LAAT ONS SKYN VIR JESUS (3)

... DEUR GOD IN ONS TE LAAT WERK

PINKSTER 2013

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Pinksterreeks 2013

“...want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.” Filippense 2:13

Om vir Jesus te skyn, is ’n moeilike taak.  Baie mense gee sommer voor die tyd boedel oor want hulle sê dat hulle nie die krag daarvoor het nie.   Nee, dis geestelik papbroekig!   Om vir Jesus te skyn, rym nie met moedeloosheid nie.   Vers 13 van ons gelese gedeelte sê iets baie belangrik en gee ons hoop.   ¨...want dit is God wat in julle werk….” .  Ons kan net met die krag van God vir Jesus skyn.  Let wel: God se krag en nie ons eie nie!  “…Hy wat ’n goeie werk in julle begin het, sal dit voleindig tot op die dag van Jesus Christus” (Fil.1:6).   “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee” (Fil.4:13). Wat ’n troos en bemoediging: God gee ons die nodige krag om vir Jesus te skyn!

Ongelukkig is min gelowiges van hierdie krag bewus en probeer in eie krag vir Jesus te skyn.   Dit loop gereeld op ’n mislukking uit en dan gooi hulle tou op.  Paulus skryf aan die Efesiërs dat God uitsonderlike krag aan gelowiges gee (2:19).   Dink maar net aan Josua wat gebid het dat die son by Gibeon moes stilstaan ten einde korte mette met die vyand te maak.   En dit het!

Gebed beweeg die hand wat die heelal beheer.   Dieselfde krag stel ons in staat om vir Jesus te skyn!  “...want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (teks).   Let veral op die woorde: “na sy welbehae”. God wil dat ons vir Jesus skyn en help ons daarmee.  Ons doen dit nie op ons eie en in eie krag nie.

God se krag het geen gelyke nie.   “...wat Hy gewerk het in Christus toe Hy Hom uit die dode opgewek het en Hom laat sit het aan sy regterhand in die hemele” (Efes.1:20).  Die krag waarmee God vir Jesus uit die dood laat opstaan en ten hemel laat vaar het, is tot ons beskikking om vir Jesus te skyn.  As God vir Jesus uit die dood laat opstaan en ten hemel laat vaar het, kan Hy ook vir Jesus deur ons laat skyn.   Dis een en dieselfde krag!

Paulus skryf in sy treffende gebed aan die Efesiërs: “En aan Hom wat mag het om te doen vêr bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk….” (Efes.3:20).   Ons dink te klein aan die krag van God.   Daar is baie meer krag beskikbaar as wat ons ooit kan bedink!

Die bron van hierdie krag is God self wat deur die Heilige Gees in ons woon en wonderlike dinge doen.  Luister na Jesus: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei” (Joh.7:38).   Heilsame water in die woestyn het dieselfde effek as lig in duisternis.

Dit wat God is en dit wat Hy doen, getuig daarvan dat Hy die bron van die krag is wat ons nodig het om vir Jesus te skyn: “dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (Efes.3:16).

Die doel van God se krag is om ons in ’n krom en verdraaide geslag die nodige krag te gee om vir Jesus te skyn.   Dis wonderlik om in swakheid krag te ervaar!  God gee ons die krag om selfondersoek in te stel.  Hy laat jou na jouself kyk soos wat Hy na jou kyk.   ’n Mens bedrieg soms jouself en dink dat daar niks met jou geestelike lewe skort nie, terwyl daar baie dinge verkeerd is.  Dit het met die gemeente van Laodicea gebeur: “Want jy sê: Ek is ryk en het verryk geword en het aan niks gebrek nie; en jy weet nie dat dit jy is wat ellendig en beklaenswaardig en arm en blind en naak is nie” (Openb.3:17).

Tweedens help God se krag ons om die werke van die vlees dood te maak.   En dis ’n lewenslange stryd.   Let op Fil.2:13: “...want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae”. God gee nie alleen die krag nie, maar ook die wil om die werke van die vlees dood te maak.   Hy wil hê dat ons Hom vir hierdie krag vra.  Dit is tot ons beskikking, ons moet net vra.

Paulus skryf aan die Efesiërs: “...dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens” (3:16).   Ons mag God persoonlik daarvoor vra.    As ons voel dat ons te swak is om die trekkragte van die vlees te weerstaan, moet ons God vir krag bid.  Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei het, kon hy dit slegs met die krag van God weerstaan en nie met mensekrag nie.   “...maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag…” (Jes.40:31).  Dis spesiale krag wat ons van God kan afbid.

Die krag van God is tweedens ook vir ons deur sy Woord beskikbaar.  Dink aan Paulus se skrywe in Efes.6:  “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here….Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel….Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil….”

Hierdie wapenrusting het drie onmiskenbare elemente: die waarheid: “Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord…”  (:14). Die Evangelie: “en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede” (:15).  En derdens geloof: “Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op…” (:16).

In hoofsaak – om vir Jesus te skyn, moet ons aan die Bybel getrou bly.  Geen dwaalleraar kan vir Jesus skyn nie.  Al lyk dit vir oningeligtes so, is dit ’n misleidende front wat Satan tot in sy kleintoontjies laat lekker kry!  God soek in elkeen van ons ’n rein kanaal om vir Jesus te skyn.   Skyn jy of kwyn jy?

By geleentheid het ’n predikant met ’n myner oor verlossing in Jesus gepraat.  Die man kon nie glo dat ’n sondaar hom net tot Jesus kan draai en sy sondes is vergewe nie.  “Dis te goedkoop!” het hy teengestribbel.   Daarop het die dominee hom gevra hoe hy elke dag uit die myn kom?   “Met die hysbak” het hy geantwoord. “Hoeveel betaal jy om daarmee na bo te kom?” vra die dominee. “Niks nie” antwoord die myner.  “Is jy nie bang om met die hysbak op te kom aangesien dit te goedkoop is nie? “ het die dominee gevra.  “Nee,” antwoord die man, “dit was goedkoop vir my, maar nie vir die maatskappy wat miljoene betaal het om daardie skag te sink nie!” Toe sien die myner die lig – die geweldige prys wat God deur sy Seun vir ons redding betaal het om ons uit die duisternis op te lig en na bo, na die ewige lig te bring .  Dit kos ons niks nie. Nog minder om vir Jesus te skyn!