sonder teëspoed hier op aarde sal hê nie, maar wel dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie.  Inteendeel, wanneer Hy ‘n belofte aan ons maak dat wanneer ons deur vuur gaan dit ons nie sal skroei nie en wanneer ons deur diep waters gaan, dit ons nie sal oorstroom nie, is dit mos duidelik dat daar moeilike tye ook op ons lewenspad vir ons wag.  Ons kan egter gerus wees dat Hy nie, soos menige vriende, ons in hierdie tye van teëspoed sal versaak nie.

Ek wonder of ons jongmense weet dat die Afrikanervolk ook op ‘n tyd in ons geskiedenis as volk ‘n keuse gemaak het om vir God te volg?  Ek wonder of ons ouer mense darem ook onthou en hulle kinders leer van hierdie keuse wat op 16 Desember 1838 deur ons voorouers gemaak is en dat ons voorsate daar beloof het dat ons vir God ‘n volk sal wees?  Hy het ons volk hier geplant aan die suidpunt van Afrika tot eer van sy Naam, maar wanneer ons vandag realisties na hierdie wingerd (volk) kyk wat staan, wonder ek hoe ons daaraan toe is?  Ek wonder of Hy met reg kan trots wees op hierdie wingerd en of dit die vrug oplewer wat Hy verwag het dat dit sou?

Ek is redelik oortuig daarvan dat die meeste mense met my eens sal wees dat ons nie tans die vrug lewer wat verwag word van hierdie wingerd nie, maar in dieselfde asem moet ons vra waar die arbeiders van hierdie wingerd is?  Is daar enige wingerd wat nie dorings, vuilgoed en distels laat opskiet wat die vrug verdryf as daar nie getroue arbeiders is om na die wingerd om te sien en daarin te werk nie?  Elkeen van ons as arbeiders is veronderstel om besig te wees in ons volksakker om te arbei vir ons Huisheer wat eendag sal kom om rekenskap te eis.

Ek kan kies om alewig te staan en toekyk hoe ander arbeiders dalk meer bevoordeel word as ekself terwyl ek moet swoeg en sweet aan my arbeid.  Ons kan voel asof sommige van ons al ‘n leeftyd lank arbei aan ‘n wingerd en nuwelinge dan kom en dieselfde of beter loon as onsself ontvang wat hulle nie verdien nie en dus die Heer se oordeel in twyfel trek.  Ons kan seker ook kies om in die koelte te sit en die spot te dryf met die pogings van mense wat besig is om met bloedsweet te arbei in hierdie wingerd na die beste van hulle menslike vermoë en hulle daardeur ontmoedig om voort te arbei.  Laasgenoemde is myns insiens ook die rede is waarom soveel volksgenote passief in ons volksakker is, want sou hulle iets waardevol probeer doen, sal die kritici nie skroom om hul werk te vernietig nie.  Daar is weliswaar in die Afrikaner se stryd ook bittereinders wat aanhou om te spit, te ploeg en te arbei in hierdie wingerd, maar wat dit soms vir getroue arbeiders moeilik maak is dat dit voel asof daar soveel elemente en mense is wat vinniger afbreek, omgooi en vernietig as wat hulle kan bou  -  dan wonder  mens of hierdie wingerd ooit weer sal vrug oplewer, of dit dan die moeite werd is om verder te arbei in hierdie wingerd.

Dit is dalk tyd dat elkeen van ons ook selfondersoek instel om vas te stel of ons oog darem reg is en of ek met die verkeerde oë na my Heer kyk? Dit het dalk tyd geword dat ons met ander oë na die wingerd en wêreld rondom ons begin kyk.  Wanneer ek na ander kyk moet dit wees om te sien waar ek kan help en hand bysit.  Wanneer ek na myself kyk, moet dit wees om te kyk waar ek aan myself kan verbeter.  Wanneer ek na my Heer kyk, moet dit wees om te sien wat sy wil en leiding is.  Dit is tyd om te besin of ons werklik reën oor hierdie wingerd kan verwag wanneer ons nie bereid is om aktief te gaan werk hierin nie.  Sal ons die liewe Heer kan vra vir reën sonder dat ons spit, skoffel en plant, want waarvoor wil ons reën hê as daar niks geplant is wat reën nodig het om te groei nie?

Ons moet onthou dat hierdie vernielde wingerd van ons baie werk het wat wag en dat ons nie diegene moet verhinder wat wil saamwerk nie.  Elkeen wat egter daarin wil saamwerk moet onthou dat ons vir net een Meester  werk – Hy wat ons geroep het van die eindes van die aarde af om sy diensknegte te wees.  Elke getroue arbeider sal moet weet dat ons met ander oë na die lewe moet kyk as ander mense.  Elkeen moet dus weet dat hy/sy voor een Meester gaan staan vir rekenskap en loon aan die einde van sy/haar dienstydperk in hierdie wingerd.  Diegene wat werksaam was in hierdie wingerd vir eie gewin, sal moet rekenskap gee oor dit wat gebuit en geroof is, maar diegene wat getrou gearbei het, kan verseker wees van ‘n regverdige loon van ‘n Regverdige Huisheer!