Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons mag ook op God staat maak dat Hy ons liggame beskerm - Dawid sê God is vir hom alles, sy Erfenis, Onderhouer van sy hele toekoms, en hy weet dat God sy siel nooit aan die doderyk sal oorgee nie, daarom skuil hy by Hom, en, sê Dawid, "...ook sal my vlees in veiligheid woon."
KORRUPSIE
Ds Andrè van den Berg
" ’n Land wat deur eerbare leiers tot stand gebring is, kan egter nie deur korrupte politici in stand gehou word nie. Salomo sê in Spr.29:4 dat korrupsie ʼn land se ontwikkelingsmoontlikhede skaad. En dis waar. Kyk maar net na Suid-Afrika waar alles besig is om onder die gewig van korrupsie in duie te stort! "
Onlangse misdaad statistieke toon dat Suid-Afrika een van die gewelddadigste lande ter wêreld is. Tot ʼn klompie jare gelede was dit een van die veiligste en seker een van die beleggingvriendelikste lande in die wêreld. Wat het hierdie geweldige ommekeer veroorsaak? Dwase politieke besluite en korrupsie.
ʼn Land verval na gelang van die korrupsie wat daarin voorkom. Korrupsie is een van die grootste vernietigende magte ter wêreld omdat alles wat daardeur aangeraak word, verval. Oral waar korrupsie by ʼn land se voordeur instap, loop voorspoed by die agterdeur uit. Afrika lewer sprekende voorbeelde hiervan waar korrupsie nie net endemies is nie, maar ook as standaard praktyk epidemiese afmetinge aanneem.
Naas moord is korrupsie die tweede hoogste misdaad in Afrika. Korrupsie en onafhanklikheid is ʼn resep vir die dood. Die Afrika Unie het onlangs bereken dat Afrika-leiers jaarliks meer as $148 miljoen steel en meer as 25% van hierdie vasteland se bruto binnelandse inkomste jaarliks weens korrupsie verlore gaan.
Global Financial Integrity het bereken dat Afrika minstens $900 miljard sedert 1970 verloor het. Dis meer as die totale ontwikkelingshulp wat Afrika gedurende hierdie tyd van die buiteland ontvang het! Die Wêreldbank het in 2012 berig dat 40% van Afrika se privaatrykdom in die buiteland bewaar word.
Meer as die helfte van Afrika se mense leef van minder as $2 per dag. Dis benewens onverantwoordelike mense-aanwas ook aan korrupsie toe te skryf. Buitelandse hulp alleen kan nie Afrika se armoede uit die weg ruim nie. Korrupsie moet ook opgeruim word. Afrika ontvang al meer as 50 jaar lank oorvloedige buitelandse hulp sonder enige armoedeverligting. Dit het in effek net die diktators en hul politieke kaders ryk gemaak.
In Afrika word die reg dikwels verkrag sodat staatshoofde en ander korrupte hoëlui aanklagtes van korrupsie teen hulle kan omseil. Salomo waarsku: “Die goddelose neem ʼn omkoopgeskenk aan wat uit die boesem kom om die paaie van die reg te buig” (Spr.17:23).
Solank as wat Afrika nie van korrupsie bevry word nie, sal dit die armste vasteland in die wêreld bly. Onbevoegde, geldgierige regeringslui roei Afrika uit en skep ʼn atmosfeer van verskrikking soos tans in Zimbabwe heers.
Korrupsie waai ook teen orkaansterkte in Suid-Afrika. Ons land gaan onder politici wie se korrupte lewens ensiklopedies groot is gebuk. Plaaslike nuusmedia berig feitlik daagliks van regeringslui skandale – wapen-skandale, reisskandale, die misbruik van openbare fondse, dokumentvervalsing, omkoopgeld ens. Dis die nuus van die dag!
Die regering se gewaande besorgdheid oor die opheffing van armes was is ʼn rookskerm. Dit was ʼn slenter om die deur vir korrupsie en selfverryking te open. Kyk maar wat Allan Boesak destyds met die buitelandse fondse vir hulpbehoewendes gedoen het!
In 2012 het die ouditeur-generaal rapporteer dat meer as R20 biljoen aan ongemagtigde uitgawes in Suid-Afrika bestee is en dat minstens R30 biljoen weens korrupsie verlore gegaan het. Van die 39 staatsdepartemente het slegs drie ʼn skoon oudit gehad.
Die plaaslike nuusmedia word weekliks oor hoëlui skandale, hulle verregaande leefstyl en belaglike uitgawes oorval. Ten spyte van die meer as R600 biljoen wat die staat in belastinggeld inwin, is daar nog elke jaar ʼn tekort van inkomste. Hospitale het ʼn tekort aan medisyne en skoolkinders moet sonder handboeke klaarkom. Korrupsie skilder voorwaar ʼn droewige prentjie!
Geen pen kan die omvang van die skade wat korrupsie Suid-Afrika aangedoen word, beskryf nie. ʼn Joernalis het dit met muise vergelyk wat in ʼn bos gevang en in beheer van ʼn kaasfabriek geplaas is! Ongelukkig het mense al so daaraan gewoond geraak, dat die skurke wat in weelde leef en geen noemenswaardige teenstand kry nie. Onverskilligheid is soos ʼn turbo-aanjaer vir korrupsie.
Korrupsie is egter nie ʼn alleenloper nie. Dis die vroedvrou van ontwrigting. Korrupsie gaan altyd met anargie, geweld, wetteloosheid en onsedelikheid gepaard. Korrupte gemeenskappe is gewoonlik altyd sedelose gemeenskappe. Baie van die korrupte lande word deur diktators gelei. Mag neig altyd na korrupsie en absolute mag maak alles korrup.
Korrupsie is sonde want dis wesentlik diefstal, iets wat God in die sesde gebod baie duidelik verbied. Wat dryf mense daartoe om hierdie gebod te oortree? Geldgierigheid. Mense wat hulle aan korrupsie skuldig maak, is nie noodwendig arm nie. Hulle het genoeg om van te leef, maar wil nog meer hê.
Let op die verskil tussen armoede en gierigheid; armoede is om dinge te benodig en gierigheid om alles te wil hê. Dit maak van korrupsie ʼn een-man strooptog en ʼn gruwel in die oë van God: “Die Here laat die regverdige nie honger ly nie, maar die begeerlikheid van die goddelose stoot Hy weg” (Spr.10:3).
Rykdom wat weens korrupsie verkry en by die dood aan erfgename bemaak word, bring ʼn vloek oor erfgename. “In die huis van die regverdige is ʼn groot skat, maar in die inkomste van die goddelose is verwarring” (Spr.15:6).
Korrupsie en omkopery is stalmaats en ʼn gruwel omdat dit die reg verdraai en wetsgehoorsame burgers daaronder laat lei. “Ook mag jy geen omkoopgeskenk aanneem nie; want die geskenk maak die siendes blind en verdraai die sake van die regverdiges” (Ex.23:8).
Korrupsie is vir elke landsleier ʼn versoeking. Wat ʼn voorbeeld was Samuel nie vir Israel nie! Die opskrif by 1 Sam.12 lui: Samuel doen verslag van sy amptelike werk. Samuel staan by geleentheid voor sy volk en sê: “Hier is ek; getuig teen my voor die Here en voor sy gesalfde; wie se bees ek geneem het, en wie se esel ek geneem het, en wie ek verdruk of hard behandel het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te maak – dan sal ek dit aan hom teruggee” (1 Sam.12:3). Samuel se korrupsievrye lewe was sy resep vir sinvolle leierskap.
Dit laat ons ook aan Saggeus dink. Hy was korrup, maar toe die Gees van God in hom begin werk en van sonde oortuig het, het hy korrupsie laat staan. Hy sê vir Jesus:: “... Here, kyk, die helfte van my goed gee ek vir die armes; en as ek van iemand iets afgepers het, gee ek dit vierdubbel terug” (Luk.19:8). Daarna sê Jesus “... Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom...” (:9).
ʼn Eerbare mens vind meer rus op sy bed as ’n korrupte koning op ’n troon. En dis waarna die mens smag – sielerus. Daarom sê Jesus: “Kom na My toe almal wat vermoeid en belas is en Ek sal julle rus gee” (Mt.11:28). Korrupsie jaag, vermoei en belas mense. Hoe kosbaar daarenteen is sielerus en vrede nie!
Korrupsie is soos selfopgelegde tronkstraf. Dit ontneem die mens van ware vryheid. Jesus het juis na die aarde gekom om sondaars van sonde te bevry. In Joh.8 sê Jesus dat die waarheid ons sal vrymaak. En dis net moontlik as ons die lewenspad reguit stap. Daar is geen tolgeld op die reguit pad van die lewe te betaal nie. Daarom lei die reguit pad altyd na die regte dinge in die lewe. Korrupsie daarenteen is ʼn donkerte van die siel; ’n maanlose nag sonder sterre.
’n Land wat deur eerbare leiers tot stand gebring is, kan egter nie deur korrupte politici in stand gehou word nie. Salomo sê in Spr.29:4 dat korrupsie ʼn land se ontwikkelingsmoontlikhede skaad. En dis waar. Kyk maar net na Suid-Afrika waar alles besig is om onder die gewig van korrupsie in duie te stort!
Daarbenewens maak korrupsie ook lande sag vir bewindsoorname. Neem maar net kommunisme as voorbeeld. Kommunisme het nog nooit in ʼn land vastrapplek verkry wat nie eers deur korrupsie geteister is nie. Suid-Afrika is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Korrupsie is wesenlik skadeliker as prostitusie. Prostitusie skaad enkelinge, maar korrupsie ʼn hele volk. Daarom beteken die einde van ʼn korrupte regering altyd groot vreugde vir ʼn volk!
In die tyd van die profeet Amos was korrupsie ook aan die orde van die dag. God het Israel deur die profeet gewaarsku dat Hy hulle werke sal oordeel: “Die Here het gesweer... Gewis, Ek sal in ewigheid nie een van hulle werke vergeet nie” (Amos 8:7). En en Hy het ook nie, want kort daarna is Israel deur die Assiriërs in ballingskap weggevoer.
Die Bybel eis dat gelowiges eerlike maatstawwe het – eerlike geld wat deur die werklike konstante waarde gerugsteun word: “Twee soorte gewigte, twee soorte maat – hulle al twee is vir die Here ʼn gruwel” (Spr.20:10). “Sal Ek rein kan wees by ʼn valse weegskaal en by ʼn sak vol bedrieglike gewigte? Want die rykes in die stad is vol geweld, en die inwoners daarvan spreek leuentaal en hulle tong is bedrog in hulle mond” (Miga 6:11,12).
Korrupsie neem oorhand toe omdat skurke nie vinnig en swaar genoeg gestraf word nie. “Omdat die oordeel oor ʼn verkeerde daad nie gou voltrek word nie, daarom is die hart van die mensekinders in hulle vol om kwaad te doen” (Pred.8:11).
ʼn Owerheid moet korrupsie teenstaan en vervolg: “Want hy is ʼn dienaar van God, jou ten goede. Maar as jy kwaad doen, vrees dan; want hy dra die swaard nie verniet nie, want hy is ʼn dienaar van God, ʼn wreker om die een wat kwaad doen, te straf” (Rom.13:4). “Wees dan onderdanig aan elke menslike verordening ter wille van die Here – of dit koning is of opperheer, of die goewerneurs as sy gesante, om wel kwaaddoeners te straf, maar die wat goed doen, te prys” (1 Pet.2:13,14).
Gelowiges moet eerbaar leef. Saggeus het destyds besef dat om ʼn oneerbare lewe te leef, hy self skoon moet wees. Een blinde kan nie ʼn ander blinde lei nie. Paulus skryf aan die Efesiërs: “...en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer” (Efes.5:11).
Daarom verskil ware volksleiers hemelsbreed van korrupte bedrieërs wat hul as leiers voordoen. Volksleiers het waardes; korrupte politici nie; hulle het slegs ʼn prys omdat hulle gewetens met geld vervang is. ʼn Mens hoor dikwels van mense wat geld vervals. Ek het al baie gesien hoe geld mense vervals!
Maar kom ons sluit op ʼn positiewe noot af. Daar gebeur soveel lelike dinge in ons land, dat dit ons maklik neerslagtig kan laat word. Laat ons egter met die vaste geloof in Christus positief bly en glo dat Hy op sy tyd ons van hierdie heidendom met sy korrupte amptenare wat ons al soveel jare teister, sal verlos.
Ons ontvang so baie uit God se hand. Kom ons gee van ons kant ʼn bietjie terug. Kom ons gee aan ons gebroke land ons onvoorwaardelike trou, aan ons dierbares ons beste, aan ons vriende ons lojaliteit, aan ons kinders ons mooiste voorbeeld, aan ons ouers die eer wat hulle toekom, aan ons volksgenote ons ongeveinste liefde wat hulle so nodig het en aan God die toewyding van ons hele lewe.