Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
DIE KINDERDOOP IS REG!
Ds Andrè van den Berg
So anders as die Roomse Kerk wat sewe sakramente het, het Protestantse kerke net twee - die doop en die nagmaal. Sakramente is volgens die Heidelbergse Kategismus (HK) “ heilige, sigbare, waartekens en seëls deur God ingestel is om ons deur die gebruik daarvan die belofte van die Evangelie des te beter te laat verstaan”
Let op die woorde: heilige, sigbare, waartekens en seëls. Heilig beteken afsonder of opsy sit. Daarmee sê die HK dat sakramente nie wêreldse instellings is nie, maar goddelike instellings. Die woord sigbaar sê dat dit fisies waarneembaar is. Waartekens en seëls sê dat dit middels is wat iets krag gee en in werking plaas. Dis soos ‘n brief. Sonder ‘n posseël daarop, sal dit nooit sy bestemming bereik nie. Laasgenoemde bring dit in beweging.
Waarom het Protestantse kerke net twee sakramente? Omdat die Ou Testament (OT) net twee geken het - die besnydenis en die pasga. Dit was nie eenmalige gebeurtenisse nie, maar is op bevel van God ingestel om herhaal te word. Die pasga sowel as die besnydenis het die OT gelowiges aan God se wonderlike ingryping in hul geskiedenis herinner.
Die besnydenis, so lees ons in Gen.17, was die sigbare teken of seël van die kontrak wat God met Abraham 2000vC aangegaan het. Hierdie kontrak is die verbond genoem. Net soos ‘n kontrak twee kante het, het hierdie goddelike kontrak ook twee kante. God het beloof om Hom op ‘n besondere wyse by Abraham en sy nageslag (die volk Israel) te skaar. Van hulle kant moes Israel die Here God as die enigste God erken en vereer deur aan Hom gehoorsaam te wees.
Elke kontrak het ‘n seël; ‘n uiterlike, sigbare teken (waarmerk) om dit te bekragtig. God se kontrak met gelowiges het ook ‘n merk. In die OT was dit die besnydenis. Seuntjies van 8 dae oud is besny as sigbare teken dat hulle deel van die volk van God was.
Wat het so ‘n seuntjie van daardie kontrak geweet of verstaan? Absoluut niks nie! Is dit nie raadsaam om eerder iets van ‘n kontrak te weet alvorens jy jou daaraan bind nie? Ja, in die algemene gang van sake. Met geloofsake werk dit anders. Die kind gaan nie die kontrak met God aan nie. Sy ouers doen dit namens hom. Hulle beloof God om namate hy groter word, toe te sien dat hy die Here leer ken, liefkry en dien.
Ten einde die kinderdoop te verstaan, moet ons weet dat die besnydenis nie ‘n geloofsteken as sulks was nie, maar ‘n verbondsteken. Die besnydenis was slegs die seël op die kontrak. Gelowige ouers het hul seuntjies na priesters gebring wat die besnydenis verrig het nadat die ouers die belofte gemaak het.
Wat dan van dogtertjies? Was hulle dan buite die verbond? Nee, al was die vrou destyds nie op die voorgrond nie, was sy nie van God se genade uitgesluit nie. Omdat sy en haar man in God se oë een vlees was, het sy en haar dogters saam met haar man en seuns in die verbond gedeel. Hulle is gelykertyd ingereken. Die besnydenis kon dus nie ‘n geloofsteken wees nie, anders was die vroulike geslag per implikasie verlore!
Volwasse mans is ook van tyd tot tyd besny. Gen.17 vertel van Abraham wat homself na die verbond sluiting besny het. Daarna was die volwasse besnydenis ‘n uitsondering. Volwasse mans is slegs besny indien hulle uit die heidendom gekom en hul tot God bekeer het. Dit was die uiterlike teken dat hulle in die kerk van destyds opgeneem is.
Die wonder van die verbond is dat God kinders nie daarvan uitsluit nie, maar reg van die begin af insluit. Petrus sê op Pinksterdag vir die Jode: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word….want hierdie belofte kom julle toe en julle kinders…”(Hand.2:38).
In die Nuwe Testament (NT) is beide OT sakramente van nuwe tekens voorsien. Mense wat Christus as Verlosser aanvaar het, het hulle laat doop en die nagmaal in die plek van die pasga gebruik. Die ou verbond was afgesluit en deur ‘n nuwe vervang.
Christus noem hierdie nuwe verbondsbedeling ‘n nuwe testament. God het in Jesus ‘n nuwe begin met Israel gemaak. “Want dit is My bloed, die bloed van die nuwe testament, wat vir baie uitgestort word tot vergifnis van sondes” (Mt.26:28) Die NAV lui: ”want dit is my bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word”
Christene het geweet dat hierdie nuwe verbond wat Christus deur sy versoeningsdood met hulle aangegaan het, soos in die ou verbond, ook die kind ingesluit het. Ouers het seuntjies nie meer laat besny nie, maar laat doop nadat hulle belowe het om hulle kinders (ook dogtertjies) in die nuwe verbond op te voed.
Daarom is verskeie huisgesinne in die tyd van die NT gedoop. Van Lidia, die purperverkoopster, word gesê: ”En toe sy en haar huisgesin gedoop is….” (Hand.16:15). Van die tronkbewaarder van Filippi word gesê: “en hy is onmiddellik gedoop, hy en al sy mense” (Hand.16:33). Paulus het selfs ‘n hele huisgesin gedoop: “Ek het ook nog die huisgesin van Stefanas gedoop” (1 Kor.1:16).
Die klem val op die woord huisgesin. Dit sal darem oorreding kos om mense te oortuig dat ‘n huisgesin net uit volwassenes bestaan! Daar moet in gedagte gehou word dat huisgesinne destyds baie groter as dié van vandag was. ‘n Gemiddelde Joodse gesin het destyds uit ongeveer agt kinders bestaan.
Indien die doop slegs vir volwassenes bedoel was, sou die Bybel duidelik teen die kinderdoop gewaarsku het en sou die besnydenis in die nuwe verbond voortgeduur het. Die Bybel waarsku egter nêrens teen die kinderdoop nie, maar bevestig dit eerder as die nuwe teken van die nuwe verbond.
Die eerste Christen gemeentes het ook nie meer die pasga gevier nie omdat Christus die nagmaal in die plek daarvan ingestel het. Alhoewel beide die OT sakramente in die nuwe bedeling nuwe tekens verkry het, het die kern van die saak nie verander nie, maar slegs die tekens.
Die pasga het OT gelowiges aan die verlossing uit die Egiptiese slawerny herinner. Dit was ‘n wonder beskikking van God. Hulle kon hulself nie verlos nie. Hierdie bevryding was egter ‘n voorafskaduwing van wat 1500 jaar later gebeur het toe God weereens in Israel se lotgevalle ingegryp en hulle deur die bloed van Christus uit die slawerny van die Satan bevry het.
Soos wat Israel hulself nie van die Egiptiese slawerny kon bevry nie, kon hulle hulself ook nie van die Satans heerskappy bevry nie en weereens ‘n hemelse Verlosser benodig. Daarom het God ingegryp en sy Seun aan ‘n kruis laat sterf sodat almal wat Hom as Verlosser aangeneem het, van die Satan se slawerny bevry kon word.
Oud-Israel het ‘n fisiese bevryding gesmaak en die nuwe Israel ‘n geestelike bevryding. Oud-Israel se bevryding uit Egipte het deur die bloed van ‘n lam gekom. Die nuwe Israel s’n deur die bloed van die Lam van God.
Waar en wanneer daar begin doop is, weet ons nie. Dit was in Jesus se kinderdae nie algemeen bekend nie. Die verandering het heelwaar-skynlik met Johannes die Doper se optrede begin en het elkeen wat hom of haar bekeer het, hulle laat doop, selfs hele huisgesinne – vader, moeder en kinders.
Charismate verkondig dat slegs volwassenes wat tot bekering gekom het, gedoop mag word. Die dopeling moet glo eers verstaan waaroor die doop gaan, alvorens hy dit mag ontvang. Derhalwe sluit dit kinders uit.
Is die doop dan nie ‘n verbondsteken nie? Wat het ‘n agt dae oue kindjie in die tyd van die OT van die verbond geweet? Die probleem is dat charismate van die doop ‘n geloofsteken maak wat dit nooit veronderstel was om te wees nie. Dis ‘n verbondsteken, niks minder en niks meer nie!
Daar is net een geloofsteken - die kragdadige bekering van ‘n sondaar tot Christus. In Hand 16 val die tronkbewaarder van Filippi bewend voor Paulus en Silas neer en vra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Daarop antwoord hulle hom: “Glo in die Here Jesus Christus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin”. Dit geld vir groot en klein.
Die doop is by uitstek ‘n verbondsteken. Dit gaan oor gehoorsaamheid. Gehoorsaamheid is die as waarom die verbond draai. Wie van die doop ‘n geloofsteken maak, dwaal. Want dan moet die doop jou kan red, iets wat die doop nie kan doen nie!
Die Bybel moet reg gelees word. Charismate is geneig om teksverse lukraak te gebruik ( Bible punching). ‘n Teks moet altyd binne sy verband gelees word. Neem Mark 16:16 as voorbeeld: “Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word: maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word”
Charismate gebruik dit as ‘n bewys dat die bekering die doop vooraf moet gaan. “Maar dit staan dan in die Bybel!” argumenteer hulle. Ja, dit staan daar, maar hoe verstaan jy dit? Vir wie is die Evangelie van Markus oorspronklik geskryf en met watter doel? Dis aan Romeine (heidene) geskryf sodat hulle tot bekering moet kom.
Talle het tot bekering gekom waarvan Cornelius die bekendste is (Hand.10). Heidene wat tot bekering gekom het, is gedoop. Dit was die sigbare teken van hulle opname in Christen geledere. Gereformeerdes doen vandag nog presies dieselfde. As ‘n volwassene om een of ander rede nooit gedoop is nie en in die gemeente opgeneem wil word, word hy na belydenis van sy geloof in Christus gedoop ongeag sy ouderdom.
Christus se laaste opdrag lui: ”Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die naam van die Vader, en die Seun en die Heilige Gees…..” (Mt.28:19). Charismate dwaal as hulle hieruit aflei dat die doop in alle gevalle na die bekering moet geskied.
Moet nooit ‘n teks buite sy verband probeer lees nie. Kyk wat met Mark.16:16 gebeur as dit buite sy verband gelees word. Daar kan tot die gevolgtrekking gekom word dat redding uit twee dele bestaan – geloof en die grootdoop. Dis allermins wat hierdie teks bedoel.
Let op wie in Mark.16:16 veroordeel word: “maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” Wie nie glo nie. Waarom word die doop uit hierdie tweede gedeelte weggelaat? Omdat dit niemand kan red nie.
Wie die bekering plus die grootdoop as die resep vir redding verkondig, dwaal. So ‘n persoon sê in werklikheid vir Jesus: “U soenverdienste is nie genoegsaam om my in die hemel te bring nie, daar moet nog iets (die doop) bykom!” Dit word die sektariese plus genoem. Nee, slegs die bekering tot Christus Jesus red ‘n mens van die ewige verdoemenis!
Is die geloof in Christus genoegsaam om ‘n gelowige in die hemel te kry of moet hy hom as voorsorgmaatreël tog maar laat grootdoop? Let op Golgota. Langs Jesus het ‘n misdadiger gehang wat hom bekeer het. “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom” Jesus antwoord hom: “Voorwaar Ek sê vir jou: vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Luk.23:42,43).
Was hierdie man gedoop? Vir seker nie! Hoor ons Jesus miskien sê: “Een ding kom jou nog kort, laat jou doop en jy sal gered word”? Nee, Jesus sê vir hom: ”Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” Hy is sonder die doop gered want die doop kan geen sondaar red nie. Dis nie ‘n geloofsteken nie, maar ‘n verbondsteken.
Die verbond en besnydenis wys onteenseglik op die kinderdoop. Dis heilig en slegs vir gelowige verbondsouers van waarde. Argumente teen die kinderdoop kan dus vanuit die goddelike instelling van die besnydenis weerlê word. Charismate is nie konsekwent is nie. Enersyds aanvaar hulle dat die nagmaal in die plek van die pasga gekom het, maar andersyds nie dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het nie. Let op Kol.2:11,12:
”in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop….”
Paulus wys die gelowiges in Kolosse daarop dat beide die OT sowel as die NT die aflegging van die sondige lewe en bekering bepleit. So ook op die besnydenis en die nuwe vorm daarvan; die doop. Hy noem dit in een asem omdat die een die ander vervang het.
Charismate hou hulle blind hiervoor. Volgens hulle is die OT besnydenis met ‘n besnydenis van die hart in die NT vervang; ‘n onsigbare teken. Dit kan nie wees nie! Sakramente is juis sigbare tekens. ‘n Onsibare sakrament is net so onsinnig soos ‘n onsigbare seël op ‘n brief!
Wat maak charismate met kinders in hul midde? Hoe word hulle in die boesem van die gemeente opgeneem? Charismate het ‘n ritueel - die inseën van kinders. Hulle beroep hul op Matt.19 waar ‘n paar moeders by geleentheid hul kinders na Jesus gebring het om hulle te seën.
Dis on-Bybels om sakramentele waarde hieraan te heg omdat dit nooit
Bedoel was om herhaal te word nie. Indien dit sakramentele waarde moes hê, sou dit alreeds in die vroeë kerk die gebruik gewees het. Daarbenewens sou die Heilige Gees ook die Bybelskrywers begeester het om daaroor te skryf. Die inseën van kinders dui al te duidelik op die noodsaaklikheid van die kinderdoop; ‘n leemte wat met die kinderdoop gevul moet word!
Moet daar met onderdompeling of deur besprinkeling gedoop word?
Charismate verklaar dat slegs onderdompeling geldig is. In die Afrikaanse Bybel kom die woord onderdompel glad nie voor nie. Die Bybel sê nie k watter doopmetode gebruik moet word nie, solank dit in die Naam van die Drie-enige God bedien word. Daar was destyds heelwaarskynlik verskeie aanvaarbare metodes.
Die NT is oorspronklik in Grieks geskryf. Derhalwe het die Heilige Gees die Bybelskrywers in daardie taal geïnspireer. Charismatiese sê dat die Griekse woord baptizo net onderdompel beteken. Dis ‘n leuen. Hierdie woord beteken was, afspoel of met water reinig. Markus skryf oor die gebruike van sy tyd. “En wanneer hulle van die mark kom, eet hulle nie as hulle nie gewas het nie…” (Mark.7:4). Die woord wat hier vir was gebruik word, is baptizo.
Hierdie mense het hulle beslis nie gaan onderdompel nie, maar slegs hul hande en voete gewas.
In Luk 11 verwonder ‘n Fariseër hom oor Christus wat Hom nie voor die maaltyd gewas het nie. Weereens die woord baptizo. Dit was beslis ie die gebruik om voor ‘n ete ‘n onderdompeling te ondergaan nie!
Die Griekse taal het wel ‘n woord vir onderdompel – kataduo (submerge) in Engels). Hierdie woord kom nêrens in die NT voor nie. Indien die doop destyds deur onderdompeling plaasgevind het, sou die Bybelskrywers kataduo en nie baptizo gebruik het nie.
Indien kataduo gebruik is, sou ons presies geweet het hoeveel water by ‘n doop gebruik moes word. Omdat die doop nie by wyse van kataduo geskied het nie, kan ons met sekerheid sê dat die kerk nie by wyse van onderdompeling gedoop het nie.
Die Didache, ‘n baie ou geskrif uit tweede helfte van die eerste eeu en Die Leer van die Here deur die Twaalf Apostels aan die Heidene genoem, gee ‘n aanduiding van die vroegste doopbedieningsmetode. Johannes die Doper het deur middel van begieting gedoop. Die dopeling het kniediep in water gestaan waarna die doper met ‘n bakkie driemaal water op die dopeling se kop uitgegiet het.
Uit soortgelyke ou geskrifte is dit duidelik dat die apostels ook deur middel van besprinkeling gedoop het. In die Bybel word besprinkeling met die simboliese afwassing van sonde verbind. “So moet hy dit dan reinig en heilig van die onreinheid van die kinders van Israel” (Lev.16:19). Lev.16 handel oor die Groot Versoendag wat eenmaal per jaar in Israel plaasgevind het. ‘n Bok is geslag waarna die bloed ter versoening van die volk se sondes op die verbondsark as ‘n reinigingsritueel gesprinkel is.
In Eseg.36 word die uitstorting van die Heilige Gees ook met besprinkeling en reiniging in verband gebring “Dan sal Ek skoon water op julle giet…” (:25). In Engels lui dit: “Then will I sprinkle clean water upon you…”
In die katakombes in Rome is primitiewe muurskilderye te sien wat uit die tweede eeu dateer. Dit toon dopelinge wat kniediep in water staan terwyl die doopsbedienaar ‘n bakkie met water oor hul hoof uitgiet. Die geskrifte van die vroeë kerkvaders bevestig dat babas op so vroeg as agt dae gedoop is. Dit sou beslis nie deur onderdompeling geskied het nie!
Die Bybel is nie voorskriftelik oor die metode van doopbediening nie. Gelowiges hoef nie hoofbrekens daaroor te hê nie. Of daar met drie druppels uit ‘n doopvont en of daar in die see gedoop word, bepaal nie die saligheid nie. Dis nie die doop wat ‘n mens red nie, maar die geloof in Jesus Christus.